Uitdaging op uitdaging vir ma en gestremde dogter

Madeleine van Staden saam met haar dogter, Shanel. (Foto: Verskaf)

Deur Johanni Meiring

Wanneer ʼn mens jou kinders alleen moet grootmaak ná ʼn egskeiding of die dood van ʼn  eggenoot, is jou lewe as ouer geweldig uitdagend – fisiek en emosioneel word jy op talle vlakke uitgedaag.

Madeleine van Staden (53) van Bethal in Mpumalanga stap die enkelouerskapspad al 19 jaar lank. Een jaar nadat haar dogter, Shanel, op 20 April 2002 gebore is, het haar man uit die huis uit getrek, maar hy het hulle steeds finansieel ondersteun. Dit het Madeleine egter steeds alleen met al die fisieke en emosionele uitdagings van ʼn spesialebehoefte-ouer gelos.

Shanel se toestand (serebrale gestremdheid) het ʼn groot invloed op haar gedrag en ontwikkeling. Sy kon nog nooit regtig praat nie en skree baie om te probeer kommunikeer. Shanel kon tot driejarige ouderdom nog nie loop nie, maar het toe geleidelik begin loop. Op vier jaar kon sy self loop, al het sy baie moeg geword. Hulle het haar in ʼn kleuterskool geplaas, maar die kleuterskool het Madeleine aangeraai om haar na ʼn spesiale skool te stuur weens al die uitdagings wat sy by die kleuterskool ondervind het.

Shanel was daarna in twee spesiale skole wat haar goed ondersteun het, maar op negejarige ouderdom het sy by die skool geval en kon daarna nooit weer loop nie. Ná die ongeluk was die dokter se terugvoer dat Shanel se serebellum nooit ontwikkel het nie, en hy het verduidelik dat dit die rede vir al haar uitdagings is.

Shanel se pa is op 19 Februarie 2016 dood. Sy afsterwe het Madeleine aan skerwe gelaat, aangesien sy van toe af self vir hulle ʼn finansiële heenkome moes probeer vind. Voordat Madeleine haar dogter permanent moes versorg, was sy die skoolhoof van ʼn preprimêre skool. Sy kon sedertdien nog nie weer na haar beroep terugkeer nie omdat haar dogter haar volle aandag nodig het.

Tans moet Madeleine en Shanel verhuis, maar sy sukkel geweldig om ʼn woonstel in Bethal te kry wat mense met gestremdhede huisves. Shanel is ook vanjaar op 14 September ernstig beseer toe ʼn gedeelte van ʼn betonmuur op haar geval het toe sy uit haar elektriese rolstoel moes klim om haarself oor ʼn trappie te dra om hul huis binne te gaan. Shanel wag ook op ʼn operasie nadat haar oortromme gebars het.

Madeleine is een van baie enkelouers met spesialebehoeftekinders wat op ʼn daaglikse grondslag geweldig uitgedaag word. Hulle voer daagliks ʼn stryd om oorlewing, want as jy nie geldbronne het wat kan help met behandeling en versorging nie, is daar letterlik geen billike nasionale hulp wat aan ouers gebied word nie.

Dit is ons verantwoordelikheid om as gemeenskap saam te staan en spesialebehoefte-ouers te help waar ons kan.

Johanni Meiring (Foto: Verskaf)

Hoe maak jy ʼn verskil in so iemand se lewe?

  • Moet nie iemand in ʼn rolstoel in die openbaar uitsonder nie, maar hanteer hulle soos jy enigiemand anders sou hanteer.
  • As jy ʼn ouer in die openbaar met ontoereikende geriewe of ʼn siek kind sien sukkel, vra of jy kan help.
  • ʼn Groot glimlag help enigiemand as hulle in ʼn moeilike situasie is.
  • As jy na aan die ouer van ʼn spesialebehoeftekind is, moedig hulle aan om rustyd te beplan, en help hulle om dit te verwesenlik.
  • Word deel van ʼn gemeenskapsprojek, soos Parent Reality (ʼn ondersteuningsgroep vir ouers met spesialebehoeftekinders), wat hierdie ouers ondersteun.

Hierdie rubriek is deel van ʼn reeks rubrieke deur Johanni Meiring in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Ere-ondersteunersnetwerk om bewusmaking te skep van ouers van kinders met spesiale behoeftes en om dié ouers te bemagtig en by te staan. Klik hier om ʼn ere-ondersteuner van Helpende Hand te word of om ʼn bydrae te maak om dié ouers deur die Spesialebehoefte-ouerfonds te help.

  • Johanni Meiring is ʼn lewensafrigter, spesialebehoefte-ouer en medestigter van Parent Reality.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

tweeling ·

Baie sterkte, het ook ‘n gestremde (kwadrupleeg) kind wat baie liefde nodig het. Mag jy krag ontvang vir elke oomblik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.