Twee jong Vrystaters wen met hul klerekas

Rianca en Johan (Foto: Verskaf)

Twee jong Vrystaters is op Moedertaaldag vanjaar met die AfriVriendelik Tinteltong-toekenning vir nuweling van die jaar vereer vir hul Afrikaanse aanlyn klerewinkel.

Johan Jansen van Vuuren en Rianca de Wet (albei 24), onderskeidelik van Welkom en Bethlehem in die Vrystaat, is die mede-eienaars van klerekas.com, die aanlyn eenstopwinkel wat aan Adam én Eva se klerebehoeftes voldoen.

“Ek en Johan is albei baie lief vir klere en volg graag die jongste modegiere. Ons spot altyd en sê ons hou van ons geld waar ons dit kan sien, in ons klerekas!” het Rianca gesê.

“Die idee van klerekas.com het by ons opgekom terwyl ons tussen die Vrystaatse vlaktes gereis het. Ons albei was lus vir ’n nuwe uitdaging en ’n maand later het klerekas.com sy deure oopgemaak vir ons eerste aanlyn kliënte.”

Rianca, wat onderwys aan die Universiteit van die Vrystaat studeer het, het Johan belowe dat sy vir hom ’n knopieshemp sal ontwerp wat sy asem sal wegslaan.

Toe sy eers begin, het sy sommer ses hemde, nege dasse, twee broeke en ’n strikdas vir háár Adam ontwerp.

Johan, wat bedryfsielkunde ook by Kovsies studeer het, sê klerekas.com is een van daai drome wat al jou verwagtinge oortref.

“Dis soos wanneer oupa nie net vir jou ’n stukkie biltong kerf nie, maar sommer “lobola” ook betaal,” het hy gesê.

Elke item, waaronder vellies, strikdasse en knopieshemde vir mans, asook rokke, oorbelle en veldskoene vir vroue, op klerekas.com word plaaslik vervaardig deur 16 ontwerpers.

“’n Klerekas is veronderstel om vol klere te hang, daarom vat klerekas.com ook hande met plaaslike entrepreneurs wat dieselfde visie as ons het: om noodsaaklike styl te skep wat aan die nodige gehalte en mode voldoen,” het Rianca gesê.

Oor dié toekenning wat hulle verower het skaars agt maande sedert klerekas.com se ontstaan, het Rianca gesê hulle is trots daarop om die toekenning te ontvang, want sodoende dra hulle by tot ʼn toekoms vir Afrikaans.

“Dis vir ons ’n reusevoorreg om met ’n Tinteltong Toekenning vereer te word en ons is baie opgewonde en gelukkig daaroor. Ons is albei baie lief vir ons taal en is passievol daaroor om ’n toekoms vir Afrikaans te verseker.

“Dis wonderlik om te weet dat ons, asook die ander rolspelers in die bedryf, saam aan ’n toekoms vir Afrikaans bou. Dit gee ons soveel hoop vir ons taal,” het sy gesê.

Dié gedugte span het onlangs ook die deure van ’n nuwe onderneming met die naam kleremakers.com geopen. Kleremakers.com skep die geleentheid vir jong ambisieuse ontwerpers om hul ontwerpersdrome te verwesenlik. Kleremakers.com help ontwerpers om patrone te ontwerp, materiaal te soek en die nuwe kledingstuk te maak. Hulle sal ook skoene en juwele vervaardig.

In samehang met die viering van Internasionale Moedertaaldag wat jaarliks op 21 Februarie gevier word, beloon Afrikaans Vriendelik innoverende Afrikaanse ondernemings.

Die Tinteltong Toekennings word daarom toegeken aan ondernemings of mense wat dienste in Afrikaans lewer of Afrikaans bevorder deur kreatief met dié taal om te gaan.

Lees meer oor die Tinteltong Toekennings hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Susan ·

Kyk, ek wil graag Afrikaanse mense ondersteun, maar die produkte is net gans te duur!! Dit voel of Afrikaners uitgebuit word, sodra jy iets in Afrikaans wil hê, dan moet jy betaal daarvoor. News24 is gratis, maar Netwerk24 het ‘n maandelikse subskripsie. Goedkoper Dstv het nie Kyknet nie. Mens sukkel klaar met geld, nou moet jy nog vir jou taal ook betaal. Ek dink Afrikaans sal beter ondersteun word as die prys daarvoor nie so hoog is nie.

Alana ·

Hallo Susan, dit is baie waar en dit is waarom hierdie kompetisie so belangrik is. Dit help jong Afrikaanse ondernemers om bekend te word en ‘n plek in die mark te kry. Met meer kompetisie (en ek bedoel deur gehalte diens én produkte aan te bied) sal pryse ook meer realisties wees. Gaan kyk gerus na van die genomineerdes en wenners se pryse. Dit is dikwels baie billik. Ons moet hulle help om te groei en ‘n positiewe rol in die mark en vir Afrikaans te speel.

Retha ·

Baie geluk klerekas.com! Julle lewer puik diens en julle produkte se kwaliteit is van nog beter gehalte! Julle is ‘n inspirasie vir ons taal en ekonomie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.