Tukkie ontvang eksklusiewe Ford-beurs

Natalie Hanekom, ontvang van die Alan Mulally-beurs, en prof Alta van der Merwe van die UP. (Foto: Verskaf)

Natalie Hanekom, ʼn tweedejaarstudent in elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria (UP), is een van net tien studente wêreldwyd wat vanjaar ʼn Alan Mulally-beurs van R140 000 ontvang.

Die beurse word jaarliks toegeken aan uitnemende junior ingenieurstudente aan 10 vooraanstaande universiteite. Die aansoekers moet aan streng minimumvereistes voldoen, wat onder meer die handhawing van ʼn gesamentlike gemiddeld van 75% vir alle modules en leierskapsrolle in akademiese of gemeenskapsprojekte insluit.

Die wenners word deur verteenwoordigers van Ford se maatskappyfonds, Ford se produkontwikkelingsafdeling en werwingsafdeling gekies.

Die Ford-motormaatskappy het die Allan Mulally-studiebeurs gestig as ʼn manier om sy voormalige uitvoerende hoof te vereer vir sy ampstermyn van 2006 tot 2014. Mulally is ook as een van die voorste ingenieurs in die vliegtuigbedryf vereer voor hy by Ford aangesluit het.

“Dit is ’n eer om ’n beurs te ontvang wat die naam dra van so ’n invloedryke leier soos Alan Mulally. Dit is ’n uitdaging vir almal wat dit ontvang om beter te doen en meer te doen met wat hulle het. As jy meer het, kan jy meer gee. As student in elektroniese ingenieurswese is my doel om soveel as moontlik kennis oor die wêreld en hoe dit werk, in te samel sodat ek die nodige gereedskap het om dit te verander,” het Hanekom (19) gesê.

Sy meen ingenieurswese is die veld waar die toekoms verander, gevorm en werklik geskep word.

“As ingenieurs die wêreld in minder as ’n eeu van waens na Ford Rangers neem met skaars iets om van te werk, dink net waarheen ingenieurs die wêreld in die volgende eeu kan neem met alles wat nou tot ons beskikking is.

“’Ons generasie ingenieurs is diegene wat op die voorpunt van hierdie ontwikkeling moet werk. Of liewer, ons moet die mense wees wat die voorpunt skep.”

Hanekom het Ford bedank dat hulle bereid is om in die volgende generasie ingenieurs te belê. Sy het bygevoeg sy sien die studiebeurs as ʼn uitdaging om die nalatenskap voort te sit wanneer haar generasie die leisels van ingenieurswese oorneem.

Saam met haar akademiese vaardigheid is Hanekom ook ’n bedrewe atleet. Sy was op hoërskool ook deel van haar skool se leerderraad in gr. 12, en die kaptein van die meisiesatletiekspan. Op universiteit was sy die eerstejaarverteenwoordiger vir 2020.

Alta van der Merwe, adjunkdekaan vir ingenieurswese, bou-omgewing en inligtingstegnologie aan die UP, het gesê dié universiteit is trots om deel van die Alan Mulally-studiebeurs te wees.

“Dit is uit Natalie se uitstekende prestasies op skool en haar buitengewone eerstejaarsgraderings vanaf 2020 duidelik dat sy die moed en natuurlike aanleg vir wetenskap het, wat haar sal ondersteun op die pad om ’n buitengewone ingenieur te word.”

Neale Hill, besturende direkteur van Ford Suid-Afrika, op haar beurt gesê die motorreus is verheug om ʼn Suid-Afrikaanse student as een van die tien ontvangers van sy studiebeurs te hê.

“Die bevordering van ingenieurswese is veral belangrik vir Suid-Afrika vanweë ons beduidende tekort aan vaardighede op hierdie belangrike gebiede. Die verhoging van die aantal gegradueerdes in ingenieurswese is noodsaaklik om ons ekonomie te laat groei, spesifiek in die vervaardiging- en motorbedryf.

“ʼn Studiebeurs soos hierdie beklemtoon Ford se ​​toewyding tot onderwys as ’n manier om die jeug as ons toekomstige pioniers en leiers te bemagtig en op te hef. Om hierdie beurs vir Suid-Afrikaanse studente toeganklik te maak, is ’n belangrike manier om belangstelling in ingenieurswese te bevorder en om uitnemendheid te beloon. Ons wens Natalie alle sukses toe met haar studies. ”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stof ·

Mag hierdie beurs vir Natalie bemagtig om haar ideale te laat blom. Beide my kinders het vanjaar begin werk as ingenieurs nadat Tukkies hulle uitnemend toegerus het daarvoor en hulle is werklik gelukkig in die bereiking van hul drome.
Die redaksionele humor in hierdie artikel het my toe nie ontgaan nie. In die middel van hierdie artikel oor die Ford beurs, pop daar toe ‘n Renault advertensie op…

Cecilia ·

Baie geluk aan d pragtige dogter. Mag hasr drome vlerke he!

Lonnie ·

Baie geluk Natalie. Jy is voorwaar ‘n voorbeeld en ook baie gelukkig as gekose beurshouer. ‘n Oud TIEN- Onderskeidings-in-matriek-kind, het by ‘n vooraanstaande Duitse motorvervaardiger aansoek gedoen om ‘n beurs om Meganiese Ingenieurswese te studeer so 4 jaar gelede, maar was onsuksesvol…seker maar Affirmative Action se skuld. Miskien moes hy eerder by Ford gaan aanklop het. Ek glo sy nuwe werkgewer is baie in hul skik met sy aanstelling!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.