Tragedie én triomf van Trekkergeskiedenis hiér te vinde

Deur Petronel Fourie

Die Kaalvoetvrou. (Foto: Seugnet van Zyl)

In die beeldskone Oliviershoekbergpas, naby Harrismith op pad na die Natalse kus, is ʼn belangrike deel van die Voortrekkergeskiedenis in twee monumente vasgevang: Kerkenberg en die Kaalvoetvrou.

Net ses kilometer uitmekaar waak die monumente oor die Drakensberge, as bakens van vasberadenheid, vooruitstrewendheid en vryheid. Dit bied bewyse van ambisie wat tot aksie oorgegaan het en vergestalt identiteit, integriteit en inbors.

Op ʼn koel Augustus-oggend vat ons Nissan X-Trail die grondpad wat na dié monumente lei. Hoewel die berglandskap nog wintervaal is, kan ʼn mens nie anders as om jou aan die uitgestrektheid en grootsheid te verwonder nie, namate jy dieper die Drakensberge in ry.

Ons mik eerste vir die Kaalvoetvrou. Met ʼn bietjie bestuursvernuf en baie afwagting bereik ons die parkeerarea. Nou moet ons voetslaan, al met ʼn uitgetrapte paadjie, stuwend teen ʼn stormsterk wind berg op, totdat ʼn kop skielik sigbaar word. Met haar rug na KwaZulu-Natal gekeer en op pad terug na die Vrystaat, stap ons haar tegemoet.

Meeste bronne sê dis die beeltenis van Susanna Smit, vrou van eerwaarde Erasmus Smit en suster van Gerrit Maritz. Sy het in 1842 ʼn afvaardiging vroue gelei wat bykans drie uur lank met die Britse kolonel Henry Cloete oor die toekoms van die land onderhandel het, nadat Brittanje die Boererepubliek van Natal geannekseer het. Die gesprek is afgesluit met ʼn waarskuwing wat dié Afrikaner-gebore offisier van die Britse mag ontstel het: “Ons loop liewer kaalvoet terug oor die Drakensberg as om onder Britse juk te buig”.

Ander bronne beweer die Kaalvoetvrou is Mieta Kruger. Hoe dit ook al sy, voor ons staan ʼn Voortrekkervrou, in eenvoudige rok en kappie geklee, hand op die knie ná die strawwe stap teen die berg op, kaal voete besig om oor die kim te klim. Dit is vooruitsig wat uit haar gesig straal, visie wat in haar oë blink.

Die Kaalvoetvrou. (Foto: Petronel Fourie)

Die gedagte van die monument het by oom Fanie Maree ontstaan en hy het die grond op sy plaas beskikbaar gestel. Die bronsbeeld is deur Alfonso Smuts ontwerp en op 10 Oktober 1977 deur die Voortrekkerbeweging onthul.

Pres. CR Swart het by hierdie geleentheid gesê dat sy, die Afrikanervrou, wat miskien fisiek swakker as die man is, getoon het dat sy inherent baie sterkter is. “Sy was die een wat bemoedig en aangespoor het as die hande van die manne slap geword het vanweë die teleurstellings en probleme”.

Sollie Prinsloo wat nou die plaas besit, vertel dat Gerhard Moerdijk eers gevra is om ʼn monument soortgelyk aan die Voortrekkermonument in Pretoria, wat hy ontwerp het, daar op die Drakensberge te bou. Moerdijk het volgens oorlewering die terrein besoek, lank om hom rondgekyk en toe kopskuddend gesê dat hy nie met dié beeldskone landskap kon meeding nie.

Die Kaalvoetvrou. (Foto: Petronel Fourie)

Op die res van die plaas boer Prinsloo met beeste. Hy skraap die pad wat na die monumente lei en het die rigtingborde wat dit aandui uit sy eie sak aangebring. Hy het ook ʼn bergfietsbaan uitgelê en chalets vir besoekers gebou. Diegene wat sy roetes trap of stap sien nog die spore wat die ossewaens se remskoene tydens die Groot Trek gemaak het. Die kombinasie van geskiedenis en natuurskoon op dié stuk berg is regtig ʼn belewenis vir stedelinge.

Prinsloo onthou die kostelike verhaal van sy buurman se oorlede pa, oom Raymond Green. Kort ná die onthulling van die Kaalvoetvrou-monument het ʼn wegholveldbrand op die berg gewoed. Oom Raymond, toe reeds gevorderd in jare, het ʼn vrou naby die vuur gesien en hom wit geskrik.

