Uit die swart van rou spruit ʼn Engelprojek

Anda Grobbelaar (Foto verskaf)

Deur Elize Perrin

“Sy staan op my kas in die ingangsportaal. Ek sê elke dag hallo en koebaai en as ons gaan stap, vat ons haar saam,” vertel Anda Grobbelaar. Sy verwys na die kissie met as van haar dogtertjie, Anelda, of Bibi soos die gesin na haar verwys, wat op 1 Augustus 2001 stilgebore is. 

Die swangerskap

Terugskouend was daar sekere gebeure tydens die swangerskap wat dalk as tekens of ʼn voorgevoel beskou kan word. Bibi het glad nie met Anda se liefde vir seekos saamgestem nie en laasgenoemde moes maar daarvan afsien. Tydens inkopie-uitstappies saam met haar man, Len, en oudste dogtertjie, Lané, sou Anda items wat hulle vir die baba in die waentjie plaas, uithaal en liewer vir Lané ietsie koop.

“Ek het ook ʼn presiese prentjie in my kop gehad van hoe Bibi se kamer moes lyk, maar ek kon glad nie iets kry waarna ek gesoek het nie,” vertel Anda.

Len het elke oggend vir Bibi, met ʼn streel oor Anda se maag, gegroet. Een Maandagoggend het Bibi nie gereageer nie. Len was bekommerd en het Anda aangeraai om dokter toe te gaan.

“Ek het vir hom gesê dat sy so groot is, daar is nie plek in my maag nie,” onthou Anda.

“Ek het die oggend eers ʼn vergadering bygewoon en teen 12:00 onthou dat ek die dokter moes gaan sien. Die dokter se ontvangsdame het onderneem om my op die monitor te plaas aangesien die dokter in die teater was.”

“Met die uitstap uit my kantoor het die sekretaresse my gevra om vir haar ʼn sonarfoto te stuur. Ek het geantwoord dat dit nie moontlik sou wees nie. Op daardie oomblik het ek besef Bibi is dood,” vertel Anda.

Op pad spreekkamer toe het Anda ʼn vriendin gekontak en haar gevra om hospitaal toe te gaan. “Ek kon nie verduidelik hoekom nie, maar het geweet my man gaan haar ondersteuning nodig hê,” sê sy.

By die spreekkamer is Anda gemonitor. “Bibi het soos ʼn perfekte klein babatjie in ʼn bondeltjie gelê,” vertel sy. “Daar was net geen hartklop nie.”

Om deur die pyn te stap

Met haar tuiskoms was Lané aanvanklik kwaad vir Anda wat sonder haar sussie huis toe gekom het.

Later was sy egter die een wat haar ma sou probeer troos en ook vir Anda prentjies geteken het wat wys hoe Anda oor Bibi huil.

Vandag nog wek die Titanic-film negatiewe herinnering by Lané. Dit was die eerste film wat sy saam met haar ouers gaan kyk het voor Bibi se verwagte koms en ook die film wat die aand met Anda se tuiskoms, na die stilgeboorte, op televisie vertoon is.

“Tot vandag toe kyk Lané glad nie Titanic nie en luister ook nie na die musiek nie,” vertel Anda.

Die gesin moes ʼn manier vind om hierdie hartseer pad te stap en het begin om saam te fokus op die mooi van die lewe, soos die weerkaatsing van die son op verskillende kleure plante of die wag vir ʼn roos om oop te kelk.

Volgens Anda het hulle nie berading ontvang nie, maar ʼn wonderlike ondersteuningstelsel gehad.

Die eerste drie jaar na hulle verlies het Anda en Lané elke jaar vir Bibi ʼn koek gebak en partytjie gehou. Len het verkies om nie aan die aktiwiteit deel te neem nie.

“Liefste Lané het eendag opgewonde van die skool af terug gekom en voorgestel dat ons vir Bibi ʼn engelpartytjie moet hou. Al die geskenke wat sy van die maatjies sou kry, kan ons dan vir  kankerlyertjies gee,” onthou Anda. “Ek was baie opgewonde oor die voorstel, want nou was daar ʼn doel vir Bibi.”

Engelprojek

Die Grobbelaar-gesin bymekaar. V.l.n.r. is Len, Anda, Andelé en Lané. (Foto verskaf)

Die Engelprojek, soos Lané se voorstel naam gekry het, probeer steeds ʼn verskil in kinders se lewens maak. Anda bedryf die projek baie informeel en nader vriende en kliënte om betrokke te raak. Twee supermarkte ondersteun ook dié projek.

Anda woeker hoofsaaklik in die Kaapstad-omgewing by die Tygerberg-hospitaal. Die hospitaal word gekontak oor wat die kinders nodig het. Die akkommodasie waar ouers kan oorbly is as deel van die projek gemeubileer en toiletware is voorsien. Met Covid is benodighede soos handreiniger en  sneesdoekies verskaf.

“Ons het ook ʼn musieksentrum in die dak vanaf die kindersaal na die teater, waar operasies uitgevoer word, laat koppel. Dit het ʼn kalmerende effek,” sê Anda. ”Lugversorging is by die akkommodasie aangebring en een van die vroue voorsien ook geskenkpakkies vir die personeel. Ons werk slegs met skenkings en geen kontant nie.”

As uitvloeisel hiervan, het enkele ouers in die buiteland ook al soortgelyke partytjies vir hulle kinders gehou.

Die Grobbelaars se jongste dogter, Andelé, deel ook in die beplanning en uitvoer van die projek. Haar liefde vir diere het al gesorg vir skenkings aan diereskuilings.

“My wens is dat elkeen ʼn eie partytjie vir hulle geliefdes sal hou,” sê Anda .

ʼn Groeiproses

Baie ouers kan vereenselwig met Anda se seer. Vir die wat nog aan die begin van die genesingspad is, sou sy wou waarsku om nie in depressie te verval nie; sy het self die donkerte van depressie sien wink.

“Laat toe dat julle vriende en familie julle help” sê sy. “Ervaar die hartseer en pyn en werk daardeur. Luister musiek. Hou mekaar vas. Begin om weer ligpunte in die lewe raak te sien.”

Sy benadruk dat daar nie van die pa en kind(ers) vergeet moet word nie. Hulle seer is net so erg.

Anda se emosionele reis en rouproses het sy verwoord in ʼn boek, Bibi’s Story, wat op Amazon.com beskikbaar is. Verder bied sy sessies aan oor hoe om hartseer in dankbaarheid te verander. Sy het ook onlangs die voorreg gehad om as spreker op te tree by ʼn geleentheid vir vroue met dieselfde seer.

Vir Bibi

Dit is nou reeds byna 21 jaar wat die Grobbelaars die hartseer dag beleef het. Wat sou Anda se boodskap aan Bibi wees as sy die geleentheid sou hê?

“My Liefie, ek is so trots op jou, want jy het toegelaat dat ek ʼn boek kon skryf oor ons storie. Soveel mense het baat gevind daarby en doen nog steeds. Ons hou elke jaar engelpartytjies op jou geboortedag. So maak ons ʼn verskil in ander mense se lewens deur jou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
AmY

Hartseer veral.

Swerwer

Sò kosbaar! Die mooi herinnringe rondom ons Engel kinders wat gekoester kan word hou mens aan die lewe.