Tree vir tree op die geloofspad

Peet Bekker (Foto: Verskaf)

Deur Elize Perrin

’n Oupa se oggendgesprekke met die Here, agter ’n toe studeerkamerdeur, het ’n klein seuntjie se begeerte geprikkel om ook so ’n intieme verhouding met sy Skepper te hê. Daardie seuntjie is Peet Bekker. Vandag stap hy letterlik sy eie geloofspad met die Here. Deel van sy reis is om vir dorpe te bid.

Die eerste tree

As ’n klein seuntjie het Peet menige oggend ligdag voor sy oupa se toe studeerkamerdeur gesit en luister hoe sy oupa hardop met God gesels. Sy oupa, Johan van der Merwe, sou die gesprek begin met: “Môre Here. Dis van der Merwe hier.”

“In die gesels kon ek ’n diepe intimiteit en vrede aanvoel,” vertel Peet. “Tog was ek altyd te bang om daardie deur oop te maak Ek was bang dat ek God daar by my oupa sou sien sit.”

By Peet self het ’n intense verlange ontstaan om dieselfde intieme verhouding met God te kon hê. So met die aanstap van die jare het hy ook gepoog om agter ’n toe studeerkamerdeur ’n verhouding met God te bou. Dit het egter nie vir hom gewerk nie.

Die begin van die pad

Volgens Peet is hy sy hele lewe al lief om ongehoorde afstande te stap.

“In die weermag was ek verras om te sien hoe fikse soldate ook hul perke bereik wanneer ons op vasbytstaptogte gegaan het. Dan het ek gewoonlik die manne gehelp om hul swaar wapenrusting te dra,” vertel hy.

“Jare later, toe ek iewers heen gestap het, het ek besef dat dit slegs agter ’n toe deur is waar ek sukkel om intiem met God te verkeer. Ek het begin verstaan dat ek makliker met God gesels en bid wanneer ek stap en rondbeweeg. Daar het ’n nuwe dimensie in my verhouding met God oopgebreek.”

’n Dag in 2002 was vir hom ’n keerpunt. Tydens ’n staptog in die veld het hy hom verkyk aan die lang grasse, die kosmosprag en die blou van die berge rondom hom.

“Ek het spontaan vir die Here gesê hoe ek dit geniet om saam met Hom te stap en met Hom te gesels. Ek het sy stem in my hart gehoor met die woorde: ‘Dit is hoekom Ek jou gemaak het’.”

Vir Peet was dit die antwoord waarna hy op soek was.

“Ek het in daardie oomblik presies verstaan waarom ek op aarde is,” sê hy. “Ek is hier om te stap en bid. Ek het van daardie dag af ’n dieper wandel met God begin soek… en Hom op die mees onverwagse plekke gevind. Ek het ook geleer dat dit ’n voortdurende proses is om die stem van God te soek, te hoor en te gehoorsaam.”

 Waar die pad ook al heen lei

“Ek het my lewe so begin inrig dat wanneer die Here sou vra wie hy kan stuur, ek gereed sou wees om te antwoord: Hier is ek, stuur my. (Jes. 6:8),” vertel Peet.

Volgens hom is sy rugsak voortdurend gepak en gereed om net te vat. Geen beplanning, soos waar om sy kop in die nag neer te lê, word vooraf gedoen nie.

“Ek het geleer om alles in God se hande te los,” sê hy. “My gebedstaptogte het geeskragtige wandelinge in die geloof geword.”

Peet stap waar die Here hom lei.

“Gewoonlik lê Hy die name van dorpe op my hart,” sê hy. “Dan moet ek my tent in my rugsak pak, met genoeg kos en water, en daarheen reis om dan van dorp-tot-dorp te stap.”

Alhoewel sommige dorpe naby mekaar geleë is, kan ander tot drie weke neem om te bereik. Peet het die versekering dat hy nie alleen stap nie. Medegelowiges koester hom in gebed.

“Ek het oor die jare menige kosbare sielsgenote op ver en eensame paaie ontmoet. Hierdie netwerk van mense word mettertyd my medegebedsgenote,” sê hy. “Ek kry menigmaal ’n boodskap van ’n jong meisie uit Pretoria wat my verseker dat sy in die gees saam met my stap. Sy is in ’n rolstoel vasgekluister.”

Skoensole wat nie deurloop nie

Meet elke gebedstog is Peet verseker dat die Here sal voorsien.

“Ek neem ’n tent saam, maar soms word ek genooi om by mense te oornag. Dan gesels ons heerlik oor ’n feesmaal. So was ek al ’n gas in rykmanspaleise, asook in ghetto’s in Afrika.”

’n Staptog wat vir hom uitstaan, was ’n voorbereidingstog in Nieu-Seeland om ’n gevoel van die geestelike lewe in dié land te kry.

“Ek het drie agtereenvolgende weke kerkdienste in verskillende denominasies bygewoon,” vertel hy. “Die eerste Sondag het ’n onbekende vrou ná afloop van die diens vir my kom sê dat die Here iets op haar hart gelê het om met my te deel. Sy het genoem dat die Israeliete se skoene gedurende die veertig jaar wat hulle in die woestyn was, glad nie deurgeloop het nie.”

Hierdie boodskap is die tweede en derde Sondag aan Peet herhaal. Weer deur vroue wat hy nie geken het nie.

Ná dertig dae op die pad was sy skoensole deurgeloop. Klippies het sy voete seergemaak. Al wat hy kon doen, is om oor die saak e bid.

“Die volgende dag het my selfoon in my sak gelui,” sê hy. “Dit was ’n vrou wat gehoor het van die gebedstaptog. God het aan haar gesê om na ’n sportwinkel te gaan en te kyk wat die prys vir die beste paar stapskoene was. Daardie bedrag moes sy in my bankrekening inbetaal.”

“Dit was dertien jaar gelede,” vertel Peet. “Tot vandag toe het ek nooit weer nodig gehad om skoene te koop nie.”

Die steiltes

Alhoewel hy weens Covid-19 een van sy langste gebedstogte moes uitstel, kon hy wel nog togte onderneem.

“Die pad waarop ek in dorre plekke stap, is net soos hierdie pad wat ons land nou stap,” sê hy. “Dis ’n genadelose pad, maar vol genade.”

“Die boodskap van hoop wat ek uit die staptogte kry, is dat wanneer God na ons kyk, Hy ons anders sien as wanneer mense na ons kyk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Boerkind ·

Wat ‘n wonderlike en uitsonderlike getuienis! Mag ons dieselfde pad met die Here ervaar en Hy met ons. Here, dankie vir Peet Bekker – bewaar, seën en gebruik hom tot U eer….. U is groot en vol van genade en liefde.

OW ·

Sterkte op die geloofspad broer.Jesus Christus het nie verniet vir ons kom leer hoe om ons roeping uit te leef nie.Elke mens se scenario is anders en jy sal weet wanneer joune reg is.

Johan ·

My Boeta, jy saai in gehoorsaamheid, gewilligheid en nederigheid en die hemel sal wys hoe groot die oes is. Ek sal jou naam noem as ons bid vir uitbreiding van God se koninkryk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.