Tuisversorging werklik ’n roeping

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

My verjaarsdagmaand is omtrent vir my ʼn lekker maand. Ek is nie een van baie mense wat sommer bang raak as my verjaarsdag nader kruip nie. Ek voel werklik dat ek al slimmer geword het hoe ouer ek word en daarvoor is ek dankbaar. ʼn Mens lyk en voel en dink anders oor die lewe as jy jonk is. Jy wonder oor soveel dinge, maar die dood is definitief nie een van hulle nie.

Ek het wel, soos ek ouer word, begin dink oor die dood, oor my laaste dae op aarde en my geliefdes wat ek moet agterlaat. Soos elke bruid van God weet ek wat vir my wag en dit is om te loof en prys by die Here se voete, saam met ʼn engelekoor, vir altyd! Ek sien uit daarna. Ek sit en kyk die eendag die nuwe Peter Pan en Wendy-rolprent saam met my dogtertjie en man, hier sê Pieter Pan: “Om te sterf sal ʼn vreeslike groot avontuur wees”. Hoeveel te meer vir ʼn kind van God.

Soos ek ouer word besef ek wel dat almal die dood alleen ingaan, maar soos ek op ʼn jong ouderdom geleer het is jy nooit alleen as jy ʼn Jesuskind is nie. Jy en God gaan saam die dood binne, of altans die lewe na die dood. Maar dan kyk ek na ons tuisversorgers by Solidariteit Helpende Hand en hulle is die mense, die vroue, wat saam met ʼn tannie of oom sit, wat hul hand vas hou terwyl hulle hul laaste asem uitblaas en wat dan ook hulle oë toemaak wanneer hulle die ewige lewe binne tree.

Wanneer ek kyk na die tuisversorgers van Solidariteit Helpende Hand se opleidingsinstituut wat reeds afstudeer is, of tans besig is om te studeer, kan ek nie help om te dink aan tannie Sandra nie.

Sy is met Dementia gediagnoseer, van haar vriende en familie het haar reeds vooruitgegaan hemel toe, sy was taamlik eensaam. Maar ʼn tuisversorger was haar vriendin, die een met wie sy kon staaltjies deel oor haar jonger lewe, die een wat haar verstaan het, wat vir haar iets soets gebring het om te eet, wat vir haar gebid het in haar moedertaal, wat haar nie net versorg het nie maar opgedra het aan Jesus. Tannie Sandra was lief vir haar tuisversorger, want wanneer sy by tannie Sandra was kon sy weer lag en haar vrese het bedaar.

Sy was deurmekaar op dae, maar om by haar versorger te wees het vir haar ʼn balans geskep in haar lewe. “Ek sien elke dag uit om haar te sien, sy voel soos my eie dogter” het Tannie Sandra gesê. Haar tuisversorger-dogter moes tannie Sandra se hand vas hou terwyl sy stadig na die ewige lewe beweeg. Sy moes groet asof sy werklik haar dogter was, sy moes vir haar bid en haar gesig en glimlag was die laaste beeld wat tannie Sandra gesien het voordat sy by die voete van Haar gaan lofprys het.

Ons tuisversorgers! Ons ons trots! En vir ons persone met gestremdhede en seniors is sy die rots.

My eie ouma is bedlêend, maar glo my sy het ʼn lewe in haar wat baie jongmense nie meer het nie.

Ek het vir haar gevra om vir my ʼn brief te skryf destyds toe ek nog ʼn jong dogter was en het dit onlangs in ʼn gedig omskep. Ek deel dit graag met julle vandag, my ma kuier gereeld by my ouma maar my ouma het ook ʼn versorger wat haar help en ek het agting vir die persoon wat my ouma en my kind se ouma grootjie so mooi help en oppas in haar moedertaal.

René Roux (Foto: Verskaf deur SHH)

Haar lewe begin op ʼn plaas in Thomas Hope

vierde van ses

arm jare

Hartbeeshoek

Geurplaas

Smutsrus

Oos, wes, tuis bes

 

Sy onthou die jaarlikse beesslag

Sy ruik weer die koeie wat lui-lui kraal toe kom

“Ek voel weer die wind op my wange”

“Ek ruik weer die soet aandblom”

 

Gedagtes wandel na haar pa met die Bybel oop

Sy hoor weer haar ma se mooi helder stem

Die klank van stemme styg op in Psalmgesange

Sy probeer steeds in haar oudag die verlange tem

 

“Here ek erken dat ek die heimwee nie uit my hart kan weer”

“My tyd raak min, ek wil vir oulaas die goue uur myne maak”

Haar man, kind en geliefdes lank reeds vooruit

Aanloklik is die gevoel om aan die hemel te raak

 

As haar bors die wedloop van die lewe se lint breek

Sal geliefdes haar met ope arms ontvang

Daar is steeds ʼn diep rooi gepoleerde stoep in Kimberley

Daar bly altyd ʼn onthou

Dalmweg 35

met kindervoete wat hardloop in die gang

Soos ek weer hier lees raak ek hartseer om te dink dat daar bejaarde persone is wat alleen is en wat nie die nodige hulp en versorging ontvang wat hulle verdien na ʼn lewe wat gelei is om ʼn gemeenskap te bevorder nie. My verjaarsdagwens vandag is dat elke persoon wat geroep is, wel aantree om ʼn tuisversorger te word.

As jy jou roeping wil leef stuur ʼn e-pos aan [email protected] of besoek www.hependehandopleiding.co.za

  • René Roux is adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Dis baie waar woorde. Tuisversorgers – opgelei of nie is n absolute roeping vir hierdie mensies. My stiefma (81) woon by my na my pa se afsterwe Feb 2022. Sy is 2022 met gevorderde demensie / alzheimer’s gediagnoseer. Die tuisversorger wat by ons inly is n nie-blanke dame met n baie baie goeie, groot en sagte hart. Dit is al werk wat sy ken en kan doen vir baie jare al. My familie en vriende aanvaar vir Lizzy as deel van die gesin. Sy is n boorling van Hammanskraal maar woon by ons in Bronkies. Weg van haar eie 2 kinders. Maar sy gaan soms huistoe. Syt nie n baba tuis nie; se sy so sy hoef nie gereeld te gaan nie. Sy versorg my stiefma asof dit haar eie ma is, en ons ander asof ons haar broers, susters, kinders en kleinkinders is. Sy verjaar nou komende Sondag 28/05 en ons gaan lekker vir haar bederf. Dis haar beurt. Ons is bly vir jou Lizzy. Mag jy nog lank saam ons wees en gesond wees. Mia Casa – Lizzy Casa. Ngiyabonga sesi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.