Tye van niks ʼn belangrike iets

Argieffoto (Foto: Geralt, Pixabay)

“Niks doen” is een van ons hedendaagse tyd se “most deadly sins”! Maar tye van niks is eintlik ʼn baie belangrike iets!

Ek lees ʼn artikel raak op die webblad www.healthista.com waarin dr. Royta Kanai skryf: In daardie tye wat vir jou voel soos die duiwel se duvet, naamlik niksdoen, terwyl jy wag in die ry by die poskantoor of die dokter se spreekkamer (of, soos ek, onlangs drie uur en 20 minute by die lisensiekantoor om my bestuurskaart te hernu) – in daai “blank oomblikke” is jou brein eintlik besig om homself en sommer jou hart ook uit te sorteer en reg te pak. Hy organiseer jou geheue en jou emosies en selfs jou toekomsplanne – wat gooi ek weg en wat maak ek vas? En dit dra by tot jou algehele welstand en jou emosionele gesondheid!

Maar nou kom ons nooit tot rus nie! Elke sekonde van ons onmenslike strewe na produktiwiteit en doeltreffendheid is tjok-en-blok vol met óf ʼn Facebook-like en –share, heen-en-weer-“WhatsApp” óf e-pos op jou slimfoon. Dis eintlik so vreemd! Ons maak ons los van die hier-en-nou in-die-oomblik om ons te kan verbind met mense doer ver via die internet! Geen wonder ons is so moeg en uit voeling met wat om ons aangaan nie.

Daar op die klipharde staalbankies van die lisensiekantoor waar ek toe nou ʼn paar uur deurbring, raak ons aan die gesels. Ons wend selfs ʼn poging aan vir ʼn Mexican wave op die stoele buite die ses hokkies waar jy oë toets (en waarvan net twee gebruik word!) Teen die einde van die lang wag is ons reg om ʼn braai te reël! Die vrou langs my was die geslane tyd met oorfone in die ore verbind aan ander mense in ʼn ander wêreld …

Ons kla oor die chaos in ons lewe en ons hoor nie die Here se stem nie, maar met alle respek – wanneer moet Hy ʼn beurt kry? Wanneer is jy stil genoeg sodat Hy hierdie deurmekaar binnewêreld van ons kan regpak sodat ons weer ʼn impak kan maak in die buitewêreld waar God konstant aan die werk is?

Ons menswees en ons wees-met-mense verarm omdat ons so op ʼn afstand en afgesonder leef … Ek sê “slat ʼn blank”! Jou kop en jou hart het ʼn lugleegte nodig – God het spasie vir inspraak in jou lewe nodig. Hy wil sy hart en sy gedagtes, sy planne en sy vrymakende waarheid met ons deel – gee Hom ʼn gaping!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.