Twee Centurion-skole vang gees

(Foto: skermgreep)

Hoërskool Centurion en Midstream College, albei in Centurion, het vandeesweek behoorlik gees gevang tydens ʼn vriendskaplike geleentheid waartydens drie van die hoofleiers in ʼn prettige, beplande voorval “ontvoer” is.

Die hoofmeisie, hoofseun en rasieleier van Midstream College in Olifantsfontein is Donderdagoggend ten aanskoue van die hele skool doodluiters opgepik deur lede van Hoërskool Centurion se verteenwoordigende leerderraad (VLR).

As die skool hulle weer wou sien sou hulle ʼn losprys moes betaal deur minstens 150 kaartjies vir Jo Black se optrede by Woeries te koop.

Hoërskool Centurion hoop om hierdie geesweek ʼn tradisie tussen die twee skole te maak.

“Dit is vir ons ʼn kans om Midstream by die geleentheid te betrek, en sommer ook beter te leer ken,” het Cassey Brink, bemarkingsbestuurder van Hoërskool Centurion, gesê.

Leerders van albei skole het gereed gestaan om aan ʼn prettige video deel te neem waar die leerders van Midstream College met blinddoeke op hul gesigte op stoele voor gesit het, en die VLR van Hoërskool Centurion met hul sonbrille en glimlaglose bakkies gepronk het.

Hoërskool Centurion se eerste rugbyspan (Foto: verskaf)

“Die leerders hier by Midstream College het dit baie geniet. Hulle is opgewonde om weer aan sport te kan deelneem. Ons beplan om die VLR van Hoërskool Centurion uit te nooi na ʼn dinee,” het dr. Dirk Uys, hoof van opvoedkundige leiding en bemarking by Midstream College, aan Maroela oor die voortsetting van die vriendelike verhouding tussen die skole gesê.

Saterdag sal afskop met ʼn prettige wintersportdag waartydens skole in die omgewing teen mekaar meeding om te sien wie is die bobaas sportmanne en -vroue.

Dit sal afgesluit word met ʼn optrede deur Black, wat by die skool gaan draai as deel van sy “Traveler”-toer. Dié toer word deur Black gebruik om geld in te samel vir skole landwyd, aangesien die wins wat gemaak word geskenk word aan die betrokke skool waar Black daardie dag optree.

Hoërskool Centurion het ʼn stemnota aanmekaargeflans om in aanmerking vir die geleentheid te kon kom.

Die datum van die optrede het egter hand aan hand met die afskop van die wintersportseisoen geloop, en die skool kon dus ʼn yslike geesvang-geleentheid uit die gebeurtenis skep.

Plaaslike laerskole is ook by die pret betrek. Die laerskoolleerder wat die meeste kaartjies vir die vertoning verkoop, sal die geleentheid kry om saam met vier van sy of haar maats BBP-sitplekke in te neem waar Black self vir die leerders ʼn vleisie op die kole sal gooi.

  • Lesers kan self nog kaartjies vir Jo Black se vertoning by Hoërskool Centurion aanskaf. Besoek dié webwerf vir meer inligting.

Kyk na die ‘ontvoering’ hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.