Tuisfliek van die maand: Dis ek, Anna

charlene-brouwer-in-dis-ek-anna Met Charlenè Brouwer en Izel Bezuidenhout
Regisseur: Sara Blecher

Hierdie rolprentweergawe van Anchien Troskie se ontstellende romans wat albei op die waarheid gegrond is, plaas die gehoor in ʼn knelgreep asof hulle deur ʼn domkrag opgestoot word sonder enige versagting of simpatie. Onthou: ʼn Ware goeie rolprent neem gehore ook na plekke waarheen hulle nie graag wil gaan nie, maar as jy jouself hieraan onderwerp moet jy presies weet waarvoor jy jou inlaat.

ʼn Dogtertjie wat herhaaldelik deur haar wrede stiefpa (ʼn uitstekende vertolking deur Morné Visser) verkrag is, bereik eendag breekpunt en skiet hom dood. Die rolprent sentreer om die hofsaak wat daarop volg. Vir een van die weinige kere in Afrikaanse rolprente, wat deesdae weer gebuk gaan onder ʼn oormaat soetsappige oppervlakkige jeugflieks en romantiese komedies, praat hierdie rolprent onbevange en vreesloos die waarheid. Dit beeld die onnoembare in kragtige visuele terme uit sonder om dit ter wille van die loket te versag, en slaan jou met die krag van ʼn stootskraper wat uit jou televisieskerm op jou afstorm.

dis-ek-anna-posterWaar ander regisseurs soms verskonend regie doen en ʼn brutale daad sagkens uitbeeld om voornemende gehore tog nie aanstoot te gee nie, spaar die regisseur Sara Blecher niemand nie. Sy wys ʼn ding soos hy is. Sy word ondersteun deur verskeie briljante akteurs soos Charlenè Brouwer en Izel Bezuidenhout wat Anna as kind (Bezuidenhout) en volwassene (Brouwer) uitbeeld, maar doen dit met soveel empatie en deernis, dog ook wrede eerlikheid, dat die gehoor terugsteier voor die aanslag.

Voeg daarby ʼn draaiboek wat met sy eerlikheid tot op die been sny en ʼn realistiese styl wat al die vet om die storie uitkerf, en jy word gekonfronteer met die grootste Afrikaanse rolprent van ons tyd naas Jans Rautenbach se Die kandidaat. Dit was nodig dat iemand uiteindelik die waarheid praat.

‘Dis ek, Anna’ is tans vir alle “expats” te sien op Showmax.

Gesoute rolprentresensent, skrywer, draaiboekskrywer Leon van Nierop resenseer maandeliks vir ons ʼn top-Afrikaanse rolprent wat op Showmax te sien is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hannelie ·

Dit is ‘n MOET om hierdie fliek te sien. Ek het altwee boeke gelees. En die fliek 2 keer gekyk. Dit is beslis die moeite werd.

Leana ·

Beslis een van die beste, wat ek nog gesien het. Uitstekend!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.