Triomf vir wedloop wat kollig op veldwagters plaas

Harry Bailey en sy span hardloop 100 km deur Thanda Safari-natuurreservaat. (Foto verskaf)

Die Run for Rangers-geleentheid was nie net ʼn sukses nie, maar het daarin geslaag om R160 000 in te samel en terselfdertyd bewustheid te skep vir die ongelooflike werk wat wildbewaarders doen.

Harry Bailey, ʼn gr. 12-leerder aan Hilton-kollege, se passie vir die natuurlewe en ʼn begeerte om hulde aan veldwagters te bring, was die inspirasie vir die Run for Rangers-wedloop. Die wedloop is die afgelope naweek by Thanda Safari, ʼn private wildreservaat in KwaZulu-Natal, gehou. Dié geleentheid is in vennootskap met die Sport for Lives-beweging en Project Rhino aangebied.

Bailey se aanvanklike doel was om R100 000 in te samel deur 100 km deur Thanda Safari se groot oop ruimtes tussen die groot vyf te hardloop. Tot almal se groot vreugde is die doelwit binne slegs drie weke behaal en selfs oorskry.

Bailey, wat erken hy is nie ʼn natuurlike drawwer nie, het gesê hy wou homself uitdaag om 100 km in twee dae te hardloop en op die wyse die publiek se inkoop vir ʼn goeie doel te kry.

“Die wedloop was moeilik, sommer baie moeilik, maar ek is so bly ek het dit gedoen. Ek het selfs ʼn kuiertjie by ʼn gemeenskapskleuterskool ingewerk wat Thanda borg.” Dit was een van die hoogtepunte vir Bailey op sy wedloop deur die bos.

“Nog ʼn hoogtepunt vir my was Siyabonga Zulu [ʼn veldwagter] se glimlag en sy kommentaar dat hy nou ʼn ryk man is want hy het met ʼn e-fiets gery en met ʼn Zapwing-vliegtuig gevlieg.”

Die geld wat met die Run for Rangers-geleentheid ingesamel is, sal gebruik word vir die opleiding van ʼn honde-eenheid vir bewaring in die omgewing. Dit sal ook gebruik word om veldwagters en hul gesinne by te staan, om lugondersteuning te borg en gemeenskapsopvoeding en -betrokkenheid te bevorder.

Run for Rangers is ook aangebied om bewusmaking te doen vir die gevaarlike werk wat veldwagters moet doen. Wildbewaarders word dikwels deur ʼn oorlogsituasie in die gesig gestaar weens stropery, met stropers wat swaar bewapen is en nie skroom om dood te skiet om wild te buit nie.

(Foto verskaf)

Keegan Daniel, voormalige Sharks-kaptein, en Chris Kingsley, ʼn Springbok-rugbyspeler, het Bailey op die wedloop vergesel. Rory Steyn, die medestigter van Sport for Lives en voormalige lyfwag van oudpres. Nelson Mandela, het ook saam gehardloop.

Vusi Gumede en Zulu, teenstroperveldwagters, het die span begelei. Die ondersteuningspan het ook lede van Sport for Lives, @expandasignsa, @projectrhinokzn, ZAPWing-lugondersteuningspan en die Project Rhino K9-span ingesluit.

Die Run for Rangers-naweek is afgesluit met die verwydering van renosters se horings om hulle teen stropers te beskerm.

“Alles van hierdie naweek was ongelooflik. Nie net die 100 km se hardloop nie, maar ook nuwe vriendskappe wat gesmee is, wonderlike stories wat langs die pad gedeel word, en herinneringe wat nooit vergeet sal word nie.

“Soveel doelwitte is hierdie naweek bereik en ons is uiters trots op almal wat aan die wedloop deelgeneem het en op die betrokkenes agter die skerms. Ons sien uit na die volgende Run for Rangers-wedloop by Thanda Safari,” het John Louw, finansiële hoof van die Thanda-groep gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.