Uitblinkers in Afrikaanse media vereer

Marisa Engelbrecht spreek die gehoor toe. (Foto: Verskaf)

Solidariteit het Donderdagaand tydens sy derde Gonsfees vyf #GoeieGons-toekennings in verskeie kategorieë oorhandig.

Die doel van dié toekennings is om erkenning aan baanbrekers in verskeie kreatiewe beroepe te gee.

Die Solidariteit Gilde vir Kommunikasie en Bemarking het vyf beroepe in die kommunikasie- en bemarkingsbedryf geïdentifiseer waarvoor die toekenning geoormerk is. Die publiek kon vir enigiemand in beroepe wat videografie, fotografie, grafiese ontwerp, skryf en radio behels vir hierdie toekenning benoem.

Daarna het ʼn paneel van beoordelaars wat self spesialiste in die onderskeie kategorieë is, die benoemdes se portefeuljes en motiverings deurgewerk en in elke kategorie ʼn kortlys van vyf gekies. Die publiek is ook gevra om vir die mediamense op die kortlys te stem.

Die wenners vir elke toekenning is die volgende:

Videoproduksie (regisseur of vervaardiger) – André Oberholzer van Pretoria

Fotografie (professioneel en stilering) – Lood Goosen van Centurion

Grafiese ontwerp (druk en elektronies) – Hilde Kruger van die Paarl

Skryfwerk (kopieskryfwerk en joernalistiek) – Theunis van Staden van Pretoria

Radio (omroeper of nuusleser) – Sanett Oosthuizen van Mbombela (Nelspruit)

Cilleste van Dyk het die toekennings oorhandig. (Foto: Verskaf)

“Dit was vir ons by die gilde ʼn ongelooflike ervaring om die werk en produkte van elkeen van die finaliste te kon sien en ervaar,” sê Marisa Engelbrecht, sektorhoof van die Gilde vir Kommunikasie en Bemarking.

“Die kreatiwiteit en passie wat elkeen van hulle vir hul beroep en roeping het, is inspirerend. Hierdie hardwerkende mense verdien om erkenning te ontvang en die gilde wou hulle graag met hierdie toekennings vereer. Dit is vir ons ʼn voorreg om hierdie talent te kon beleef.”

Die geleentheid was egter nie net die oorhandiging van toekennings nie, maar het ook ʼn netwerk-nagmark ingesluit waar entrepreneurs en mense uit die kommunikasie- en bemarkingsomgewing saam kon kuier.

Die doel hiervan is om sakeondernemings en rolspelers in die bedryf die geleentheid te gee om kontakte en sakeverhoudinge te bou om sodoende ʼn sterker beroepsgemeenskap te bou waar jong mense en studente ook met potensiële mentors kon omgaan.

“Deel van Solidariteit se gildes se doel is om beroepsgemeenskappe saam te trek en geleenthede te skep waar die mense wat in hierdie beroepe staan met mekaar kan skakel. Spesifiek by Donderdagaand se geleentheid skep ons ʼn platform waar individue en besighede mekaar kan leer ken en met mekaar kan skakel om verdere sakegeleenthede te ondersoek.

“Op hierdie wyse ondersteun die beroepsgemeenskap homself en stimuleer hy sy eie groei. So kan ons lede in hul beroepe asook hul ondernemings net van krag tot krag gaan. Dit is ongelooflik om te sien waartoe mense in staat is wanneer hulle binne hul gemeenskap erken word en die ruimte gegun word om te floreer,” sê Engelbrecht.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.