Topmatrieks: Tayla wil mense gesond maak

Tayla Botha

Tayla Botha

Tayla Botha van die Hoërskool Kalahari in Kuruman gaan vanjaar medies aan die Universiteit van die Vrystaat studeer.

Die slimkop het sewe onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal. Sy het A’s in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, ingenieursgrafika en -ontwerp en lewensoriëntering gekry.

“My lewensdroom is om ʼn dokter te word en ander mense te help. Ek wil hul lewensgehalte verbeter. Nuwe uitvindings in die mediese veld interesseer my. Ek wil medisynes kan voorskryf om mense gesond te maak.”

Tayla het van gr.1 tot gr.12 die top akademiese posisie in haar klas behaal. Sy was ‘n finalis in Volksblad se matrikulant van die jaar en was in 2012 ʼn uitruilstudent in Duitsland. Tayla was lid van die eerste hokkie- en tennisspanne. Sy is ook in 2013 gekies vir die Noord-Kaap se provinsiale tennisspan.

Haar rolmodel is die Suid-Afrikaner Rolene Strauss, die huidige Mej. Wêreld. “Sy studeer ook medies. Sy het al baie uitdagings ervaar en sy oorbrug dit met positiwiteit. Sy stel doelwitte en bereik dit.”

Tayla se ouers, Juan en Lynette, is albei onderwysers. “My ma het vir my in gr.1 klas gegee en my pa het in gr.12 vir my ingenieursgrafika en –ontwerp gegee. Hulle het die pad van begin tot einde saam met my gestap. Hulle is my ondersteuningsnetwerk.”

Haar raad aan ander leerders is: “Werk hard en jy sal die vrugte pluk. Sukses kom nie vanself nie.”

Gryp jou kanse aan, glo in jouself en bou daarop voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.