Tweeling kry 14 A’s: ‘Saam-saam deur die lekker én die swaarkry’

Lariesa (links) en Shalene de Lange (Foto: Verskaf)

Lariesa (links) en Shalene de Lange (Foto: Verskaf)

Nog altyd het dié tweeling van Pretoria alles saam gedoen: Hulle was saam in die hokkiespan, aan die etenstafel, in debat- en redenaarswedstryde en aan’t voorberei vir moeilike eksamens. Nou het dié twee oudleerlinge aan die Afrikaans Hoër Meisieskool ook albei sewe onderskeidings in die matriek-eindeksamen behaal en die toekomsplan verskil nie van dié van voorheen nie: Hulle is wéér saam op pad – na die Universiteit van Pretoria.

Nee, hulle gaan nie in dieselfde rigting studeer nie, keer hulle vinnig. Lariesa de Lange gaan BSc Mediese Wetenskappe studeer en Shalene ʼn graad in Arbeidsterapie.

Vir die eerste keer gaan dié tweeling, wat dikwels sommer dieselfde foute in vraestelle maak of neurie aan dieselfde liedjie wanneer hulle in verskillende vertrekke is, se paaie nou op kampus skei.

Albei het onderskeidings in Afrikaans Huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, gasvryheidstudies en lewensoriëntering behaal.

“Ons is baie na aan mekaar en het ʼn spesiale band. Namate ons ouer geword het, het ons ons eie belangstellings begin kry, maar daardie spesiale band wat ons aan mekaar hou, bly altyd,” vertel Lariesa.

Die De Lange-gesin het die afgelope paar jaar ook baie moeilike tye agter die rug. Shalene ly aan ulseratiewe kolitis , ʼn soort inflammatoriese dermsiekte. Sy het dikwels tye in die hospitaal deurgebring.

Maar dié jaar is hulle jaar, meen dié sussies – wat gesondheid sowel as studies betref.

“Ons glo die spesiale band gaan bly selfs wanneer ons nou op verskillende kampusse gaan studeer aan dieselfde universiteit. Ons gaan nou vir die eerste keer ooit apart van mekaar vriende maak en ander dinge doen, maar ek dink dit gaan ons verhouding net nog meer versterk. Die jaar hou baie positiewe dinge vir ons in en ons is baie optimisties,” sê Shalene.

Die tweeling gaan studeer vanuit hul ouerhuis in Equestria in Pretoria.

Hoe voel hulle oor die uitslae? “Verskriklik bly! En dankbaar dat harde werk beloon is,” sê albei in harmonie amper soos dié van ʼn simfonie.

Vinnige vrae aan die tweeling:

  1. Gungsteling-fliek

Shalene: Courageous

Lariesa: Pad na jou hart

  1. Gunsteling-musiek

Shalene: Afrikaanse musiek soos dié van Joshua na die Reën.

Lariesa: Afrikaanse musiek soos dié van Juanita du Plessis.

  1. Grootste wens

Shalene: Dat die land na die Here sal draai en dat daar vrede sal wees.

Lariesa: Dat my sussie volkome sal gesond word.

  1. Gewoonte

Shalene: Ek maak nie kasdeure toe nie.

Lariesa: Ek raak stil in groot groepe mense.

  1. 2017 in een sin

Shalene: Ek wil na die Here se stem luister dié jaar.

Lariesa: Al my vakke slaag en nuwe mense ontmoet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Arsène Lupin ·

Pragtig – maak mens so trots as ons afrikaanse kinders so goed doen op skool!

Liza ·

Geluk tweeling dogters, pragtig …sterkte vorentoe met julle loopbane, en Shalene mag die Here jou volkome genees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.