Topmatrieks: Ouers stel voorbeeld vir Tarryn

Tarryn Forster

Tarryn Forster

Harde werk en goeie onderwysers. Dit is waaraan Tarryn Forster van die Hoërskool Ficksburg in die Vrystaat haar agt onderskeidings in die eindeksamen te danke het.

Tarryn het A’s gekry in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewenswetenskappe, ingenieursgrafika en -ontwerp, landbouwetenskappe, rekenaartoepassingstegnologie en lewensoriëntering.

Sy gaan vanjaar optometrie aan die Universiteit van die Vrystaat studeer.

Volgens Tarryn is haar ouers, pa Adrian en ma Amanda, albei onderwysers, haar belangrikste rolmodelle. “Van hulle het ek goeie waardes geleer en hulle stel vir my ’n goeie voorbeeld.”

Tarryn se lewensfilosofie is dat mens se houding bepaal hoe ver jy sal kom.

Ek beskou myself as ’n baie gelykmatige persoon en is elke dag dieselfde. My swak eienskap is dat ek soms te ernstig kan wees.

Tarryn het op skool verskeie prestasies behaal. Sy was dux-leerling, onder die top 100 in ’n landwye Engels-olimpiade en onder die top 50 in ’n olimpiade vir wiskunde en fisiese wetenskappe.

Sy het vir die eerste span hokkie gespeel en ook aan drama, redenaarskompetisies en debatte deelgeneem. Sy het ook musiektalent en sing en speel klavier en viool. Sy is ’n Presidentsverkenner by die Voortrekkers en was redaktrise van die skoolkoerant.

“Ek is baie positief oor die lewe. Ek hou baie van lag en dink nie mens moet jouself te ernstig opneem nie. Ek is mal oor kuier saam met vriende en rondreis. Ek glo egter mens moet eers jou verpligtinge nakom voordat jy sosiaal kan verkeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.