Trouklokke lui vir gouejariges

Hans en Annemarie Boucher is hierdie naweek getroud. (Foto: verskaf)

ʼn Mens is nooit te oud om weer liefde te vind nie.

Dít is die afgelope naweek weer behoorlik bewys deur die 80-jarige Hans en 76-jarige Annemarie Boucher, wat Saterdag by die Ons Tuis: Andries Marie Oosthuizen-tehuis (AMOT) voor ʼn saal propvol familie en vriende getroud is.

Hans en Annemarie se liefde blom al twee jaar lank. Hans vertel hy het op ʼn dag in 2022 na Annemarie se televisie by haar woning by Ons Tuis: AMOT gaan kyk.

“Ons het so gestaan en na my eerste troue se foto’s gekyk toe hy sy hand op my skouer sit,” onthou ʼn verliefde Annemarie.

“Hy het vir my gesê hy het geweet ek het soos ʼn prinses gelyk, en van daar af was die koeël deur die kerk.”

Die pasgetroudes was sedert daardie dag ʼn paartjie.

Die egpaar het saam met Annemarie se enigste seun van vier kinders gaan uiteet toe Hans hom gevra het of hy maar met sy ma mag trou.

“My seun was so bly dat ek nou weer iemand gekry het om my lewe mee te deel. Hy het geweet ek raak soms ʼn bietjie eensaam.”

Hans is oorspronklik van Sasolburg waar sy pa vir die spoorweë gewerk het. Annemarie het op ʼn plaas tussen Hoopstad en Bultfontein grootgeword.

“Ek is ʼn plaasmeisie, en toe trou ek ook met ʼn plaasboer!”

(Foto: verskaf)

Die Bouchers is nie die enigste egpaar wat hierdie tehuis vanjaar opgelewer het nie.

Die 77-jarige Amanda Homan en 82-jarige Ronald Matthews is in Februarie getroud ná ʼn kort kys van twee weke.

Die paartjie het mekaar vroeg in 2024 in die gange van die ouetehuis ontmoet. Dit was liefde met eerste oogopslag, vertel hulle.

Amanda en haar vorige eggenoot, wat drie jaar gelede oorlede is, was 56 jaar lank getroud. Sy is afkomstig van Witpoortjie in Gauteng en is sedert 2020 ʼn inwoner van Ons Tuis: AMOT. Sy het twee kinders, ʼn seun en dogter.

Ronald kom oorspronklik van Klerksdorp, Noord-Wes, waar hy sy eie vervoerbesigheid gehad het. Hy het ook later met graan geboer en het ʼn stoet brahmaan- en simmentalerbeeste besit.

Sy vrou is in 2023 oorlede en om die eensaamheid hok te slaan, het hy kort daarna na Ons Tuis: AMOT verhuis. Hy het twee seuns en spog met ses kleinkinders en drie agterkleinkinders.

Die huweliksbevestiging het op 2 Februarie vanjaar by die AGS te Parys, Vrystaat, plaasgevind. Dit was ʼn informele seremonie met net vyf familielede as gaste. Die pasgetroudes woon nou saam in ʼn woonstel by die tehuis.

“Ek is dankbaar dat die Here my nog ʼn kans gee om die beste vrou te
wees vir my nuwe man,” het Amanda ná hul huwelikseremonie gesê.

“Hoeveel tyd het jy nog oor voor die deur toemaak? Maak die beste daarvan as jy iemand kry wat jy liefhet,” het Ronald bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ronél ·

Sjoe, dit is waagmoedig van diesulkes om weer te trou, maar baie geluk en seën vir hulle.

RS ·

Dis die regte en waardige manier van done. Baie geluk oom en tannie dat julle nog vir die jonges wys dat mens kan glo in die huwelik as n Godelike instelling en ook wat die wetgewing se.

Die jonges praat mos van my man en vrou maar het geen benul wat dit is of het nie eens in n kerk of hof gaan trou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.