TT Cloete-gedig herleef in woordkunsprogram

TT Cloete se bekende gedig “God die digter” herleef in die gelyknamige woordkunsprogram wat onlangs in Kaapstad bekendgestel is.

God die digter, wat op DVD uitgereik is, is ʼn Afrikaanse produksie wat saamgestel is uit voorlesings van geestelike poësie, kunsfotografie, videogrepe en musiek.

“Die produksie neem kykers op ʼn ontdekkingstog van die lewe, natuur, hoop, dankbaarheid en ʼn herontdekking van hulself – iets wat juis nodig is in die tyd van ʼn wêreldpandemie”, sê Helena Conradie, woordkunstenaar en vervaardiger van God die digter.

Anne Meyers, bekroonde televisievervaardiger en regisseur, het die regie van God die digter behartig. Meyers is egter kort ná die voltooiing van die produksie weens Covid-19 dood en daarom het die produksiespan besluit om die DVD aan Meyers op te dra.

Van links na regs: Christa Thom, Andries Cilliers en Helena Conradie. (Foto: Verskaf)

“Anne was uiters trots op die eindproduk,” sê Conradie.

Conradie se eerste album Boerneef: Makie mooigoed staan, saam met Annalize Wiid, is in 2000 uitgereik. Op dié suksesvolle debuut het nege woordkunsalbums gevolg.

Ongeveer 23 gedigte van 18 ouer en jonger digters word in die produksie voorgelees. Buiten vir Cloete se gedig word die poësie van NP van wyk Louw, DJ Opperman, Sheila Cussons, Olga Kirsch, Ingrid Jonker, Joan Hambidge, Wilna Stockenström en C Louis Leipoldt ook betrek. Die voorlesings word deur Conradie, Christa Thom (digitale kunstenaar) en Andries Cilliers (prediker) gedoen.

Volgens Conradie is dit nou belangriker as ooit om die mooi en die lewe te vier. “Ons doen dit deur gebruik te maak van klank, woord, lig en beelde.”

God die digter kos R150 (posgeld uitgesluit) en is slegs beskikbaar per bestelling. Om die DVD te koop stuur ʼn e-pos na Helena Conradie by [email protected] of bel 082 873 5177.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.