‘Uitdagende jaar’ stuit nie dié Elsiesrivier-matrikulant

Sigourney Freeman van Elsiesrivier het haar matrieksertifikaat Dinsdag ontvang. (Foto: Verskaf)

Op Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte, waar gemeenskapskwessies soos bendes, dwelmmisbruik en tienerswangerskappe dikwels skoolloopbane kelder, is dit geen maklike taak om matriek te slaag nie.

Des te meer te midde van ʼn wêreldwye pandemie waartydens leerlinge maande lank nie skool toe kon gaan nie en van rekenaar- en internetbronne, wat nie vryelik op dié Kaapse dorp beskikbaar is nie, gebruik moes maak.

Ten spyte van dié uitdagings was Sigourney Freeman, ʼn 18-jarige van Elsiesrivier wat verlede jaar aan die Cravenby Combined School in matriek was, se droom om haar matrieksertifikaat te ontvang nie van die baan nie.

Sy vertel aan Maroela Media sy was oorstelp van vreugde toe sy Dinsdag uitvind sy het geslaag en haar matrieksertifikaat by die skool gaan haal het.

“Ek was baie senuweeagtig toe ek by die skool aankom, want daar was so min mense daar. Hordes kinders het weens Covid-19 nie weer teruggekom skool toe nie en ook nie die matriekeindeksamen geskryf nie,” verduidelik sy.

“Toe ek uiteindelik my sertifikaat in my hande vashou, het ek amper in trane uitgebars.”

Freeman het die beste in vakke soos Afrikaans eerste taal, Engels huistaal, lewensoriëntering en rekenaarwetenskappe gevaar. Sy gee toe dat die uitdagings wat haar tydens haar matriekjaar in die gesig gestaar het, haar “met tye emosioneel geknak het”.

“Ek het nie altyd toegang gehad het tot die internet nie en soms moes ek data leen om my skooltake te kon voltooi. Aan die begin van die jaar het alles goed gegaan, maar toe die skole sluit en ʼn week uiteindelik maande word, het dinge begin skeef loop.”

Sy vertel die gebrek aan ʼn voltydse wiskunde-onderwyser het baie druk op haar geplaas. “Daar was tye wat ek in my kamer net gehuil het en nie wou eet nie. Ek kon nie dink hoe ek my matriekjaar sou kon voltooi met al die hindernisse in my pad nie.”

Freeman woon saam met haar ma, pa, twee susters en haar oudste suster se twee kinders. Een van haar passies is om die gemeenskap van Elsiesrivier te bemagtig en daarom het sy besluit om na afloop van die matriekeindeksamen by die Inspire Youth Network-jeuggroep aan te sluit.

Dié groep fokus op jeugbemagtiging en lê onder meer besoek af by skole om leerlinge met die Woord te inspireer. Volgens Freeman het haar betrokkenheid by die groep haar die selfvertroue gegee om met ander leerlinge te praat om hulle te bemoedig om onder meer hulle skoolloopbane te voltooi.

“Ek was aanvanklik baie senuweeagtig om met my portuurgroep te gesels, maar my kommunikasievaardighede het aansienlik verbeter sedert ek deel is van Inspire en my mentor, mnr. Ross, het my ook moed ingepraat voor die tyd deur te sê dat my ambisie ander meisies kan motiveer om ook hulle drome na te jaag.”

Volgens Freeman is sy nou “amptelik werkloos”, aangesien werksgeleenthede in Elsiesrivier en die omliggende omgewing skaars is. Haar droom is egter om ʼn regsgraad en uiteindelik ʼn MBA-graad te verwerf en sy wag om te hoor of sy keuring gekry het om aan die Universiteit van die Wes-Kaap te studeer.

“As ek nie keuring kry om universiteit toe te gaan nie, sal ek aansoek doen by verskillende kolleges totdat ek ʼn plekkie kry om my drome te bewaarheid. Ek is baie ambisieus en sal enige werk doen wat ek kan kry om vir my studies te betaal.”

Sy vertel haar ouers bars van trots oor hul jongste dogter se prestasie. “Ek het dadelik my ma van die skool af gebel en ons albei was in trane. Dit was so ʼn uitdagende, stresvolle jaar en ek is só bly my ouers het my aanhou motiveer om deur te druk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
katerinadiekat

Pragtige kind, ek is baie bly vir haar.

Mad Mike die Rhodesiër

Dis nou inspirasie! Reik na die sterre, meisiekind!

KhoiKhoi

Ek wens jou net sëenwense toe.
Mag die Almagtige Vader jou verdwr ontferm op jou lewenspad.

Chantel

Hier is nou ‘n uitstekende voorbeeld van dryfkrag. Ek dink van ons kinders besef nie die gemak wat hulle het nie. Welgedaan aan jou jong dame. Ek hoop werklik dat Solidariteit hierdie jong dame sal kan ondersteun in haar toekomsplanne. Ons het meer sulke doelgerigte jong kinders in die samelewing nodig. Sterkte MM hou ons asb op hoogte.

Adrie

Welgedaan meisiekind, jy kan baie trots wees op jouself