Trekroetetuin word buitelugavontuur vir hele gesin

Voortrekkers onthul die replika van die Geloftekerk in die Historiese trekroetetuin. (Foto: Verskaf)

Die historiese trekroetetuin by die Voortrekkermonument in Pretoria, wat in 1963 voltooi is, het in 2021 ’n nuwe baadjie aangetrek.

In hierdie fokustuin word die roetes van die Groot Trek se vyf Voortrekkerleiers – Louis Trichardt, Hendrik Potgieter, Gerrit Maritz, Piet Retief en Piet Uys – aangedui.

Die trekroetetuin is Donderdag, in die jaar wat die 183ste herdenking van die aflê van die Gelofte deur Sarel Cilliers is, vir die publiek geopen. Emile Nel, ’n afstammeling van Cilliers, het die Gelofte opnuut weer voorgelees.

Dié tuin is juis vernuwe sodat vandag se kinders speel-speel meer van die Groot Trek kan leer. Paadjies is oopgekap en die trekleiers se roetes is met verskillende soorte klippe uitgebeeld. Plante eie aan elkeen se roete is ook weer aangeplant. Die vyf trekroetes en 320 m se simboliese riviere is herstel, inligtingsborde oor die Groot Trek met QR-kodes wat na ’n webblad vol interessante inligting herlei, sowel as replikas van monumente op die trekpad is opgerig.

Barry Müller, projekbestuurder van die Trekroetetuin, by die Voortrekkermonument. (Foto: Verskaf)

Barry Müller van die FAK het hierdie restourasieprojek gelei.

“Dit het alles begin met die oprigting van die rotstuine om die Voortrekkermonument in 1953, wat gelei het tot die voltooide uitleg van die trekroetes deur die Onderwyskollege 10 jaar later. Dit was egter net die begin. Oor al die jare heen het hierdie trekroetetuin al baie verander en as ’n lewende baken van ons geskiedenis, gaan ons dit vorentoe bly ontwikkel en verbeter.”

Müller verduidelik dat besluit is om hierdie jaar nuwe lewe aan die trekroetetuin te gee met “die oorspronklike visie in gedagte en die inspirasie van leer-deur-te-speel”.

“Om die Groot Trek se geskiedenis nader te bring en meer lewendig te maak, is daar agt nuwe mini-replikas van monumente en standbeelde wat die gebeurtenisse van die Voortrekkers gedenk, opgerig.”

Lara Oosthyzen ondersoek die replika van die Geloftekerk van naby. (Foto: Verskaf)

Daar is replikas van onder meer Vegkop, die Kaalvoetvrou, die Louis Trichardt-mosaïek, die Bybelmonument en die Ohrigstad-fort. Die replika van die Geloftekerk is onthul op die bekendstelling van die opgegradeerde tuin.

Die bekendste berge en riviere word ook op hierdie trekroetes aangedui.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het in verwondering staan en toekyk hoe Voortrekkerkinders en afstammelinge van die vyf Voortrekkerleiers opnuut die trekroetes verken het.

“Dit is ongelooflik om te sien hoe oud en jonk hierdie tuin geniet en meer wil leer van hierdie Voortrekkerleiers. Oulike speletjies is vir kinders en gesinne ontwikkel. Geskiedenis moet vir kinders ’n lekker ervaring en avontuurtog wees.

“Op 9 Desember 1838 is die Gelofte die eerste keer by Wasbank afgelê en een van die resultate was die bou van die Geloftekerk in Pietermaritzburg. Vandag is ʼn pragtige replika van die Geloftekerk deur die Voortrekkers onthul ter herdenking aan die Geloftekerk wat vanjaar 180 jaar oud is (1841-2021). Daar is soveel personeel en vrywilligers wat met navorsing gehelp het, moue opgerol en in die tuin gehelp het. Daarvoor ʼn groot en opregte dankie.”

Die modelle van die Liebenbergkinders, Bijanca Naudé, Dehano en Mea-Leigh Müller, by die replika van dié monument.(Foto: Verskaf)

Afstammelinge van die vyf Voortrekkerleiers het die geleentheid bygewoon.

Johannes (Hans) Retief (80) is die oudste. Piet Retief is sy oupagrootjie, Daniël se broer gewees. Hy het die lint saam met nasate van Hendrik Potgieter, Rali (3) en haar boetie, Adam (6), geknip.

“Dit is die eerste keer wat ek hierdie historiese trekroete gesien het. Dis werklik besonders. Die Voortrekkermonument is vir my ook ’n wonderlike aandenking van ons geskiedenis. Die Groot Trek het ’n groot rol in ons geskiedenis gespeel.”

Verskeie jong nasate soos Lafras Thabo Uys (2) het dit terdeë geniet om die replikas van naderby te bekyk en met die water in voëlbakke op die roete gespeel.

Die nuwe historiese trekroetetuin is terselfdertyd nou ook die grootste historiese buitelug-avontuurspeletjie in die Suidelike Halfrond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sylvia ·

Dit is kosbaar, so kreatief, wonderlik om die kinders / jong mense betrokke te sien by hul erfenis. Sal graag so ‘n “trekroete-wa” wil koop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.