Topwenke: Slaan die eksamenspook hok!

Foto: nspt4kids.com

Foto: nspt4kids.com

Kom ons wees eerlik – meeste mense vrees eksamentyd! Sommige sluit hulself toe agter geslote deure en vergeet van die wêreld tot ná eksamentyd, ander hou partytjie om te vergeet van die stres, sommiges soek na motivering op die vreemdste plekke en ander kou bloot hulle naels.

Maroela Media het gaan ondersoek instel en ʼn paar wenke saamgestel wat sielkundig bewys is om jou te help met die leerproses, en sommer ook alternatiewe wenke is wat jou óf kan help leer, of sommer net vir ʼn giggel sal sorg.

Hiermee 20 wenke vir die eksamentyd:

1. Drink water
Reaksietye, responsiewe ingesteldheid en algehele geestelike verwerking is baie hoër wanneer jy gehidreer is. Skaf vir jouself ʼn waterbottel aan, en neem dit oral saam met jou. Onthou ook dat sommige vrugte en groente ʼn hoër waterinhoud as ander het, wat jou ook kan hidreer.

2. Verstaan die belangrikheid van die leerwerk
Studies het bewys mens leer makliker wanneer jy die belangrikheid van die werk in die groter prentjie insien. Probeer verstaan hoe die werk by jou lewe inpas en hoekom dit belangrik is om dit te verstaan, eerder as om net weg te val en iets te leer wat jy nie verstaan nie. Bestudeer dus die breër toepassing van alles wat jy leer sodat dit sin maak.

Foto: hercampus.com

Foto: hercampus.com

3. Stel vir jouself ʼn studieprogram op
Sukses word dikwels gekoppel aan die vermoë om struktuur in ’n mens se lewe te integreer en toe te pas. Stel vir jouself realistiese doelwitte – dis belangrik om te onthou dat vier leereenhede nie in dieselfde tyd as twee geleer kan word nie. Werk ook tye in die program in wanneer jy ʼn ruskans kan vat. Só ʼn studierooster, met aanvaarbare pouses, skep die “spasiëringseffek”, en verbeter langtermyngeheue. Jy kan jouself selfs met lekkergoed soos ʼn enkele “jellybaby” beloon wanneer jy ʼn sekere punt in die leerwerk bereik.

4. Verbreek die sogenaamde “blank
Mense wat leer, maak hiermee die grootste fout. Wanneer jy leer, en jy weet nie onmiddellik die antwoord op ʼn vraag nie, moenie sukkel en net voortgaan nie. Gaan soek die antwoord onmiddellik op, en leer dit van voor af. As jy net met die res van die vrae voortgaan, of liewer voortploeter en aansukkel, ontwikkel jy die sogenaamde “blank” wat jy ook dan in die toets kan ervaar.

5. Hou jou omgewing in gedagte
Die regte leeromgewing is uiters belangrik. Dié omgewing moet oor die algemeen skoon en stil wees, maar vir sommige mense werk ʼn nuwe omgewing ook: leer in ʼn ander vertrek in die huis, in die parkie of buite in die tuin. Toets jouself met die leerwerk om te sien of die spesifieke omgewing werk.

6. Bly weg van ʼn bed!
ʼn Bed word sielkundig verbind met slaap en ontspan. Hoewel sommige mense sê hulle leer doeltreffend wanneer hulle regop op die bed sit, is dit nie ʼn doeltreffende proses vir langtermynleer nie. Sit eerder by ʼn lessenaar of tafel.

7. Maak seker jy verstaan die werk
Maak seker jy verstaan dit wat jy leer. Vat ʼn ruskans en dink oor dit wat jy geleer het. Gaan jou werk deur en maak seker hoeveel daarvan jy werklik verstaan – hoe meer jy verstaan, hoe beter leer jy.

8. Toets jouself gereeld
Moenie wag tot die laaste dag voor die eksamen voor jy wegval met die leerwerk nie. Dit is belangrik om jouself deurlopend te toets en te evalueer. Dit help ook dat jy die werk vir ʼn langer tydperk kan onthou, en beter verstaan.

