Tihan is een van 2014 se matriekuitblinkers en spog met nege onderskeidings. Hy het A’s in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, besigheidstudies, inligtingstegnologie, ingenieursgrafika en -ontwerp en lewensoriëntering.
Volgens Tihan het hy op meganiese ingenieurswese besluit sodat hy eendag in die motorindustrie kan werk. Hy sal graag ook vir ’n tyd lank by ’n groot motormaatskappy oorsee wil werk.
Op skool het hy rugby gespeel en geswem. Sy ander belangstellings is rekenaarspeletjies, kuier met vriende en buitelugaktiwiteite.
Sy sukses skryf hy aan harde werk en oplet in die klas toe. “En natuurlik ook goeie onderwysers en ’n goeie skool.”
As jy egter nie bereid is om hard te leer nie, sal jy nie ver kom nie.
Tihan se lewensfilosofie is dat mens alles wat jy wil bereik en wil wees deur harde werk kan regkry.
Hy het nie ’n spesifieke rolmodel nie omdat hy glo dat elke mens goeie eienskappe het waarna ander kan opkyk en kan nastreef.
Tihan is die seun van Stiaan, wat in Irak by ’n veiligheidsmaatskappy werk, en Hanlie, ’n rekenmeester. Hy het ook ’n jonger sussie, Miré, wat vanjaar in gr. 8 is.