Kerkenberg. (Foto: Petronel Fourie)

Met swaaiende arms en harde krete het hy probeer om haar uit die vuur se verswelgende pad te kry, maar sonder sukses. Die vlamme was reeds te verwoestend vir hom om haar self uit die vuur te ruk. Hewig ontsteld het hy huis toe gehol om hulp te ontbied. Met sy terugkeer het die vuur al bedaar, maar die vrou het sowaar nog op presies dieselfde plek gestaan. Hy het skoon vergeet van die nuwe standbeeld wat onlangs daar opgerig is! Oom Raymond is vir jare lank nog oor dié blaps geterg.

Ons neem afskeid van die formidabele Kaalvoetvrou en vat die pad na Kerkenberg. Dis hier waar Piet Retief en sy trekgeselskap in Oktober van 1837 aangekom het. Hy het die waens daar gelaat en met 14 man na Natal vooruitgegaan om ondersoek in te stel.

Erasmus Smit het die rant Kerkenberg genoem omdat dit hom aan ʼn kerk of ʼn plek van godsdienstige byeenkomste herinner het. As ʼn mens jouself 180 jaar die verlede in verplaas, kan jy jou indink dat hierdie hang ʼn baken van hoop was, ʼn skuiling en veilige vesting ná ʼn lang swerftog. Hier kon die elemente buite en warmte binnegehou word. Hier kon die trekgeselskap asem en moed skep.

Op 11 November het Coenraad en Piet Meyer met die blye tyding by Kerkenberg aangekom – die onderhandelinge met Dingaan was suksesvol en die waens kon die berge af gaan. Die volgende dag was Piet Retief se verjaardag en sy dogter, Debora Retief, het uit dankbaarheid vir wat haar vader in Natal uitgevoer het, sy naam en die datum op ʼn groot rots – tans bekend as die Retiefklip – by Kerkenberg geskrywe. ʼn Glaskas beskerm dié woorde vandag teen die elemente en vandale.

“Ons loop liewer kaalvoet terug oor die Drakensberg as om onder Britse juk te buig”. (Foto: Seugnet van Zyl)

Die eerste 18 waens het op 14 November 1837 berg af gegaan. Hul selfgemaakte pad, die Retiefspas, is in 1977 tot ʼn nasionale monument verklaar. Die wawiel was aan die rol en die toekoms het blink in Natal gewink. Maar die tragedie wat die Trekkers op 6 Februarie 1838 getref het, toe Piet Retief en sy geselskap deur Dingaan vermoor is, het die Trekkers ontnugter en ontredder gelaat.

Vandag ontferm die Erfenisstigting haar oor Kerkenberg en die Kaalvoetvrou. ʼn Span hou die terreine skoon en netjies, met die Drakensberg-omgewing se vrywillige erfenisbewaringskomitee wat ook moue oprol en inspring wanneer dit nodig is.

Die Kaalvoetvrou. (Foto: Petronel Fourie)

Riana Mulder van die Erfenisstigting vertel waarom dié instansie soveel moeite doen met monumente soos die afgeleë Kaalvoetvrou en Kerkenberg. “Erfenisterreine vorm ons identiteit en help ons om ons as unieke wesens te onderskei. Wanneer ʼn mens monumente soos hierdie twee besoek, ontdek jy ʼn stukkie van jou eie identiteit. Monumente gee immers gestalte aan dít wat ons voorouers belangrik geag het en aan die nageslag wil oordra.”

ʼn Warboel van emosies vang ʼn mens onkant wanneer jy Kerkenberg en die Kaalvoetvrou besoek. Die tragedie én triomf van die Voortrekkergeskiedenis wat sigbaar en tasbaar hier in herinnering geroep word, tref jou diep. Die Drakensberge trek laer rondom geskiedenis wat werd is om te bewaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wiegard ·

Baie dankie. Baie goed geslryf. Sal dit verseker vir my kinders gaan wys.

Kaalvoetvrou ·

Dankie en veral die beeld van die kaalvoetvrou na landskap vreeslik mooi net my hart breek oor ons lieflik land waarvoor baie voorouers en mense wat reeds gestrewe het.

Stephan de S ·

n Juweel…..hd artikel. So baie dankie daarvoor. Solank daar mense is wat ons geskiedenis so hoogag en lewend hou, solank sal daar Afrikaners wees. Mag hd nog n inspuiting vir ons kosbare erfenis wees. Mag ek lewenslank identifiseer met my mense.

Kallie Grafie ·

Eendag op skool, vertel die onnie ons hoe sleg graffiti is, en gebruik toe die uitdrukking, “Gekke en dwase skryf op mure en glase”.
Ek vra toe, “Maar wat van Debora Retief, wat op Kerkenberg se muur (sic) geskryf het?”
“Moet jou nie slim hou nie, hoor,” was haar ysige antwoord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.