Tweedehandse winkel steun kinders wat wees gelaat is ná plaasaanval

‘n Bakkievrag vol klere is aan Deja vu geskenk. (Foto: Verskaf)

Andri Boshoff en haar man, Adriaan, was só aangeraak deur die dood van twee van hul vriende, dat hulle besluit het om in te spring om dié se kinders finansieel te ondersteun.

Nadat ʼn plaasmoord drie kinders by die Hartbeespoortdam wees gelaat het, het Andri en Adriaan, ʼn kunstenaar, ingespring om dié kinders te ondersteun.

Die egpaar het in 2016 ʼn aanlynkunsveiling van stapel gestuur om geld in te samel vir drie dogters wat ná die moord van hulle ma, Laurika Potgieter, op haar kleinhoewe wees gelaat is. Hulle pa is twee jaar vroeër aan natuurlike oorsake dood. Kunstenaars van reg oor die land het toe kunswerke geskenk wat opgeveil is. Die veiling het nagenoeg R400 000 opgelewer.

Die geld is sedertdien in ʼn trustfonds geplaas om die drie kinders, onderskeidelik 23, 19 en ses jaar oud, te ondersteun. Die oudste dogter studeer tans onderwys by Aros en werk deeltyds, terwyl die 19-jarige sussie op Potchefstroom studeer. Die jongste sussie bly, na wat Maroela Media kan verneem, by haar oudste suster.

“Ons kinders was saam op skool in Broederstroom en hulle was vriende. Die insameling was baie suksesvol en die kinders word tot vandag toe ondersteun,” vertel Boshoff aan Maroela Media.

Nog ʼn vriend van die Boshoff-egpaar, Johan van Wyk, is in Junie dood weens komplikasies nadat hy in ʼn plaasaanval geskiet is. Sy vrou en die ma van twee van sy kinders is vroeër weens ʼn onbekende siekte dood.

Van Wyk, die bestuurder van ʼn hoenderplaas in die Lanseria-omgewing in Gauteng, is op 11 November 2018 geskiet toe aanvallers toegeslaan het. Verskeie skote is gevuur en hy is nege keer getref. “Die kinders (19, 13 en 11 jaar oud) het nog die dood van hul ma probeer verwerk toe hulle die trauma moes deurmaak van hul pa wat voor hulle geskiet is. Hulle het geen ondersteuning, berading of bystand van die regering ontvang nie,” sê Boshoff.

Toe die Boshoff-egpaar wou ingryp om finansiële bystand te verleen, het die swak ekonomie hul planne gekniehalter. “Ons het weer ons kunsvriende gevra om saam te staan om vir die kinders ʼn geldinsameling aan te bied, deur middel van ʼn veiling op Envy Artists Direct Online Auctions.”

Hulle kon dié keer egter net sowat R60 000 insamel.

Deja vu winkel. (Foto: Verskaf)

“Die gedagte het toe ontstaan om ʼn winkeltjie, waar ons tweedehandse klere, skoene en goedere kan verkoop, te gebruik om ʼn deurlopende inkomste vir hierdie kinders te genereer. Ons almal gooi so af en toe ons kaste uit en baie keer is die klere nog heel bruikbaar. Hierdie klere word aan ons geskenk, dan verkoop ons dit ter ondersteuning van die kinders.”

Die Boshoff egpaar, wat self vyf seuns het, het intussen van Hartbeespoortdam na Brandfort in die Vrystaat verhuis. Hier het hulle die Deja vu-winkel drie maande gelede oopgemaak vir dié doel. Hier werk die oudste Van Wyk-seun smiddae teen ʼn salaris, terwyl hy ook studeer om ʼn fiksheidsinstrukteur te word.

Die twee minderjarige Van Wyk-kinders woon tans saam hul halfbroer by sy ma op Brandfort. Die jonger broer en suster is uit Johan van Wyk se tweede huwelik gebore.

“Déjà-vu is die verskynsel wanneer jy ʼn gebeurtenis beleef asof dit al voorheen plaasgevind het,” verduidelik Boshoff die naam van die winkel. “Die tweede plaasaanval het gevoel soos ʼn herhaling van die eerste keer – weer ʼn plaasmoord, weer drie kinders wat sonder ouers gelaat is en weer die hulp wat ons wou bied. Die naam pas ook omdat dit ʼn tweedehandse klerewinkel is.”

“Die winkel bied ook vir die plaaslike mense ʼn geleentheid om goeie gebruikte klere teen ʼn lae prys aan te koop, terwyl die geld aangewend word om die Van Wyk-kinders te ondersteun.”

Die Boshoffs oorweeg nou om nog so ʼn winkeltjie in Theunissen, sowat 46 km van Brandfort, te begin.

Mense wat die winkel wil ondersteun kan klere by verskeie aflaaipunte laat. In Johannesburg kan goedere by Johan Sadie by Bullion IT op die hoek van Sloanstraat en Georgiansingel, in Bryanston afgelaai word. Inwoners van die Rosestad kan goedere aflaai by André Salzmann Kuns, by Louw Wepenerstraat 10 in Bloemfontein en in Brits is die aflaaipunt dr. Raath se spreekkamer by Harringtonstraat 9.

Skenkers kan goedere ook by Deja vu, Voortrekkerstraat 12, Brandfort, aflaai of van die Pep-na-Pep-diens gebruik maak.

“Die verste wat ʼn pakkie al na ons gereis het, is die hele ent van Port Elizabeth af,” sê Boshoff.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Maria ·

Dankie aan almal omgee. Mag dit alles in goede uitwerk en geseen word.

marlene ·

Adriaan, seeninge vir jou en Anri se inisiatief en jul omgeeharte van goed.

Frani ·

Wil julle nie asb n aanlyn winkel begin nie dan kan ons almal dit so ondersteun ook

Simba ·

Sien, twee mense kan n groot verskil maak. Julle is regtig engele hier op aarde. Die regering voel n veer vir die slagoffers . Gelukkig is daar mense soos Adriaan Boshoff wat omgee.

Wilma Smith ·

Het julle nie ‘n aflaai plek in Pretoria nie asseblief? Julle doen wonderlike werk.

Susna ·

Ek is in Alberton, is bereid om goedere te ontvang as afgee plek, is daar iemand van julle organisasie wat dit dan hier kan kom optel?

Amelia ·

Ek is in Reitz en as hier naby iemand is wat klere kan saamvat of n aflaaipunt, laat weet asb.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.