Tyd is min vir ‘Stadsboer’-inskrywings

As jy wil deelneem en by die hoogtepunt van jou jaar betrokke wil wees, moet jy gou maak en inskryf, die tyd is min!

Die komende Jong Stadsboer Veldskool, vanaf 26 Maart tot 1 April in die hartjie van die Waterberge, se afsnydatum is enkele dae weg. Die gasheer vir die vierde jaar – Berchtesgaden Game Ranch and Lifestyle Farm – sal jou trakteer op ’n vol week gepak met aktiwiteite oor ʼn breë spektrum. Hul liefde vir die natuur, die opbou en behou van moederaarde en die voortbou en bewaring van ons fauna en flora sal met groot passie aan jou oorgedra word. Al wat jy moet doen, is om op te daag. Hierdie uitnodiging is gerig aan gr. 8- tot 10‑leerders, kontak ons gerus en indien ons jou kan huisves, maak ons so.

’n Wegbreek van sewe dae uit die stad, weg van die gedruis van voertuie, vragmotors en vliegtuie en die gejaag na wind na die suiwerste Bosveldstilte, met grondpaaie, donker nagte en hakkiesdraad. Berchtesgaden verwelkom graag weer tydens die Maartskoolvakansie die eerste 30 om te kom deel in die pret van Stadsboer, maar ook die meelewing van ’n werklike wilds- en boerplaas. Inskrywings word nog ontvang, maar kontak ons gou om teleurstelling te voorkom.

Berchtesgaden Game Ranch sal die tuiste wees waar die kennis van wild en natuur en wat daarmee gepaard gaan, sal gedy. Berchtesgaden Lewenstyl Boerplaas sal jou leer van tradisonele boerdery met vee en gewasse. Het jy al ’n blikbeker vol warm melk reguit vanuit Trixie se spene gedrink of warm beesmis opgetel en tussen jou vingers gedruk dat dit uitpeul?

Die program het ten doel om die jeug blootstelling te gee aan boerdery- en wildsplaasaktiwiteite, om die aktiwiteite te bestuur asof dit hul eie grond is. Alles gaan ook nie net om boerdery gaan nie; sterrekuns, nagwaak wanneer jy in die bos gaan uitslaap, vuur maak sonder vuurhoutjies anders is daar nie koffie nie, swem en vlotbou en vele meer sal jou elke aand uitgeput laat. Na ’n deeglike dag se werk, hetsy op die boerplaas tussen melkbeeste, skape, hoenders, varke en boerbokke of op die wildsplaas self, keer die leerders terug na die saligheid van die lodge waar hulle die bosveld se bekroonde stiltes en naglewe sal ervaar. Dit sal ook hier wees waar jy sal smul aan heerlike maaltye – want ’n boer moet ook eet.

Akkreditasie? Moenie verder daaroor bekommer nie, hierdie wye kurrikulum is behoorlik voorberei en word gereeld deur ’n bekwame span van leiers bygewerk. Elke student ontvang praktiese kennis wat hy of sy kan saamneem huis toe (as jy wil teruggaan) en uitleef, al is dit net in die agterplaas vir tyd en wyl.

So indien jou kind oorborrel van energie, ’n passie het vir die natuur, ’n liefde het vir breë boerderybegrip en mal is oor die buitelewe met al sy avonture, sal hierdie week jou kind soos ’n handskoen pas.

Daar is min geleenthede daar buite om ons kinders terug in die natuur te kry en die werklike plaaslewe eerstehands te ervaar. Hierdie bied hulle die geleentheid en verryk jou kind se kennis oor die lewe buite die stad.

Sou u met ons wil kontak maak, stuur ʼn e‑pos aan [email protected] of skakel of whatsapp ons op 083 250 7989.

Kyk hier na ’n kort video van Berchtesagden Game Ranch. Jy kan ook op Berchtesgaden se webblad asook die Facebook-blaaie van die Wildsplaas en Leefstylboerplaas waar jy jou tyd gaan deurbring, gaan loer.  As jy op datum wil bly met wat by ons aangaan, gaan volg dié blaaie.

Skryf hier in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.