TV-kokkedoor stap 1600 km na sy kinders toe

Leroux oefen leke dag vir sy staptog (Foto: Verskaf)

Leroux van Vuuren van Kokkedoor-faam gaan op 6 April die 1600 km tussen Vanderbijlpark in Gauteng en Tygerberg in die Wes-Kaap manalleen en boonop met visplakkies aanpak – ʼn dapper poging om geld in te samel vir slagoffers van die Hoërskool Driehoek-tragedie.

Van Vuuren sê hy hoop dat hy genoeg geld sal kan insamel om onder meer kinders en ouers met traumabehandeling te ondersteun nadat ʼn loopbrug by die skool in Februarie vanjaar ineengestort en die lewe van vier leerders geëis het.

Van Vuuren is die afgelope paar jaar deur ʼn moeilike tyd nadat hy sy restaurant in Langebaan weens bankrotskap moes sluit, deur ʼn egskeiding gegaan het en in ernstige motorongeluk was waarin hy sy pelvis gebreek en sy motor afgeskryf het. Hy sê hy wil nou op dié manier teruggee omdat hy self al deur trauma gegaan het.

Maroela Media het vroeër berig dat Van Vuuren ʼn positiewe uitkyk op die lewe gekies het ná sy motorongeluk en dat hy vanjaar graag nader aan sy kinders, wat in Langebaan woon, wil verhuis.

“Dit is eintlik hoe die hele ding begin het, dit was eers ʼn grappie,” vertel hy. “Ek het vir ʼn vriend van my by ʼn braai gesê dat ek nie regtig in Pretoria hoort nie, ek hoort by my kinders! Maar ek het nie vervoer nie, want ek het mos my kar afgeskryf. En toe sê ek vir hom ek wil so graag gaan, ek stap sommer Kaap toe om by my kinders te wees.

“Hy sê toe: ‘Maar hoekom doen jy dit nie regtig nie?’ En daar is die idee gebore.”

Leroux en die komitee wat sy staptog reël (Foto: Verskaf)

Die geld wat ingesamel word deur Van Vuuren se projek sal gebruik word om mense te help wat traumaberading nodig het en sal deur die organisasie, Go Purple, verskaf word.

Van Vuuren beplan om op Saterdag 6 April om 07:00 in die pad te val. Hy beoog om die 1600 km binne 40 dae af te lê.

“Ek mag nie op die N1 stap nie, so ek stap so deur die Karoo en die Noord-Kaap. Ek beplan om 40 km per dag vir 40 dae lank te stap, maar ʼn mens weet nooit wat langs die pad gebeur nie, veral nie met my heup nie, so ʼn einddatum is nog nie vasgestel nie,” het hy gesê.

Van Vuuren sal alleen stap, maar talle mense het al aangebied om sekere dele saam met hom te stap. Hy beplan om by verskeie dorpe by plaaslike inwoners te oornag.

“Ek weet as ek begin gaan daar baie mense by my wees, maar ek probeer myself gereed maak vir iewers langs die pad waar ek alleen gaan wees. Sielkundig voel ek dat ek gereed en baie sterk is,” sê hy.

“Ek oefen nou al vir sewe maande lank elke dag. Ek stap sowat 20 tot 30 km per dag met my visplakkies aan, en partykeer kaalvoet ook,” het hy gesê.

Van Vuuren het gesê hy wil dié uitdaging juis met visplakkies aanpak omdat hy in elk geval altyd in sy visplakkies is en dit die projek ʼn bietjie meer eie aan homself maak.

Leroux saam met sy kinders, Ella en CJ (Foto: Facebook)

Hy het ook gesê dat hy graag van die Hoërskool Driehoek-leerders en ouers wil help, omdat dié tragedie hom diep geraak het.

“Die projek is nie nét vir hulle nie, maar dit het as gevolg van hulle gebeur. Die storie het my ongelooflik geraak, dalk omdat van die kinders van dieselfde beserings as ek opgedoen het. Ek weet hoe ondraaglik die pyn kan wees. Hoe moet dit nie vir ʼn kind voel nie? My hart het gebloei vir hulle,” sê hy.

“Ek is oortuig daarvan dat ek iewers langs die pad iemand gaan teëkom wat traumabehandeling nodig het, en hoe wonderlik is dit nie dat ons dit dan vir hulle kan gee nie?”

Van Vuuren, wat in 2014 aan die realiteitsprogram Kokkedoor deelgeneem het, het steeds ʼn groot liefde vir kos en sien dié reis ook as ʼn geleentheid om te sien wat mense in verskillende dele van die land eet. “Vir my is dit ook ʼn groot kosavontuur. Ek gaan vir myself kosstories versamel langs die pad,” het hy gesê.

Van Vuuren het gesê die stappery gaan sommer sy trek terug na sy kinders ook wees, terwyl hy iets goed doen vir ander mense. Sy kinders, Ella en CJ, woon tans in Langebaan.

“Ek wil na my kinders toe gaan en dit is hoe ek daar gaan kom. Hulle het ook gesê hulle gaan die laaste stukkie saam met my stap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

wielie ·

Oooooh we ………. stap met plakkies? Ek hoop net die plakkie hou end uit en dat die teerpad dit nie gaan smelt nie veral in die Karoo ……………

Vra net ·

Is daar iewers waar n mens sy staproete kan sien? Dalk kan n mens hom langs die pad bietjie aanmoedig

GM ·

Die opskrif het dit laat voorkom asof hy dit klaar gestap het.
Baie sterkte! Ek hoop dis ‘n voorspoedige ‘reis’/tog!

Biebie ·

Alhoewel ek dink hy ‘n mooi hart met goeie intensies het…. Is ek al een wat dink dat dit NIE so ‘n goeie idee is nie? Klink vir my maar gevaarlik, en om jou eie lewe in gevaar te sit om geld in te samel, is nie vir my braaf nie….. Sou nie wou hê my pa of man moet dit doen nie. Maar sterkte, hoop jy kom veilig by jou bestemming uit.

JH ·

Dis vir aandag. Het niks bereik na kokkedoor nie, en nou probeer hy alles om in die spotlight te bly.

ZIS ·

JH – is jou negatiewe kommentaar nou regtig nodig? ek dink nie so nie. Hy probeer immers iets goed doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.