Tweelingbroers versprei Jesus se naam wêreldwyd

Die identiese tweeling, Marnus en Jacques Stadler (Foto: Verskaf)

Marnus en Jacques Stadler, ’n identiese tweeling van Kempton Park, se droom om Jesus se naam as Verlosser wêreldwyd te verkondig, het in ’n oogwink begin waar word.

Die 18-jarige tweelingbroers het in Julie 2016 hul droom in realiteit begin omskep toe hulle besluit het om ’n Christelike Instagram-rekening, Reformed by Christ, te begin.

Reformed by Christ is tans die grootste Christelike Instagram-rekening in Suid-Afrika met meer as 93 400 volgelinge van oral in die wêreld.

Die Stadler-broers deel daagliks video’s en foto’s as motivering vir mense om meer vir Christus te leef. Buiten die preke van bekende pastore wat hulle oplaai, lewer hulle ook self ’n preek of twee.

“Ons grootste doel met die Instagram-rekening is om mense te motiveer om geloof as ’n leefstyl aan te neem en so ook om hulle idee van geloof heeltemal te reform,” vertel Jacques, een van die Stadler-broers.

Die Stadler-broers is danksy Reformed by Christ, een van die voorste 30 Christelike sosialemedia‑rekeninge in die wêreld, na ’n sosialemediabespreking in Edmond, Oklahoma, genooi.

Die bespreking is van 29 tot 31 Maart deur die grootste Bybel-toepassing, Youversion, in samewerking met Life Church, aangebied. Die Stadler-broers is geseën deurdat hul koste om die geleentheid by te woon gedek is.

Tydens die bespreking in Oklahoma het die Stadler-broers Emilio Gonzalez, die pastoor van die Templo Victoria de Houston Kerk in Pasadena, Texas, raakgeloop en hy het hulle genooi om by die kerk se jaarlikse konferensie van 24 tot 26 Julie in Texas te kom praat. Hulle gaan ’n praatjie van ongeveer 35 tot 45 minute lewer oor hoop en veral om hoop in God te vind in vandag se wêreld.

Hulle het ’n groot verwagting van dié Instagram-rekening en wil in die toekoms meer na mense begin uitreik en so ook ’n hele ondersteuningsnetwerk tot stand bring. “Ons wil Reformed by Christ as ʼn platform vir mense bied om vrylik hulle getuienisse te kan lewer en ook vir mekaar te bid. Ons wil hierdeur mense laat besef dat hulle nie alleen is nie,” vertel Jacques.

Die Stadler-broers se ma, Louise Stadler, kan nie uitgepraat raak oor hoe trots sy op haar twee seuns is nie. “Aanvanklik het ek nie iets van die idee van die Instagram-rekening gemaak nie totdat ons toergids tydens ons toer in 2017 in Israel my vertel het van die seuns se 50 000 volgers op Instagram. Ek het toe eers besef hoe groot hierdie is,” vertel Louise.

Sy het ook aan Maroela Media vertel dat sy en haar man aanvanklik nie ten gunste was van die idee dat hulle seuns teologie moet gaan studeer nie omdat hulle vas geglo het hulle sal sukkel om ʼn bestaan te maak.

“Ons besef nou anders en dat ons nie in die Here se pad kan staan nie. As hy jou roep, sal Hy ook sorg,” sê Louise.

Die Stadler-broers is albei Teologie-studente in hul eerste jaar aan die Universiteit van Pretoria. Hulle grootste droom is om eendag hulle eie kerk te kan begin en ook verder ’n impak te maak deur Reformed by Christ.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Ida ·

Behou julle geloof!!
Die meeste studente wat daar slaag verloor almal dit langs die pad!!

JK ·

Wees net versigtig met daai “eie kerk begin” , sover was al die “eie kerke” n bedrog en skandaal gewees, en om nie tax te betaal nie.

Jacques Stadler ·

Ja, definitief! Ons wil ‘n kerk begin wat op God se woord gebou is.

Damaris ·

Dis baie indrukwekkend… Dit lyk egter of hulle ‘n goed-voel, melkkos “teologie” verkondig.

Mag die Here in hul harte werk om Hom werklik te leer ken.

Hulle hét nou al die volgers – daar is soveel potensiaal om aan hulle die suiwer leer van die Evangelie te verkondig!!

Jacques Stadler ·

Ons doen 2 keer ‘n week live videos. U kan daarin sien watter teologie ons preek. Ons preek beslis nie goed-voel teologie nie.

Oop oge ·

Tensy die vertrekpunt nie Handelinge 2:36 – 40, deur die stem van Gods gestuurde profeet (Maleagi 4:4,5&6) is nie, is dit maar net nog n dwaling om lou warmes goed oor hulle self te laat voel…. en daar is miljoene van hulle…

Kharen ·

En net toe ek dink dis nou n goed-voel berig…dan kom die oordeel alweer….ai Damaris. Ek is stom. Ek wonder wie moet Hom WERKLIK leer ken.

J ·

Ek bid Jesus se seeninge oor julle uit. Moet jul nie steur aan negatiewe kommentaar nie. Julle is Jesus se kinders en Hy ken julle harte.

Jessica ·

God is good all the time. Julle is voorwaarlik dissipels van Jesus en God se volmaakte plan sal in julle lewens volbring word. Ons bid dat die mense op julle reis sal hoor sodat God hulle kan laat sien. Julle is in ons gebede.

Jacobus ·

Ek het nou die dag n prediker op youtube ondek wat my lewe verander het en ek voel of n las van my af is! soek vir sam harris op youtube en luister vir so paar minute.

Helena ·

Tannie is trots op julle twee boetas. Ek glo God het julle geroep vir hierdie ongelooflike groot werk. Die wereld het meer van julle nodig, en aan die wat klippe gooi, wat doen jy om die Woord van God aan die wereld te verkondig? Onthou tog die oordeel kom ons nie toe nie.

Rina van der merwe ·

Sterkte Seuns. Ek dink dis wonderlik dat daar nog jongmense is wat, nie net glo nie, maar ook God se woord verkondig. Onthou altyd dat daar kritiek sal wees maar dit is nie kritiek waaraan die Here Hom sal steur nie, daarom moet julle ook nie. Ons hou julle in ons gebede. Doen so voort!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.