Tuisgenoot-projek: ‘Vir ons vergete bejaardes’

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

“Mense vergeet so maklik dat bejaardes eens op ʼn tyd ook jonk was – hulle het ook gewerk en ʼn betekenisvolle bydrae tot die samelewing gelewer. Talle senior burgers word vergete agtergelaat en is uitgelewer om na hulself om te sien,” sê Lizelle Joubert, projekorganiseerder by Solidariteit Helpende Hand.

Dis juis om dié rede dat Helpende Hand ʼn projek genaamd “Tuisgenoot” op die been gebring het – ʼn projek wat op die emosionele welstand van bejaardes fokus.

Daar is tans agt aktiewe Tuisgenote oor die land en dié mense dien nie as versorgers nie, maar fokus eerder daarop om ʼn kameraadskap te vorm met bejaardes in hul gemeenskap. Elke Tuisgenoot moet tien mense in sy/haar omgewing identifiseer om voor om te gee.

“ʼn Tuisgenoot is spesifiek daar vir ondersteuning – hulle sal die bejaardes dokter toe vat, ʼn teetjie saam met hulle drink en sommer net ʼn bietjie gesels. Hulle is eintlik daar as vriend of vriendin.”

ʼn Tuisgenoot werk op ʼn grondslag van 12 maande en sal in dié tydperk ook ondersteuning van Helpende Hand ontvang om sodoende bejaardes te ondersteun.

“Hierdie projek poog om waarde aan bejaardes se lewe toe te voeg en hulle te help om weer ʼn positiewe bydrae tot die gemeenskap te lewer,” sê Lizelle.

Volgens Helpende Hand het Tuisgenote die volgende verantwoordelikhede:

  • Om die betrokke bejaardes minstens drie keer per maand tuis te besoek;
  • om, in samewerking met ander belanghebbers, behoeftige bejaardes in die dorp te identifiseer;
  • om niebederfbare en vars produkte, wat deur Helpende Hand gefinansier word, aan te koop en aan die bejaardes te versprei;
  • om bejaardes te evalueer en ander belanghebbers van bejaardes se fisieke en emosionele toestand op die hoogte te hou;
  • om, indien probleme by bejaardes geïdentifiseer word, die aangeleenthede aan te meld.

Tuisgenote is reeds in Phalaborwa, Dundee, Humansdorp, Klerksdorp, Newcastle, Komatipoort/Onderberg, Orania en die Wes-Kaap aangestel, maar Lizelle meen mense kan steeds aansoek doen as ʼn Tuisgenoot.

Indien jy aansoek wil doen as Tuisgenoot, stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek hul webwerf vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

johann cb ·

Baie dankie aan Helpende Hand vir hierdie wonderlike inisiatief. Die woord “talle” moet asseblief net nie veralgemeen word nie. Baie van ons, soos ekself, sien die grootste deel van my lewe om na ‘n bejaarde wat al oor 90 is. Dit is ook nie altyd so maklik nie, glo my vry!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.