Troeteldiere versag Covid-19-afsondering

Klein Bingo is tydens die afsonderingstydperk by die Wollies-diereskuiling aangeneem. (Foto: Verskaf)

Daar is min dinge soos die onvoorwaardelike liefde van ʼn troeteldier. Die afsonderingstydperk het vir baie mense die kans gegun om vir die eerste keer dié liefde te ervaar, aangesien miljoene mense genoop is om meer tyd by die huis deur te bring.

Diereskuilings landwyd gaan as gevolg van die Covid-19-krisis gebuk onder erge finansiële druk en talle skuilings het ook ʼn instroming van diere ervaar sedert Desember verlede jaar.

Daarom word die publiek sedert die begin van die afsonderingstydperk aangemoedig om vir weggooidiere wat by dié skuilings gehuisves te word, ʼn veilige, liefdevolle hawe te skep.

Een so ʼn hond wat gelukkig genoeg was om ʼn huis te kry, is Bingo, ʼn 15 weke oue reun wat lyk soos ʼn mengsel tussen ʼn Africanis en ʼn Jack Russell.

“Ons is nie heeltemal seker met watter rasse hy gemeng is nie, maar ons vermoed hy gaan nog baie groter word,” vertel Werner Cordier, ʼn senior dosent aan die Universiteit van Pretoria, oor die hondjie wat met die eerste oogopslag sy hart vermurwe het.

Bingo. (Foto: Verskaf)

Hy vertel hy en Pieter Swart het tydens die afsonderingstydperk ʼn besoek afgelê by die Wollies-diereskuiling in Pretoria-Noord, waar sowat 1 000 honde, katte en ander hawelose diere gehuisves word.

“Dit was ʼn baie vreemde ervaring met die afsonderingsmaatreëls wat heers, want die indruk word geskep dat hulle nie heeltemal oop is nie, maar hulle is oop. Ons het aanvanklik gegaan met die idee dat ons net eers gaan kyk watter honde hulle beskikbaar het, maar toe ons vir Bingo raaksien het ons geweet hy is die een wat ons wil huis toe bring,” sê Cordier.

Volgens Cordier het hy en Swart ʼn baie besige leefstyl gehad en het hulle voor die afsonderingstydperk lank gewik en geweeg oor die aanneming van ʼn troeteldier.

“Ons het altyd baie laat by die huis gekom in die aande van die werk af en selfs wanneer ons tuis is, het ons steeds agter ons skootrekenaars ingeskuif. Ons was nie gemaklik met die idee om ʼn hondjie heeldag alleen tuis te laat nie en glo nie dit is regverdig teenoor enige dier nie,” verduidelik hy.

Bingo. (Foto: Verskaf)

“Pieter se beroep is van so aard dat hy min rede het om in te gaan kantoor toe en hy kan alles van die huis af doen, en dié nuwe reëling gaan grootliks so bly ná die afsonderingstydperk. Aangesien hy nou meer tuis is, en ek uiteraard ook baie meer tyd by die huis deurbring, het ons besluit dit maak nou meer sin om ʼn hondjie te kry.”

Cordier sê die genot wat hulle uit Bingo se teenwoordigheid in die huis put is oneindig. “Dit was werklik ʼn welkome verandering in die huis. Dit is uiteraard addisionele werk, want dit is ʼn wesentjie wat jy heeltyd moet op pas en aandag skenk – sê ek terwyl hy besig is om my broekspyp te verskeur want hy wil speel!” lag hy.

“Dit forseer ons om breuke te neem deur die dag om met hom te speel. Dit help ook om jou aandag weg te vat van die monotonie van die dag tot dag. Ons loop ook baie meer rond op die landgoed waar ons bly.”

Hy lag as hy vertel Bingo het dadelik in hulle harte gekruip en kom met moord weg. “Dit was nie eers ʼn dag nie, toe was ons dolverlief op hom. Natuurlik maak jy allerhande reëls vooraf soos hy gaan nie op die banke sit nie en hy gaan nie in ons bed slaap nie, maar teen die derde dag was al daardie reëls gebreek.

“Aan die einde van die dag het hy die realiteit van die afsondering ʼn bietjie versag. Dit is nie ʼn lekker tyd nie, maar die silwer randjie vir ons is dat dit vir ons moontlik gemaak het om ʼn hond te kry. Om aandag te gee aan hom help my om ʼn bietjie van my menslikheid terug te kry.”

Neels van Jaarsveld en sy Lulu. (Foto: Gillian Coetzee)

Nog iemand wat sy lewe met ʼn skattige hondjie in die afsonderingtydperk vervul het, is die Fynskrif-akteur Neels van Jaarsveld. Hy en sy vier maande oue Lulu is onafskeidbaar en sy het selfs haar eie profiel op Instagram.

Never a dull moment met liewe, lawwe Lulu! Sy is een bondeltjie plesier van die oggend tot die aand,” sê Van Jaarsveld oor sy bruin Dapple-worshondjie.

“Ek wou graag ʼn klein hondjie inneem en deel maak van die huishouding omdat hulle soveel geluk bring in hierdie onsekere tye. Honde bied onvoorwaardelike liefde en hulle omgee ken geen perke nie.”

Die akteur vertel vandat Lulu in sy lewe is, staan hy vroeër in die oggende op en kom hy meer in die buitelug en is oor die algemeen meer aktief.

“My kennis oor honde en hulle diëte en speelgoed het definitief ook uitgebrei. Ek is ook beïndruk deur al die innoverende Suid-Afrikaanse maatskappye wat my aandag getrek het met hulle hondeprodukte soos The Kennel Brewery en vele meer,” sê hy.

Klein Lulu. (Foto: Verskaf)

Hy vertel die naam Lulu beteken “ʼn uitstekende voorbeeld van ʼn spesifieke persoon of ding” en sê die naam pas haar perfek.

“Sy is baie uniek. Kordaat, vasbeslote en staan nie terug vir enige hond of kat nie. Sy hardloop ook omtrent so vinnig soos Usain Bolt en haar lyfie is so warm soos die warmste warmwaterbottel.”

The Guardian het in April berig oor troeteldiere se impak op die mens se geestesgesondheid tydens die afsonderingstydperk. Volgens Marie Brown, ʼn ma van Kent in Brittanje, het haar gesin ʼn Cavalier King Charles- spanjoel tydens die afsonderingstydperk aangeneem.

Sy vertel dié klein hondjie, Barney, het haar kinders, onderskeidelik 12 en 15 jaar oud, gehelp om aan te pas by ʼn lewe sonder skool, sport en sosiale interaksie.

“Hulle vermaak mekaar. My dogter sou eindeloos verveeld gewees het sonder hom. Hy het struktuur in ons dag gebring en hy kry ons almal om uit in die tuin te gaan,” het Brown gesê.

“Barney bring beslis ons stresvlakke af en bring weer pret terug in ons huis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Botterblommetjie ·

Ek stem… my vierpote is my lewe.. na ‘n dag agter maskers ens kom ek by die huis en almal wil drukkies gee en natuurlik gee ek hope terug…. Gee mens rede om te lewe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.