Twee SA-studente doen internskap by Boeing

Keegan Moore Foto: Wits

Keegan Moore
Foto: Wits

“Ek wou al van 11-jarige ouderdom by Boeing werk,” vertel Keegan Moore, een van twee nagraadse studente aan Universiteit van die Witwatersrand (Wits) wat besig is met ʼn internskap by Boeing, die grootste vervaardiger van kommersiële vliegtuie.

Moore en Mbalenhle Sekautu is deel van ʼn elite groep internasionale nagraadse studente wat in Januarie begin het met ʼn ses maande lange internskap in die VSA. Moore het ʼn honneursgraad in bedryfsingenieurswese en Sekautu ʼn meestersgraad in strategiese bemarking.

Die studente gaan omvattende sakeondervinding by Boeing opdoen. Die internskap is deel van The International Business Internship Program waarin studente met waardevolle blootstelling en kennis van die sakewêreld toegerus word. Studente word geleer van sakepraktyke soos finansies, bemarking en strategieë binne die lugvaartbedryf.

Sekautu Foto: Wits

Sekautu
Foto: Wits

Joao Miguel Santos, Boeing se besturende direkteur van Afrika suid van die Sahara en ook die direkteur van kommersiële vlugverkope vir Afrika, het hulle voorspoed toegewens en gesê dat Suid-Afrika net kan baat by hierdie internskap. “Hierdie geleentheid sal die studente toerus met werkservaring wat baie waardevol sal wees wanneer hulle terugkeer na Suid-Afrika.”

Sekautu het gesê sy glo hierdie ervaring gaan haar help om te groei en om mense te leer ken waarmee sy moontlik ʼn lewenslange pad kan stap. “Mense by wie ek kan raad vra en wat my kan inspireer, selfs ná die internskap.”

Moore wil hierdie internskap gebruik as ʼn geleentheid om te leer van ander kulture en sakestyle regoor die wêreld. “Een van my doelwitte is om my eie maatskappy te begin en ek kan nie dink aan ʼn beter plek ondervinding by op te doen nie.”

Lees meer: http://www.wits.ac.za/news/latest-news/general-news/2017/2017-01/wits-pair-in-us-boeing-internship-.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.