Topmatrieks: Slimkop het groot liefde vir kultuur

Jeanne-Lee Smit

Jeanne-Lee Smit

Jeanne-Lee Smit, verlede jaar se onderhoofdogter van die Hoërskool Zwartkop in Centurion, kon ondanks haar vol kultuurprogram steeds daarin slaag om agt onderskeidings in die matriekeindeksamen te behaal.

Sy het A’s in Afrikaans, Engels, wiskunde, dramatiese kunste, rekeningkunde, besigheidstudies, rekenaartoepassingstegnologie en lewensoriëntering behaal.

Jeanne-Lee gaan vanjaar BCom menslike hulpbronbestuur aan die Universiteit van Pretoria studeer.

“Ek sal steeds deel van verhoogproduksies wil wees, miskien as ʼn agtergrondakteur. Hoewel ek baie lief is vir drama, sal dit nie vir my ʼn vaste inkomste kan verseker nie. Gelukkig is ek lief vir mense en die sakesektor is vir my baie interessant.”

Jeanne-Lee was onder die top drie akademiese presteerders en het ook erekleure vir toneelspel ontvang. Sy was deel van haar skool se dramastuk “Die Joiner” wat tydens verlede jaar se Aardklop-kunstefees onder die top tien geëindig het in die ATKV se tienertoneelkompetisie.

Haar ma, Liza, is haar rolmodel.

Sy is ʼn enkelma wat alles vir my en my suster doen. Ek het soveel respek vir haar en sy is altyd bereid om ons te help. Sy is ook ʼn wiskunde-juffrou by ons skool.

Jeanne-Lee se advies aan toekomstige matrieks is: “Al is die akademiese druk erg, moenie jou ander aktiwiteite los nie, dit is goeie afleiding. Dit hou jou lewe gebalanseerd. Ek gaan my skooljare mis. Op elke vlak, van sport tot kultuur en akademie, kon jy jouself uitleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.