Topmatrieks: Saschke dank haar Hemelse Vader

Saschke van der Merwe

Saschke van der Merwe

Saschke van der Merwe van die Hoërskool Goudveld in die Vrystaat spog met sewe onderskeidings.

Haar vakke was Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, rekeningkunde en lewensoriëntering. Dié slimkop gaan vanjaar medies aan die Universiteit van die Vrystaat studeer.

Sy skryf haar sukses toe aan harde werk, uitstekende onderrig en die hulp van haar Hemelse Vader wat aan haar haar talente gegee het. Saschke se lewensfilosofie is dat alles met God moontlik is. Sy glo daarin om elke dag voluit te leef en dat harde werk beloon word.

Saschke was egter nie heel jaar net agter die boeke nie. Sy was hoofmeisie van haar skool en onderhoofmeisie van die koshuis. Sy het ook aan olimpiades deelgeneem en was kaptein van die eerste hokkiespan.

Saschke sê sy het sy ’n positiewe uitkyk op die lewe en sy leef elke oomblik voluit. Sy hou daarvan om spontaan leiding te neem en is lief vir uitdagende projekte.

“My beste eienskap is my deursettingsvermoë en my swakste waarskynlik dat ek baie kompeterend is en soms te veel hooi op my vurk laai.” Saschke se ander belangstellings is musiek, dans, kulturele aktiwiteite en sy kuier ook graag saam met haar vriende.

Sy is die dogter van Pieter, ’n arbeidskonsultant, en Debbie, ’n persoonlike assistent. Sy het ook ’n broer, Pieter, wat ’n wiskundeonderwyser is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.