9. Maak ʼn opsomming
Vat al die inligting van een leereenheid, en som dit in twee of drie bladsye op met die sleutelinligting van elke vraag. Akronieme, rympies of beeldmateriaal soos grafieke help ook om die werk beter te onthou (byvoorbeeld ons sonnestelsel met sy planete en die dwergplaneet Pluto, kan jy onthou as: “Meneer Van As My Jas Sal U Nie Pas” – Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus, Pluto).

Foto: boardgamegalore.com

Foto: boardgamegalore.com

10. Warm jou brein op
Leerwerk word makliker onthou as jou brein “geestelik” opgewarm is. Speel bord- of rymspeletjies wat meer inspanning verg voordat jy begin leer. Dit maak jou ook meer ontvanklik vir die leerwerk.

11. Kry ʼn stokperdjie
Dit is belangrik om tyd af te staan aan iets anders as werk of leer. Die brein het tyd nodig om alles wat jy geleer het in oënskou te neem. ʼn Sport wat hand-oog-koördinasie vereis, is gewoonlik die beste. ʼn Studie het bewys só ʼn sportsoort wys ook ʼn toename in grysstof in die brein.

12. Gebruik verskeie media
Hoe meer mediums jy gebruik, hoe groter is die kans dat jy die werk sal onthou. Verskillende tipes media aktiveer verskillende gebiede van die brein, en ʼn mens onthou dinge vinniger en behou kennis beter as verskeie dele van die brein saamwerk aan ʼn spesifieke doelwit.

13. Stel toetse vooraf op
Vat jou notas en handboeke, en stel ʼn klein toets op. Vra dan een van jou ouers of vriende om jou onverwags van die vrae te vra. Dit verseker dat die brein heeltyd die inligting aktief hou, dat jy dit beter verstaan en dit vir langer tye onthou. Dit berei jou ook voor op die toets wat gaan kom.

14. Stel gevolge op om jou te motiveer
Baie mense bereik nie hulle doelwitte nie, omdat daar bloot geen gevolge is wanneer hulle dit nie doen nie. Soms help ʼn klein bietjie aansporing ook – sê vir jouself as jy swak punte kry, moet jy jou selfoon vir ʼn tyd lank aan jou ouers of vriende gee. Dié tipe motivering help jou soms om vinniger en meer doeltreffend te leer.

15. Oefening
Dit is ʼn wetenskaplike feit dat oefening jou meer doeltreffend laat leer. Selfs net 20 minute oefening voor die tyd kan jou geheue en algehele prestasie verbeter.

En vir diegene wat dalk nie op die tradisionele manier wil leer nie:

16. Kougom
Kou kougom wanneer jy leer, maar onthou watter geur dit was! Kou dan dieselfde geur kougom wanneer jy die toets skryf, om jou brein te herinner aan dieselfde tyd, plek en omstandighede toe jy die werk geleer het.

17. Lees hardop
Bly sommer ver weg van die biblioteek! Lees jou opsommings hardop – dit help jou om die werk beter te verstaan en vinniger te leer.

18. Maak ʼn storie
Die mens is ‘storiegedrewe’ – verwerk al die inligting uit jou notas in ʼn storie of verhaal om dit sodoende beter te kan onthou.

Foto: blog.questia.com

Foto: blog.questia.com

19. Lê onderstebo
Lê met jou rug op ʼn bank of oefenbal, terwyl jou kop ʼn klein bietjie na ondertoe hang. Sommige mense glo dié aksie stimuleer ander dele van die brein as wanneer jy kiertsregop sit, en laat jou dus meer inligting inneem en onthou.

20. Eet
Lê weg aan donker sjokolade, sushi of neute – dit gee jou breinkrag ʼn hupstoot en verbeter jou konsentrasie.

Bron: Greatist, examtime

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantal Trytsman ·

Dankie vir hierdie handige wenke-ek begin Augustus met my finale jaar verpleging en het al verskeie dinge probeer om werk te memoriseer (paar van hulle ook in die artikel genoem) en nou is daar ‘n paar ekstra wat ek vir seker gaan probeer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.