Trouklokke lui binnekort vir sepiester

Ansu Visser en haar verloofde, Wilhelm van der Sluys. (Foto: The Geldenhuyse)

Paasnaweek het vir die sepiester, Ansu Visser, meer as paaseiers opgelewer. Die Getroud met rugby-aktrise en -skrywer spog nou met ’n skitterende verloofring wat aan haar ringvinger blink.

Douvoordag op Saterdag 16 April het Visser tussen die rotse, paaseiers en sand op Hermanus se strand aan Wilhelm van der Sluys verloof geraak.

“Ek het dit glad nie verwag nie. In die foto wat ek vir almal gestuur het, is my een nael effens gebreek, dis hoe min ek dit verwag het,” het Visser kinderlik opgewonde aan Maroela Media vertel.

Visser dryf nog heerlik op haar wolk van verliefdheid rond.

“My Willies, my liefling, my verloofde!”

Só het die aktrise die nuus oor die verlowing aan haar duisende volgelinge gebreek.

Die paar het tydens ’n soektog na paaseiers verloof geraak.

“Wilhelm het my aanvanklik genooi om saam met hom en twee van sy vriende paaseiers te gaan soek. Dit is blykbaar ’n tradisie van die vriendekring.

Toe ek hoor dat dit tydens sonsopkoms gebeur, het ek net gedink ‘sjoe, dis toegewydheid’,” het die aktrise geskerts.

Die twee vriende het egter kort voor die soektog moes geskied, kop uitgetrek.

“Ek was beïndruk met die moeite wat gedoen is. Daar was tot ’n pad met malvalekkers op die strand geskep. So het ons gestap, paaseiers gevind, foto’s geneem en gesels.”

Toe sy die einde van die pad sien, wat tussen die rotse voor die paar gelê het, het sy gedink dat dit ’n goeie plek vir ’n verlowing sal wees, bieg Visser.

“Ek het egter dadelik die gedagte uit my kop geboender.”

Op die rotse gekom, vind hulle toe nie net malvalekkers en ’n paaseier nie, maar ook ’n briefie met die woorde: “Julle verhouding is op die rotse.”

“Ek het sleg gevoel dat ons vriende nie saam met ons aan die soektog kon deelneem nie.”

Visser se spoggerige verloofring en strandpiekniek. (Foto: verskaf)

Sy vertel egter dat sy daar besef het dat iets nie pluis is nie.

“Wilhelm het heelpad ’n buidelbeursie (moonbag) gedra. Ek het gewonder waarom, dis mos ’n vreemde ding om op die strand te dra. Ek sien toe dat hy daarin krap. Hy het my naam gesê, en toe ek omdraai, was hy op sy knie.”

“Hier’s jou man,” het die woorde gelui wat Van der Sluys aan Visser gesê het.

Visser se opgewondenheid het op daardie oomblik voortou geneem. So erg, dat Van der Sluys haar moes herinner om te antwoord.

Sy het met opgewondenheid, “Ja, ja, ja – duh!” geantwoord.

Hy het die verloofring, wat om ’n paashaas se nekkie gebind was, afgehaal en aan haar vinger gesteek.

“Die personeel van ’n nabygeleë restaurant het vir ons hande geklap. Daar was ook skielik ’n piekniekmandjie op die strand.”

Vriende van die paar, Mila Guy en Bennie Fourie, het ’n yslike rol in die waarwording van Visser en Van der Sluys se sprokiesverhaal gespeel.

“Hulle het vir ons die pad op die strand gepak en die piekniekmandjie gereedgekry.”

Die paar het in November 2020 begin uitgaan, maar Visser vertel dat dit liefde met eerste oogopslag was.

“Ons vier eintlik twee herdenkings, die een is van die dag waarop hy my uitgevra het en die ander is ons eerste afspraak, juis omdat dit reeds so ongelooflik was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.