Tragiese ongeluk stuit nie LLB-student se groot droom

Ruván Tarbitt. (Foto: Verskaf)

In sy gr. 11-jaar het die 20-jarige Ruván Tarbitt ʼn tragiese lugballonongeluk beleef waarin talle passasiers beseer is, van wie een aan haar beserings beswyk het.

Onder die beseerdes was Tarbitt, vandag ʼn 20-jarige LLB-student aan Akademia, se ma en kleinsussie, toe vyf jaar oud.

Weens die aard van hulle beserings moes sy ma en kleinsussie in die hospitaal behandel word en hulle mediese onkoste het uiteindelik meer as R1 miljoen beloop.

Kort daarna het sy stiefpa in ʼn onverwante voorval gesterf, en Tarbitt het alleen oorgebly om na sy ma, kleinsussie en broer om te sien.

“Vir ses maande, te midde van my gr. 11-eindeksamen, het ek die verlies van my stiefpa, die verantwoordelikheid van die huishouding en die versorging van my ma, kleinsussie en broer op my skouers gedra,” vertel Tarbitt.

Weens die uitermatige mediese onkoste en begrafnisuitgawes wat die ongeluk en sy stiefpa se afsterwe tot gevolg gehad het, asook die ander maandelikse huishoudelike uitgawes, was dit vir sy gesin onmoontlik om tersiêre studiekoste te betaal.

“Ek het egter, ondanks my omstandighede, volhard en uiteindelik in 2019 my matriekjaar met lof geslaag,” vertel Tarbitt trots.

Sy paaie het in 2020 met die Helpende Hand Studietrust (HHST) gekruis en te danke aan ʼn rentevrye studielening wat deur dié trust aan hom toegeken is, is hy vandag ʼn tweedejaar-LLB-student aan Akademia.

Die Helpende Hand Studietrust is ʼn geregistreerde niewinsgewende organisasie wat ten doel het om hulpbehoewende studente se studie deur middel van rentevrye studielenings moontlik te maak.

Vir meer inligting of om ʼn skenking aan die HHST te maak, besoek https://helpendehand.co.za/studiefondssentrum/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AmY ·

Welgedaan jongman.
Jy gaan nog hoë hoogtes bereik.
Sterkte met alles wat jy aanpak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.