Troukompetisie: Hier is die wenpaartjie

Jean-Marié Tosen en MW Potgieter (Foto: Verskaf)

Die wenpaartjie in Maroela Media se troukompetisie, in samewerking met Villa Rosa Wedding Venue en verskeie diensverskaffers in die bedryf, kon byna nie hul ore glo toe hulle as wenners aangewys is nie.

“Dit is die eerste keer wat ek vir ʼn kompetisie inskryf en wen,” vertel Jean-Marié Tosen. “Ek weet eintlik nie wat om te sê nie – ons het dit glad nie verwag nie.”

Jean-Marie en haar verloofde, MW Potgieter, woon in Somerset-Wes in die Wes-Kaap en meen hulle het geen probleem om die hele ent na Gauteng te reis vir hul sprokiestroue nie.

“Dit is ongelooflik dat mense wat ons van geen kant af ken nie bereid is om hulle harte só oop te maak,” sê hulle.

Jean-Marie en MW is as die wenpaartjie aangewys nadat die publiek vir die tien top-finaliste gestem het.

Jean-Marié, ʼn regsadviseur, en MW, ʼn junior konstruksiebestuurder, is albei in hul laat-twintigs. Hulle het in 2014 tydens ʼn braai by Jean-Marié se huis ontmoet en in 2016 verloof geraak.

“MW het oorkant my in die kompleks gewoon. Ons het een aand ontmoet toe ʼn klomp vriende by kom braai het,” vertel sy opgewonde. “Ek was nie baie in my skik met dié jong man nie, maar ons het begin gesels en ʼn week later het hy my uitgevra.”

Jean-Marié Tosen en MW Potgieter (Foto: Verskaf)

Die paartjie het gou geweet dat hulle vir mekaar bedoel is. Hulle het byna twee jaar uitgegaan voordat MW op 27 Augustus 2016 die ja-woord by die Kaappunt-vuurtoring, in die Kaapse Skiereiland, gevra het.

“Dit was ʼn mistige dag en yskoud buite. Ons het geen uitsig gehad nie,” sê Jean-Marié. Sy het die hele dag gehoop dat MW die “groot vraag” sou vra en toe dit uiteindelik langs die see gebeur, was die oomblik oorweldigend.

“Ek het eers die ring laat val voor ek haar gevra het,” onthou MW. Jean-Marie het dadelik ingestem.

“Enige plek sou fine wees met my om verloof te raak,” sê sy. “Hy kon my by die huis ook gevra het! Ek gee nie om nie, solank ek net met MW kan trou.”

“Ek is sonder ʼn regterhand gebore – die lewe is daarom soms uitdagend, maar ten spyte hiervan het ek ʼn verloofde gevind wat amper meer my regter-‘arm’ vashou as wat hy my hand vashou,” deel sy.

Die paartjie spaar sedertdien vir hul troue, maar erken dat dit nie so maklik is as jy op jouself aangewese is om te oorleef nie.

“Ons het dit al oorweeg om voor die landdros te trou,” vertel hulle, maar Jean-Marié wou nie haar droom laat vaar nie. Soos die meeste ander meisies het sy ook van ʼn sprokiestroue gedroom en wou graag gehad het dit moes uitwerk.

“Daar is ʼn klein dogtertjie binne elke vrou wat daarvan droom om in ʼn wit rok voor die kansel te staan, en vir jare daarna steeds verby die troufoto’s in die gang te stap met die wete dat dit alles die moeite werd was.

“Ek droom oor my en MW se troudag waar almal vir daardie een oomblik wel na ons kan staar, maar hierdie keer nie omdat ek anders lyk nie, maar omdat ons as geliefdes in die huwelik gaan tree.”

Die paartjie het vroeër ʼn dubbel dosis goeie nuus ontvang.

The Old Hatchery (Foto: Verskaf)

Sedert die troukompetisie afgeskop het, het The Old Hatchery in Underberg, ‘n klein dorpie in die suidweste van KwaZulu-Natal, laat weet dat hulle graag ʼn wittebrood vir die kompetisie wil borg. Die pakket sluit ʼn week se gratis selfsorgverblyf in.

Maroela Media se troukompetisie word in samewerking met Villa Rosa Wedding Venue en verskeie diensverskaffers in die bedryf aangebied. Klik hier vir die volledige lys borge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Annelie ·

Yay! Baie geluk julle twee! Ek het vir jul gestem. Jul storie het my hart geraak. Hoop God seën jul met n lang en gelukkige huwelik! Xxx

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.