Topmatrieks: Michelle passievol oor haar land

Michelle Oelofse

Michelle Oelofse

Sy lees graag Afrikaanse fiksie en hou daarvan om op hoogte van plaaslike en internasionale nuus te wees.

So sê Michelle Oelofse van die Hoërskool Riebeeckstad in die Vrystaat, wat in die matriekeindeksamen sewe onderskeidings ingeoes het.

Sy het A’s behaal in Afrikaans, Engels, rekeningkunde, ekonomie, besigheidstudies, geografie en lewensoriëntering.

Die slimkop gaan vanjaar BCom regte studeer. Sy is nog nie seker of dit by Tukkies, Kovsies of Maties sal wees nie.

Michelle se lewensfilosofie is geskoei op die woorde van Ralph Waldo Emerson: “Moenie volg waar die pad lei nie. Gaan waar daar geen pad is nie en laat ’n wandelpad agter.”

Haar sukses skryf sy toe aan nuuskierigheid en leergierigheid. En natuurlik passievolle onderwysers.

Haar rolmodel is ma Mariëtte, ’n entrepreneur in die tekstielbedryf. “Sy is die sterkste mens wat ek ken. Sy is hardwerkend en altyd ’n ware dame.”

Op skool het Michelle aan redenaarskompetisies deelgeneem en sy was in 2012 die redakteur van die skoolkoerant. In 2013 was sy die voorsitter van die Voortrekkers se Vrystaatse Jeugraad. Sy het ook haar Presidentsverkenner-toekenning gekry met die hoogste gemiddeld van 94% in Suid-Afrika en Namibië.

Sy was ook hoofmeisie van haar skool en onderburgemeester van die junior stadsraad van die Matjhabeng-munisipaliteit.

Michelle beskou haarself as iemand wat passievol oor die land is en glo dat sy ʼn bydrae kan lewer in die ontwikkeling daarvan.

“Ek glo in regverdigheid en vorm my opinies eers nadat ek soveel moontlik inligting oor ʼn saak gekry het. Ek is trots op my organisatoriese vaardighede, maar weet ook dat ek aan my geduld moet werk.”

Michelle se pa Anton is ’n beroepsveiligheidsopleier. Sy het ook ʼn tweelingboetie en sussie, André en Nadine, wat in Kroonstad skoolgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.