Trekroetetuin se erfenis blom

ʼn Replika van Susanna Catherina Smit se beeld, beter bekend as die Kaalvoetvrou, pronk nou op die koppie van die Voortrekkermonument. (Foto: Verskaf)

Die historiese trekroetetuin by die Voortrekkermonument raak al hoe ryker aan kultuurerfenis.

ʼn Replika van Susanna Catherina Smit se beeld, beter bekend as die Kaalvoetvrou, pronk nou op die koppie van die Voortrekkermonument. Dit is die mees onlangse toevoeging van replikas van historiese monumente wat vandag in dié tuin onthul is.

Smit se storie is ʼn interessante tog hartseer verhaal. Sy was die vrou van eerwaarde Erasmus Smit wat as predikant in die Voortrekkers gedien het en sy was ook die suster van Gert Maritz.

ʼn Groep van 400 vroue wat deel was van die Piet Retief-trek het die lowergroen weivelde van Natal gekies waar hulle hul wortels wou vestig. Volgens oorvertelling het van die Voortrekkervroue ʼn woordewisseling met Henry Cloete, Britse kommissaris van Natal, gehad.

Hulle het met hom gestry omdat hulle nie onder die Britse gesag wou dien nie en dat hulle vryheid vir hulle meer werd is as hulle lewens. Dit is toe dat Susanna Smit die bekende woorde uiter: “Liewer kaalvoet terug oor die Drakensberg as om onder Britse beheer te staan.” Susanna is egter in die destydse Natal dood, wat beteken dat sy nooit kaalvoet terug oor die Drakensberg geloop het nie.

Die oorspronklike beeld is deur een van die bekendste Afrikanerkunstenaars, Alfonso Smuts, gemaak.

Van links na regs: Jaco van Niekerk, die beeldhouer van die replika; Endriëtta Janse van Rensburg en dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument. (Foto: Verskaf)

Jaco van Niekerk, die beeldhouer van die replika, se trots kan hy nie inhou nie. “Ek het die geleentheid om ʼn deel van die geskiedenis uit te beeld en dit is werklik ʼn enorme voorreg om die beeld van Susanna Smit te kon maak.”

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, sê dit is een van die besonderste beelde met ʼn fantastiese betekenis.

“Dis werklik ʼn ongelooflike beeld met ʼn baie diep betekenis. Dit is ’n voorreg vir die monument om so beeld in die historiese tuin te kan hê. Susanna Smit se storie is inspirerend en dit is wat ons hier by die monument doen, ons gee ʼn boodskap van hoop,” sê Langner.

Endriëtta Janse van Rensburg van die lewende laer het ook die onthulling bygewoon.

“Ons het self ʼn paar jaar terug saam met ʼn groep kinders met vier kakebeenossewaens die Retiefpas afgetrek en ons het by die Kaalvoetvrou-monument gestop. Dit bring soveel herinneringe terug; mens raak skoon emosioneel,” vertel Janse van Rensburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.