Tragedie gee entrepreneur se drome vlerke

Nick Adriaans (Foto: Verskaf)

Nick Adriaans (Foto: Verskaf)

Ná sy ouers in 2010 etlike ure ná mekaar oorlede is, sy ma in ʼn rooftog en sy pa aan ʼn hartaanval, moes Nick Adriaans van Zeekoeivlei in die Wes-Kaap die stukke optel om self die pot aan die kook te hou.

Nick vertel die gebeure van daardie dag is in sy geheue geëts. Dit was die grootste tragedie van sy lewe, maar ook een wat hom gedwing het om sy drome vlerke te gee.

As die jongste van vyf kinders het hy by ʼn casino begin werk om sy familie geldelik te ondersteun, maar die idee van sy eie onderneming het reeds wortelgeskiet.

Hy het ná die dood van sy ouers ʼn gaping in die mark gesien toe sy bure op ʼn WhatsApp-groep gekla het oor onbetroubare tuiniers en tuintoerusting wat verdwyn. “Ek het my dienste begin adverteer op die WhatsApp-groep en baie mense het belanggestel. Dis ʼn gerusstelling vir die gemeenskap om te weet ʼn bekende gesig werk in hul tuin en nie ʼn vreemdeling  nie,” het hy verduidelik.

In 2014 het Nick sy spaargeld van R70 000, asook al die kennis wat hy met navorsing opgedoen het, gebruik om tuingereedskap en ʼn tweedehandse bakkie te koop. Hiermee het hy sy onderneming, Lawn in Order, op die been gebring.

Nick vertel hy was voortdurend op die uitkyk vir geleenthede om by kenners kers op te steek en in 2015 het hy ʼn advertensie gesien van die niewinsgewende organisasie Life Choices wat toe pas ʼn projek vir jong entrepreneurs aangekondig het.

“Ek het ʼn kans gewaag en ingeskryf vir die New Ventures-kursus. Dit het my lewe verander, want dit het my onderneming na ʼn nuwe vlak gevat. Ek het besef hoe min ek eintlik weet van aspekte soos kliëntediens en marknavorsing.”

Met behulp van dié kursus kon hy daarin slaag om sy maatskappy te registreer, ʼn korporatiewe identiteit te ontwikkel, bemarking te doen en ʼn webwerf te ontwikkel.

Nick gebruik sy onderneming as ʼn geleentheid om ander te bemagtig en te onderrig. “Ons tuindienste is omgewingsvriendelik en ons deel graag wenke met ons kliënte. Ons tuiniers kry ‘groen’ opleiding sodat hulle ook ʼn verskil kan maak.”

Met ʼn span tuiniers wat saam met hom werk, het dié onderneming ook werk vir ander geskep. Elke tuindiens deur Lawn in Order sluit ʼn spesiale “geskenk” in – ʼn gratis ekstra wat enigiets kan wees van die skoonmaak van vullisdromme tot die afpluk van dooie blomkoppe.

Lawn in Order is tans grotendeels in die suidelike voorstede van Kaapstad bedrywig, maar Nick is gretig om sy onderneming na nog gebiede uit te brei.

Vir meer inligting, besoek New Ventures se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JC ·

Jinne, wat ‘n oulike mens!
Ek wens Nick ALLE sterkte toe met sy besigheid en Lewe!

m ·

Dit kan nie maklik wees om beide jou ouers te verloor nie. Sterkte met jou besigheid Nick.

SNEL ·

Ek haal my hoed vir hom af. Dis n yster van n seun, sy ouers sou baie trots op hom gewees het. Baie sterkte vir jou op jou pad vorentoe.

SNEL ·

En ek wou nog sê, alle sukses, mag jou besigheid net aanhou groei.

E.K. ·

Man jy is nou wraggies ‘n voorbeeld vir die jong klomp. Ek hoor so gereeld klagtes daar is nie werk nie, maar kyk wat hy met ‘n positiewe houding uitgerig en dit na ‘n familie tragedie ook nog! Mens moet net om jou kyk en ophou dink sekere werk is net vir sekere mense of dat jy te goed is vir party werke. Hoop jou besigheid groei net meer en meer!

Schalk ·

Jong man Jy is met reg ‘n wenner. Ek hoop jy kry nog meer vlerke in jou besigheid.
As ‘n besigheidseienaar kan ek reeds sien jy gaan jou dienste uitbrei na die volgende vlak.
Miskien ‘n sleepwa met kunsmis , kompos en pothouers vir nuwe en jong plante.
Sterkte

Sarie ·

Nick, ek lees die berig met trane in my oë. Jy is ñ seun om op trots te wees – en ek is seker jou hele familie is! Jy is vir ons almal ñ goeie voorbeeld. Wens meer jongmense wat heeldag op hul selfone en voor die TV lê, wil jou guts kry. Trots op jou, al ken ek jou van geen kant!

Maria van Dieweeck ·

Ditto Sarie! As jong mense net kan besef hoe hul tyd gemors word…

Charmaine ·

Mazeltof Nick ! Mag jou besigheid groei van krag tot krag. Ons oumense voel baie veilig as ons noodsaaklike dienste deur betroubare mense gedoen word. EEEEEn ons betaal kontant dadelik so geen boekhouding nodig en dit spaar jou baie onkostes. Groete en alle sukses vorentoe.

BOLANDER ·

Nick jy is ‘n voorbeeld vir baie jong mense. JONG MENSE, LEES HIERDIE BERIG EN NEEM KENNIS ASB. !!!!!! DAN SAL DIT SOMMER OOK ‘N BETER PLEK VAN ONS LAND SE TOEKOMS MAAK. DAAR IS SO BAIE JONG MENSE WAT GEEN TOEKOMS DROME HET NIE EN OOK GEEN DRYF KRAG NIE. WORD WAKKER WANT DAAR IS MANIERE!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.