Tweejarige wys sy kuns

 kinderkuns1Deur Susan Maré

Die Oos-Vrystaat is bekend as een van die streke in Suid-Afrika wat oorloop van skilders, musikante, skrywers en ander kunssinniges.

Klein Nicholis Wheatley (2) was sekerlik die jongste kunstenaar nóg in Bethlehem wie se skildery deel was van ʼn uitstalling van kinderkuns wat in die Dihlabeng Mall gehou is.

Hy het sy kunswerk, wat Picasso in sy graf sou laat omdraai van plesier, op 20 maande die lig laat sien. Nicholis was gladnie skaam om sy debuutskildery te  deel nie en sy ma, Vinia Wheatley, ʼn kunsonderwyser, is ewe trots op al haar jong spruit se kunswerke. Die Nederlandse spreekwoord, “Zo als de oude zongen piepen de jongen” is hier ʼn praktiese voorbeeld.

Van nader beskou, lyk klein Nicholis se skildery na ʼn goeie balans tussen kleur en vorm. Die knapie het sélf al sy kleure gekies met die oortuiging en wil van ʼn amperse tweejarige. Sy komtemporêre werk was uitstaande.

Vinia is reeds vir nege jaar bedrywig as private kunsonderwyser in Bethlehem en sê die waarde van kunsonderrig kan nooit oorskat word nie. Haar ervaring is dat dit kinders help om die estetiese in die lewe raak te sien en dit met teken- en verfkuns uit te leef. As kunsonderwyser ervaar sy dat dit  individualiteit, selfvertroue en akademiese vordering op skool bevorder. Selfs ouers kon ʼn groot verandering by hulle kinders bespeur nadat hulle met kunsklasse begin het, waar daar geen kompetisiedruk is nie.

Haar kunsleerlinge is vier jaar en ouer. Sy bied haar klasse aan vir terapie en ontspanning en nie om aan kunswedstryde en kompetisies deel te neem nie. Kinders is reeds so oorbetrokke en gejaagd en in die kunsklas moet hulle net kom ontspan en hulself uitleef. Met die uitstalling in die Dihlabeng Mall kon hulle hul kunswerke met soveel ander mense deel omdat dit noodwendig bydra tot trots en selfvertroue om ook waardering van buite te ontvang.

Sy laat hulle in verskillende mediums werk, soos akriel- of waterverf op papier en houtskool-, pen- en potlood-tekeninge. Hulle werk ook met klei, mosaiëk, krale, keramiek en hout, sommer enigiets op die aardbodem wat hul kreatiwiteit sal prikkel. Tussendeur word hul kennis verbreed oor bekende kunstenaars, kunsterme en interessante temas.

Vinia sê dit is vir kinders belangrik om te leer hoe om dit wat hulle dink, in beelde uit te druk en visuele beelde te verstaan. “Dit is belangrik dat kinders ook visueel geletterd moet wees. Kuns bevorder veral kinders se probleemoplossingvaardighede en kreatiewe denke.

“Die belangrikste is egter dat kuns hulle gelukkige kinders moet maak, in ʼn gejaagde en ongenadige wêreld, as ʼn veilige, estetiese heenkome van kalmte en rus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.