Tyd, genade en om nie ʼn Eli te wees nie

Argieffoto (Foto: kisss, Pixabay)

Die afgelope tyd het soveel nuusgebeure ons gemoedere afgedruk in die grond in. Dinge wat rondom ons gebeur, breek ons harte. Dit maak ons binneste seer, soms sommer net woedend.

En dan kom klop siekte aan iemand naby aan jou se deur en ʼn vuishou tref jou in die maag ….

Maar, tussen die hartseer, hoekoms en waaroms, besef jy dat groot genade saam by die deur van groot hartseer ingestap het. Tyd. Tyd om weer na binne toe te keer en die wat die naaste aan jou is se hand te neem, lief te wees, te ondersteun, maak nie saak hoe nie. Die een troos, die een bid, die een huil, die een was skottelgoed, die een braai die tjoppies. Ons almal is saam, ons weet nie – dis miskien die laaste keer, maar ons is daar, ons deel, elkeen op sy eie manier, skouer aan skouer.

Deur al die trane in my hart, besef ek, wat ʼn ongelooflike voorreg om kans te hê om so saam te wees.  ʼn Kans te hê om te praat, reg te maak, ʼn kans om behoorlik koebaai te kan sê. Wat ʼn groot, groot genade. Die finale koebaai het nog nie gekom nie, maar ons is dankbaar vir kosbare tyd. Dit is jou nie altyd beskore nie …

Dan gaan my gedagtes na ʼn gesprek wat ek langs die hokkieveld met ʼn vriendin gehad het.  ʼn Boodskap wat die Here in haar hart gelê het om te deel met ʼn paar onderwysers, van hulle perfek in die klas, maar hul eie huise nie so perfek nie. Dit gaan oor Eli. Eli was ʼn wonderlike Godvresende man, hy het vir God gewerk, hy het Samuel goed groot gemaak. Sy eie kinders was egter ʼn ander storie.  Daarom het God Eli gestraf.  Alles om hom was reg, maar sy binnekring, die naaste aan hom, was nie ‘gesond’ nie.

Die boodskap wat ek daardie koue oggend langs die hokkieveld gekry het, steek by my vas. Hoe lyk my binnekring – my familie, my gesin? Is God tevrede? Ons is soms so bitter besig met alles om ons, die buitemuurse aktiwiteite, die pot wat aan die kook gehou moet word, balle wat in die lug gehou moet word. Ons vergeet om te sorg vir die binneste van dié wat die naaste aan ons is. Dit is so duidelik dat dit vir God belangrik is dat ons huis in orde moet wees en ons kinders kerngesond moet wees. Hy gaan nie vra hoe hard het jy in jou lewe gewerk nie, Hy gaan vra hoe gaan dit met jou kinders… Die kans om reg te maak en behoorlik koebaai te sê, gaan nie altyd oor ons pad kom nie.

Mag ons die genade van die tyd wat ons saam met ons geliefdes het nooit vanselfsprekend aanvaar nie.  En bo alles, mag ons nie ʼn Eli wees nie…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Darryl ·

Dankie daarvoor Annelize..Ek het nou tot die besef gekom dat as n geskeide pa van 1..ek Sondae ipv haar uit te vat vir ete ens..eers die fondament reg te lê..voortaan sal die reëling wees..eers Kerk..dan die res..so maklik om n mens se prioriteite verkeerdom te kry.

Marina ·

Sjoe. Hoe tref hierdie boodskap my vanoggend asof die skrywer nét vir my hierdie woorde in ‘n waarheid omskep het… Onderwyseres?√ balle in die lug probeer hou?√ skoowerk perfek, op datum, tot op elke puntelys en desimale na?√ mooi, juffrou. Wel gedaan, altyd op jou pos.√
Maar … Wat se kwaliteit tyd is daar vir jou halfblinde moeder wat by jou bly, afgetree, heeldag alleen en jy, juffie is te besig om hierdie blog se waarheid aan haar voor te lees?× Wanneer laas het JY vir ousus gebel, wat daagliks haar eie uitdagings moet “face”? × en kleinsus daar doer in die Vrystaat?x wat van jou matriekseun wat besig is met Junie eksamen en onseker is oor die toekoms?x wanneer laas het jy jou beste vriendin bietjie gebel?x
Daar is meer x as √ in my lewe en hierdie blog het my dit vandag laat besef.

Mariska Vermaak ·

Wat ‘n mooi boodskap!! Laat jou dink… baie dankie!! Dit praat met ons almal in vandag se gejaag en warboel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.