Trap fiets vir kinders met spesiale behoeftes

hannes-viljoen-947-fietswedren-2018

Hannes Viljoen op sy fiets in die VSA besig om voor te berei vir die plaaslike 94.7-fietswedren. Foto: Facebook.

Hannes Viljoen en ʼn groepie bekendes wil ywerige fietsryers vanjaar uitdaag om aan die 94.7-fietswedren deel te neem om so hoop vir gesinne met spesiale behoeftes te bring.

“Ons as fietsryers gaan ʼn waentjie sleep en as span beurte maak om die waentjie te trek. Die hele idee is om ʼn paar standpunte te stel, onder meer dat ‘ons nooit ʼn beseerde agterlaat nie’ en dat ‘ons saam soveel sterker is’.

“Bekende spesialebehoefte-kinders soos Pippie [die negejarige meisie wat erge brandwonde opgedoen het], Nickholis [wat behandeling vir sy outisme ontvang] en my seuntjie Gian [wat met Down se sindroom gediagnoseer is] en ander kinders wat outisme, Down se sindroom en serebrale verlamming het, sal die geleentheid kry om saam op die waentjie te ry,” sê Hannes.

Volgens hom het sy planne nie heeltemal uitgewerk soos wat hy aanvanklik gehoop het nie, want hy wou gehad het ouers van kinders met spesiale behoeftes moet kom saam fietstrap.

“Wat toe gebeur het, het my hart soveel meer hoop gegee dat ek dit eintlik van die dakke wil afskree: ‘die gemeenskap gee om!’

“Daar het reeds 50 mense, wat nie kinders met spesiale behoeftes het nie, ingestem om saam te ry. Talle bekendes het ingewillig om hulle tyd af te staan en te sweet om hierdie boodskap van hoop uit te dra,” vertel Hannes en ʼn mens kan sommer uit sy stem hoor hoe hy glimlag van opgewondenheid oor mense se belangstelling om aan die resies deel te neem.

Mense soos Stephen Segal, Mnr. SA 2009, David Konrad van Binnelanders, Anice en haar dogter Pippie, en lede van die musiekgroep Joshua na die Reën, asook dr. Anton Janse van Rensburg, die hoofspreker wat gereeld by Brain Child-stigting en Family Hope Center se geleenthede optree, het ingestem om fiets te trap vir die goeie doel.

Van hierdie fietsryers het vir Hannes vertel hoe die stories van ouers met gestremde kinders hulle harte aangegryp het.

“Hulle het vir my gesê dit gryp hulle aan om te hoor daar is ouers wat deur die nag skofte slaap by die huis net sodat hulle hul kind aan die lewe kan hou. Daar is ook ouers wat hulle motorhuis in ʼn miniatuur-hoësorgeenheid omskep het sodat die ouers hulle kind 24 uur kan hulp gee en lewend hou omdat daar ʼn belofte is oor hierdie kind en sy toekoms.”

Hannes, wat self die pa is van vier kinders van wie drie spesiale behoeftes het, weet goed wat die uitdagings vir hierdie soort gesinne is. Hy en sy vrou, Jana, het al voorheen in Maroela Media se ateljee kom kuier en hulle besonderse gesin se storie van hoop gedeel.

Een van die uitdagings van hierdie soort gesinne, veral ouers, is dat hulle dikwels geïsoleerd, oorweldig en sonder hoop voel terwyl hulle met hulle kinders se unieke uitdagings worstel.

Die Viljoens het die Brain Child-stigting op die been gebring om eers hulle eie gesin met finansiële uitdagings te help.

Jana, Kyna, Leo, Abigale, Hannes en Gian Viljoen geniet die wintersneeu in die VSA. Foto: Verskaf.

Hulle het gereeld die VSA besoek waar hulle die Family Hope Center se ontwikkelingsprogramme vir hulle kinders gevolg en ongelooflike resultate gesien het van hoe hulle kinders se ontwikkeling verbeter het.

Die Viljoens woon deesdae in Pennsilvanië in die VSA en gebruik nou die Brain Child-stigting om ander gesinne met spesialebehoefte-kinders in Suid-Afrika en Namibië by te staan. Hulle bring ook die Family Hope Center gereeld na Suid-Afrika om praatjies hier te lewer en maak juis weer in Februarie 2019 so.

“Ons wil so graag hoop aan hierdie besonderse gemeenskap gee en nog ryers die kans gee om by ons aan te sluit,” sê Hannes.

Die sluitingsdatum vir die 94.7-fietswedren se inskrywings is Donderdag 20 September. Fietsryers wat nog graag saam met die stigting wil ry, kan ʼn skakel op BrainChildFund.org kry wat hulle al die inligting oor die wedren se inskrywings sal verskaf.

  • Hannes Viljoen het van Pennsilvanië in die VSA met Esté Meyer Jansen gesels oor die Brain Child-stigting se planne vir die 94.7-fietswedren. Luister na die gesprek boaan hierdie artikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oljetter ·

So, trapfiets is nou skielik twee woorde? As mens vir die publiek skryf behoort jy van beter te weet.

Mariné Lourens ·

Dagsê Oljetter

Baie dankie vir jou kommentaar. In hierdie geval, is “trap” ʼn werkwoord en verwys die opskrif dus nie na ʼn “trapfiets” nie.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.