Topmatrieks: Mediese wetenskap lok slimkop

Leilani Cronje

Leilani Cronje

Sy wil haarself baie graag oor ’n paar jaar ’n dokter noem.

Só sê Leilani Cronjé, oudleerling van die Hoërskool Eldoraigne in Centurion, wat in die matriekeindeksamen agt onderskeidings behaal het.

Haar vakke was Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, rekeningkunde, besigheidstudies en lewensoriëntering. Sy gaan vanjaar medies by Kovsies studeer.

Volgens Leilani is sy dol daaroor om nuwe dinge te leer. “Ek hou van die buitelug en om saam met my vriende te kuier. Sport is vir my baie belangrik omdat ’n aktiewe leefstyl ’n groot deel van my lewe is.

“Ek stel baie belang in die menslike liggaam en alles wat daar binne-in aangaan. Ek wou van kleins af meer oor die biologiese wêreld weet.”

Leilani se lewensfilosofie is dat ‘n mens op twee maniere kan leef:

Òf alles is ’n wonderwerk, òf niks is nie. Ek glo vas dat alles in die lewe met ’n rede gebeur en dat God lankal reeds my pad vir my uitgelê het.

Haar akademiese sukses skryf sy aan harde werk toe. “My ouers het my dit van jongs af geleer en hulle ondersteuning en motivering speel ’n groot rol in my lewe.”

Volgens Leilani is haar ma, Bettie Jones, ’n onderwyseres, haar grootste rolmodel. “Sy het vandat ek klein is geglo ek sal groot dinge bereik en my altyd aangespoor om my beste te gee. Sy is ’n wonderlike mens en ek sal graag eendag soos sy wil wees.”

Leilani het op skool nie net in akademie uitgeblink nie. Sy was in die toptien in gr. 12 en sy het op hoërskool drie jaar lank vir die A-span netbal gespeel. Sy het ook aan atletiek deelgeneem en op laerskool Noord-Gauteng se kleure verwerf. Sy het aan kuns- en kultuurwedstryde deelgeneem en in gr. 9 ‘n danskompetisie in die Tshwane-distrik saam met haar vriende gewen.

Sy was ook verlede jaar deel van die leerlingraad.

Leilani sê sy is ’n tipiese mal tiener, wat van haar vriende en musiek hou. “Ek streef na die beste in my lewe en glo ek is tot alles in staat deur God wat my krag gee.”

Haar pa, Leon, is ’n rekenmeester en sy het nog nog ’n suster, Thailia, wat met haar Zuma-jaar as dieetkundige besig is, en ’n boetie Lian, wat nog op skool is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.