Trane van blydskap op 21ste verjaarsdag, ná ma se dood

Naomi praat met Lindie Strydom (Foto: Christine Henrico)

Naomi du Plooy moes op die ouderdom van 16, ná haar ma se dood, omsien na haar jonger boetie en sussie.

Sy het die rol as ma so goed moontlik vervul, maar op haar 21ste verjaarsdag wou Groot FM seker maak dat sy lekker bederf word ná alles wat sy deurgemaak het.

Du Plooy, wat vandag (Woensdag) 21 jaar oud word, is by haar werkplek deur Groot FM verras nadat ʼn familievriend, Petrus van Wyngaardt, hulle van haar storie vertel het.

Toe Du Plooy se ma in 2015 oorlede is, was sy 16 jaar oud, haar boetie 15 en haar sussie 10.

Naomi sien haar oom aangestap kom (Foto: Christine Henrico)

“Ek het die rol as ma aangeneem. Net ná my ma se dood het my sussie my gevra of ek nou haar nuwe mamma gaan wees, so ek moes dit doen. Ek het probeer om daar te wees vir hulle, maar omdat ek nog so jonk was, het ek ook maar nie geweet wat dit beteken nie,” het sy gesê.

“Ons het eers by mense gebly en hulle het nogal mooi na ons gekyk, maar die mense se dogter het ons emosioneel begin afbreek. Ons het dit drie jaar lank verdra, maar toe het ek met my oom daaroor begin praat,” het Du Plooy aan Maroela Media vertel.

Du Plooy het gesê dat die welsyn hulle in 2017 na ʼn kinderhuis wou oorplaas, maar hulle oom, Phillip Olivier, het aangebied om hulle in te neem.

Omdat Du Plooy se sussie nog te jonk is om deur ʼn familie ingeneem te word, is sy in ʼn kinderhuis geplaas.

Groot FM het dit goedgedink om Dinsdag vir Du Plooy ʼn geskenksak vol verrassings te vat om haar 21ste verjaarsdag behoorlik te vier. Hulle het haar by die kleuterskool, waar sy ʼn onderwyseres is, gaan verras.

Naomi praat met Lindie Strydom saam met haar Oom Phillip (Foto: Christine Henrico)

“Ek het eers my oom raakgesien met pakkies in sy hande. Ek het net gedink: ‘Dit is nie vandag my verjaarsdag nie, wat maak hy hier?’. Maar toe gewaar ek vir Lindie Strydom, en ek het haar altyd op Egoli gesien.”

“Sy het nader gestap en ek het gehoor sy praat oor die selfoon en sê iets van Groot FM, en tóé weet ek hier is iets aan die gang. Dit was ʼn groot verrassing en ek het dit regtig glad nie verwag nie,” het sy gesê.

Naomi du Plooy (Foto: Christine Henrico)

Groot FM het onder meer vir haar geskenkbewyse gegee om haar hare te laat versorg, vir ʼn massering te gaan, ʼn stel wimpers, ʼn manikuur en pedikuur, asook ʼn klomp bederfprodukte. Hulle het ook vir haar kolwyntjies en ʼn koevert met kontant en ʼn nuwe selfoon gegee.

“Die geskenke beteken regtig baie vir my. Vandat ek begin werk het, wou ek my hare laat doen, maar ek kry nie ʼn baie groot salaris nie, so ek kon dit nooit bekostig nie. Nou kan ek dit maak soos ek nog altyd wou; ek het nou die geleentheid. Dit is net vir my wow. Ek kan dit nie glo nie – ek het dit glad nie verwag nie.”

Du Plooy het gesê sy het nie veel ander planne vir haar 21ste verjaarsdag nie, maar wil net graag ná werk by haar sussie in die kinderhuis gaan kuier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Nicks ·

So mooi storie. Hoop sy kan haar sussie gaan haal om by haar te bly…

LD ·

Maar hoe oud is die kleinsussie dan nou en hoekom moet sy steeds in die kinderhuis wees? Op watter ouderdom mag hulle uit die kinderhuis gaan en by ñ familielid gaan woon? Ek vra want ek weet nie hoe dit werk nie…..

Karen van Bosch ·

Hoe jonger ‘n kind is, des te meer rede om eerder by familie as ‘n Kinderhuis geplaas te word. Ek werk by ‘n Kinderhuis en ons almal hier weet dat die kinders wat by ons geplaas word, NIE familie het wat geskik is om na hulle om te sien nie.

Trane ·

Ek lees jou storie met trane in my oe, en meegevoel in my hart. Ek was 13jaar toe my ma en haar suster en my ouma in n ongeluk oorlede is net my niggie en ek wat oorleef het. Ons 2 het alleen in n huis gebly…my pa het by n ander vrou gaan bly….ons 2 het alleen gebly party dae sonder kos…maar ons het oorleef.

Sam ·

Ek verstaan nie altyd die welsynstelsel nie, want tog is dit uit die berig duidelik dat Naomi se toesigboor haar jongste sussie tot die kleinsus se voordeel is. Hoe kan ‘n kinderhuis ooit die sekuriteit van familieskap vervang as daar familie is wat bereid is om die verantwoordelikheid te dra? As haar suster vir ‘n hele klassie kleuters verantwoordelikheid kan ervaar, waarom nie vir haar nou 15-jarige bloedsuster nie?!

Thea ·

Baie geluk met jou 21ste verjaardag Naomi mag jou pad vorentoe met liefde, geluk en tonne seeninge gevul wees!
Lindie van Eeden jy doen wonderlike werk hou so aan en dankie vir jou bydrae tot die mensdom??

Willem ·

Baie geluk met jou verjaardag jonge dame. Mag jy ‘n baie gelukkige verjaardag hê saam met jou sussie en boetie. Dankie Maroela Media vir die “goeie nuus” berig.

VanAfrika ·

Nou verstaan ek nie, hoekom moes die jong sussie tehuis toe gaan? Die oom het dan aangebied om vir hulle te sorg. Dis so simpel om die kinders te skei net omdat sy “te jonk” is.

Annie ·

Ons is as babas “weggegee” en het by pleegouers en kinderhuise groot geword. Uit ‘n huwelik van 3 is daar toe 8 kinders met verskillende ma’s en pa’s. Ek het eers my broers en susters op 14 ontmoet, om net weer na ‘n jaar uitgeplaas te word nadat die kinderhuis toegemaak het, so het ons eers weer na 20 jaar mekaar opgesoek. Ons was deur die hele land gesaai. Maar ek is wat ek is vandag deur
liefdevolle kinderhuis personeel, ‘n goeie Christus opvoeding, ek kan nie die verlede verander nie, maar deur God se genade sien ek nog steeds uit na die toekoms op 67 jaar.

nannie ·

Baie geluk met jou verjaarsdag. Mag jy geseen word vir dit wat jy doen en ek glo jou sussie is 1 van die dae by julle.

vonnie ·

hoe laat julle my nou tjank! geluk met jou verjaarsdag meisiekind. jy is ‘n voorbeeld vir vele

Vra net ·

Is daar nie n manier waarop mens haar kan help sodat sy vir haar sussie kan sorg nie? N R10tjie hier en daar miskien?

Melanie ·

Ek stem Vra net. R10 is baie min en baie mense sal kan help.

Marinda ·

Huil ek nou soos ñ baba oor hierdie berig. Dankie Lindie. Sterkte Naomi. My hart bloei vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.