Twee van SA onder top-50 onnies ter wêreld

Wendy Horn (Foto: Global Teacher Award)

Twee Suid-Afrikaanse onderwysers, Wendy Horn en Marjorie Brown, is onder die top-50 finaliste vir die Global Teachers Award vir 2017.

Horn is die skoolhoof van Protea Heights Academy in Proteahoogte in Kaapstad, en spesialiseer in wiskunde en wetenskap. Sy het al voorheen ook toekennings vir onderwys gekry, insluitend die nasionale onderwystoekenning vir uitnemendheid in wetenskap-onderwys.

Brown, ʼn onderwyser by die Roedean School in Parktown, Johannesburg, is ʼn voormalige menseregte-aktivis en leer jong meisies oor geskiedenis. Sy het die Kids’ Lit-program in Suid-Afrika begin, en sy lei dit steeds. Volgens Brown is sy toegewyd daaraan om kinders se geletterdheid te verbeter in ʼn ongelyke samelewing.

Marjorie Brown (Foto: Global Teacher Awards)

Die Global Teachers Award word jaarliks aan ʼn merkwaardige onderwyser gegee wat ʼn uitnemende bydrae tot hul beroep gemaak het. Dit word gesien as die “Nobel-toekenning van die onderwys”. Die wenner kry ook $1 miljoen (meer as R13 miljoen) prysgeld, wat die grootste prys van sy soort is. Die wenner word in Maart 2018 aangekondig.

“Die prys wil die belangrikheid van onderwysers onderstreep. Dit wil die impak van die beste onderwysers op hul studente én op hul gemeenskappe erken,” lui inligting op die Global Teachers Award se webtuiste.

Horn sê sy is opgewonde daaroor om deel van die top-50 onderwysers vir dié prys te wees. “Dit is beide ʼn opwindende ondervinding én een wat my nederig laat. Dit is ook ʼn bietjie uitdagend, omdat jy weet ander opvoeders gaan nou na jou opkyk vir inspirasie, mentor- en leierskap,” het sy aan Global Teachers Award gesê.

“Dit is nie moontlik om ʼn uitstekende onderwyser op jou eie te word nie. Hierdie benoeming erken ook die harde werk van al die onderwysers wat my gementor het, wat saam met my gewerk het, en wat my die onderwyser gemaak het wat ek vandag is.”

Meer as 8 000 onderwysers vanuit 148 lande oor die wêreld doen aansoek om dié gesogte titel.

Horn se passie vir wetenskap en tegnologie, en spesifiek haar bemagtiging van meisies om leiers in dié velde te word, het uitgestaan vir die Global Teachers Award, terwyl Brown naam maak met haar internasionale Kid’ Lit Quiz en Phendulani Literacy Quiz wat geletterdheid in skole met min hulpbronne bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Arak ·

Ja, want mens wil regtig ‘n menseregte-aktivis hê om jou kinders geskiedenis te leer.

/sark

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.