Tyd, daar is mos baie tyd…

(Foto: Aron Visuals/Unsplash)

Daar is mos baie tyd. Ons sal nog by die familie gaan kuier. Net nie nou nie. Ons is so besig, die naweke vir die res van die maand is vol – met die kinders se goed en verjaarsdagpartytjies en sosiale geleenthede. Ons sal so bietjie spaar en Desember, ja, Desember sal ons by almal uitkom. O, wag, ons het nou die geleentheid om te gaan kamp in Desember. Die kinders sal dit so geniet! Goed, dan maak ons dit Januarie. Maar jy weet hoe dit gaan: Januarie trek ons maar altyd noustrop. Jy weet mos self. Skoolklere en skoolfonds, en ons het dalk bietjie te veel spandeer in Desember. Dis hoe dit maar gaan. Maar ons sál kom braai. Ja, sê net wanneer!

Ag, ons het toe nooit die beloofde kuier gehad nie. En toe immigreer ons. Maar ons beplan so elke tweede jaar ’n kuier in Suid-Afrika. Dán sal ons inhaal vir al daardie kuiers wat ons gemis het, oukei? Ons gaan by almal uitkom, vir seker!

Kan jy glo ons is al so lank uit die land? Tyd vlieg darem! Die kinders mis almal, en ons ook. Ek kan nie wag om almal te sien nie. Ons bespreek nou ons vlugte, en ons gaan vir twee weke daar wees, dus sal ons mooi moet beplan om almal te sien. Meimaand, ons laat weet net solank vir jou die datums. Ons wil julle so graag sien, asseblief skryf dit solank in jou dagboek.

Die nuus sê iets oor ’n virus, maar dis in China. Klink asof dit erg is. Fooitog, die arme mense. O, in Europa ook, sê jy? Dit versprei baie vinnig, lyk dit my. Maar dit sal ons seker nie beïnvloed nie, ons vlieg net van Nieu-Seeland af met ’n stop in Australië. Ons is almal so opgewonde, twee jaar is darem maar lank!

Maar hoe kan ons vlugte gekanselleer wees? Dis nie regverdig nie! Ons het die familie belowe! Kan nie wees nie! Wag, ons sal die vlugte skuif na September. Sekerlik sal alles weer normaal wees teen dan. Maar die lugredery sê daar sal eers weer in Junie 2021 vlugte wees. Goed, dan byt ons maar vas vir nog ’n paar maande. Dit is darem net een jaar. Wat?! Eers teen 2022 weer vlugte? Dink jy ons kan ons geld terugkry? Anders weet ek nie hoe ons dit sal kan bekostig om die familie te gaan sien nie. Hulle sal so teen Maart volgende jaar besluit, sê hulle. Daar is nog tyd, so ons sal julle laat weet wat die plan is.

Jinne, ek hoop ons het nog tyd om by Ouma en Oupa te gaan kuier. Die tyd stap aan, en hulle word nie jonger nie. Oumagrootjie is amper 85. Jy weet, dit sal meer as drie jaar wees vandat ons hulle laas gesien het. Die kleintjies onthou nie eens meer hul niggies en nefies nie. Ek het nooit gedink ons sal hulle vir so lank nie sien nie! Wie sou kon raai die wêreld wat eens vir ons oop en wyd gelê het, is nou so afgesluit? Dit wat ons veilig hou, voel vir my so asof dit ’n tronk is wat ons tyd steel.

Wat? Het álbei hul werk verloor? Nou wat gaan hulle maak? Kan jy jou indink hoe dit moet wees? Hoe kan ons nou help? Ons is so ver, so magteloos… Hul kinders moet nog skoolklere ook kry, want hulle groei so vinnig. Maar hulle is nie eens seker wanneer die skool gaan begin nie. Man, ek hoop die skool is genadig met mense soos hulle wat nie nou skoolfonds kan betaal nie. Dis so onregverdig. As ons maar net bietjie kon gaan kuier of hulle oornooi vir ete…

Ek hoor die nuus en my hart breek. Sê vir my dit is nie so nie? En sy kon nie eens haar ma gaan groet het nie, want sy sit mos in Australië. Net ’n roudiens op YouTube. Hoe neem mens so afskeid? En die oom is nog steeds siek. Dit maak ons almal bekommerd. Hy moet na homself kyk, en nou is hy alleen. Sy kan nie eens na haar pa toe gaan nie. Sy sê nou sy wens sy het meer tyd met haar ouers spandeer? Sy sê sy voel nou so skuldig? Ag, wat kan ons doen? Net bid. Net bid…

Ek voel ook skuldig. Ek weet, ek weet: ons almal se lewe is so gejaagd. Ons almal het ’n duisend dinge om te doen. Maar jy dink jy het tyd vir alles. Jy dink jy het tyd om later by die mense uit te kom. Jy dink jy sal later tyd maak om te bel en te hoor hoe dit gaan. En hulle sien mos wat aangaan in jou lewe op Facebook. Of stuur gou ’n WhatsApp: “Ons gesels later”.

Want daar is mos nog baie tyd.

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee. René en haar gesin woon tans in Nieu-Seeland.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Menan ·

Hierdie is een van die waarste goed wat ek nog gelees het! Skoon ‘n knop in my keel nou……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.