Tweeling tuis: ‘Ons kan nie genoeg dankie sê’

Reynard en Desiré. Foto: La’ane Photography/Facebook

“Ons grootste droom het waar geword en ons kan nie genoeg dankie sê nie.”

Só sê Karen Swanepoel (43) oor haar en haar man, André (47), se tweeling wat uiteindelik by die huis is. Reynard en Desiré is op 14 September met behulp van ʼn keisersnee in die Mediclinic George gebore en op 10 Oktober ontslaan.

Maroela Media het vroeër berig Karen se vorige man en twee jong kinders is ses jaar terug in ʼn ongeluk dood. Karen en haar oorlede man, Schalk (39), was op 10 Januarie 2012 saam met hul kinders, Jeanelle (5) en Juan (2), op pad Bloemfontein toe, toe hulle in ʼn botsing reg van voor op die N1-hoofweg tussen Ventersburg en Winburg betrokke was. Schalk en hul dogtertjie is op die toneel dood verklaar. Klein Juan is kort ná sy aankoms by die hospitaal dood.

André en Karen Swanepoel. Foto: La’ane Photography

Karen is met ernstige beserings in die Mediclinic Welkom opgeneem. Sy was aan ʼn ventilator gekoppel en onder verdowing gehou. Sy het eers tien dae later uitgevind haar man en kinders is dood. Sy was drie weke lank in die hospitaal. Eers twee weke nadat sy ontslaan is, kon daar ʼn roudiens vir haar man en kinders gehou word.

Karen en André het mekaar in Oktober 2014 ontmoet. Hulle is later getroud en het in Februarie vanjaar vasgestel hulle verwag ʼn tweeling. Hulle het besluit om die tweeling Reynard en Desiré te noem wat onderskeidelik “wyse beskermer” en “verlangende begeerte” beteken.

Reynard. Foto: La’ane Photography/Facebook

Volgens Karen is die tweeling in die hospitaal gehou aangesien hul suigreflekse nog nie behoorlik ontwikkel het nie en hulle voeding moes ontvang. Karen is op 33 weke swangerskap met pre-eklampsie gediagnoseer en dokters het die tweeling se geboorte tot op 34 weke uitgerek.

Reynard het 2,77 kg by geboorte geweeg en sy sussie 2,22 kg. Volgens Karen was sy en André slaggereed vir die tweetjies. “Dit was aan die begin bietjie moeilik om die twee in dieselfde roetine te kry, maar dit gaan al baie beter. Hulle slaap ook goed. Ons het baie by hulle in die hospitaal gaan kuier en geleer; so dit het ons redelik voorberei.”

Desiré. Foto: La’ane Photography/Facebook

Volgens Karen is André ʼn raakvatter-pa en baie in sy noppies met hul pienkvoete. “Hy is vandag eers terug werk toe, maar het reeds klaar te veel verlang en was vroeër hier by die huis om te kyk hoe dit gaan. Hy geniet hulle verskriklik baie.”

Karen het vroeër vanjaar aan Maroela Media vertel dit was “absoluut net bonatuurlike krag van Bo en baie genade” wat haar staande gehou het ná die dood van haar man en twee jong kinders. “Dit is nie jou eie krag nie. Jy besef daar moet ʼn rede wees hoekom jy gespaar is.”

Volgens Karen is haar en André se grootste en diepste hartsbegeerte vervul toe hulle vasgestel het hulle gaan ouers word. “Dit is ʼn ongelooflike dubbele seëning.”

Karen het voor die noodlottige ongeluk wat haar gesin geëis het ook haar ouer suster in ʼn motorongeluk verloor. Sandra Schutte is in Mei 1995 op die ouderdom van 22 in ʼn motorongeluk in Walvisbaai dood. Karen se ma, Elsa Koorsen, is verlede jaar aan ovariale kanker oorlede.

“Ná al die verliese is hierdie twee geskenkies net soveel meer spesiaal,” het Karen destyds vertel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Gideon ·

Sarel wat is verwarrend!! Jy verwar my nou want nou is ek nuuskierig wat verwarrend is!

A3 ·

Die berig praat van “hulle pienkvoete”….maar dis ‘n seuntjie en ‘n dogtertjie

Nicoline ·

Pienkvoete is babas, nie dogtertjies spesifiek nie.
As ‘n baba gebore word is hulle voetjies pienk, ongeag die geslag.

Alki ·

Daar is niks verwarrend oor hierdie berig nie. Dit is baie goeie nuus. Baie bly daaroor, veral vir Karen, na haar groot hartseer, hoop die twee gaan vir julle groot vreugde bring. Dankie MM dat julle ons op hoogte hou met sulke positiewe nuus

Zettie ·

“Pienkvoet” beteken mos nou ‘n nuweling of babatjie????? Wat’s fout met die berig? Ek verstaan als 100%. Baie geluk met die PIENKVOETJIES en mag daar hope geluk, genade en vrede vir julle as gesin wees. ♥

Hannelie ·

Baie geluk met die twee pienkvoetjies. Mag hul vir julle net vreugde en geluk bring.

Verstom ·

Mamma na al jou ongeluk en seer, mag hierdie 2 pienkvoete julle lewens vul tot oorlopens toe met geluk en vreugde. Ons Hemelse Vader het nie vervang nie, maar terug gegee om weer die vreugde en geluk in jou lewe te herstel. Dank en Ere aan Hom. Hulle is die pragtigste goedjies. Mag pappa se lewe ook vol wees van al 3 van julle.

lolly ·

Baie geluk met julle pienkvoetjies! Mens noem tog nie n seuntjie “blouvoetjies”nie. lol

jakes ·

So bly vir die paartjie. Die Here het hul geseen met n tweeling nadat die vrou haar vorige 2 kinders aan die dood moes afstaan. Wens hul alle voorspoed toe, die Meester is groot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.