Uitdagings, oorwinnings van verpleegsters gevier

Foto: (AP Photo/Mary Altaffer)

Internasionale Verpleegsterdag is vandag (12 Mei) wêreldwyd gevier. Vanjaar het hospitale saamgespan om die verpleegsters op die voorgrond te plaas en hul werk behoorlik te vier.

“Daar is nie ’n sterker mens as ’n verpleegster nie. Sy is sterk genoeg om enigiets te kan hanteer, maar ook sag genoeg om enigiemand te kan ondersteun.”

So sê Elize Ernst, ’n vrou wat al die afgelope vier dekades in die verplegingberoep in Rustenburg in Noordwes staan.

Ernst werk al sedert haar studentedae in die teater, maar moes noodgedwonge met die uitbreking van die pandemie ’n saal propvol Covid-19-pasiënte verpleeg.

Die privaathospitaalgroep Life Healthcare vier vanjaar Internasionale Verpleegsterdag deur die belang van verpleegsters in Suid-Afrika te benadruk.

Elize Ernst (Foto: verskaf)

“Ons is uiters trots op die opofferings wat ons verpleegsters elke dag maak om na ons pasiënte om te sien. Hulle het die respek van ’n hele land verdien vir hul dapper pogings tydens die pandemie,” sê Merle Victor, hoofverpleegdiensbestuurder van Life Healthcare.

Dr. Sharon Vasuthevan, uitvoerende hoof van opleiding by Life Healthcare, meen dat die land 26 000 verpleegsters nodig het. Die groep vier hierdie jaar die feit dat hulle ’n bydrae kan maak tot die opleiding van verpleegsters in Suid-Afrika.

Verpleegsters het wêreldwyd swaargekry tydens die pandemie. Hulle moes toesien hoe een na die ander pasiënt aan Covid-19 sterf, hulle moes nuwe uitdagings trotseer en moes hulself druk soos nog nooit vantevore nie.

“Daar is een ding wat konstant bly in verpleging, dis om ’n pasiënt aan te raak terwyl hy of sy op ʼn sterfbed lê. Ons moes daar wees vir hulle terwyl hulle familie nie kon nie,” verduidelik Ernst.

Met vanjaar se Internasionale Verpleegsterdag vier sy ook die glimlagte wat pasiënte dikwels as aanmoedigende bakens van hoop sien.

“Om te glimlag is iets wat sedert Florence Nightingale se dae onveranderd bly.”

Ná die gruweljare wat verby is, is sy steeds opgewonde en passievol oor die beroep.

“Dit maak my opgewonde om die nuwe generasie verpleegsters te sien. Om te sien dat hulle dieselfde passie as jy het, maar dit op ’n ander manier aanpak.”

Hierdie dag herinner haar dat dit belangrik is om Nightingale en wat sy vir verpleegkunde beteken het, te onthou.

“Dis vir my wonderlik dat ons kan voortbou op dít wat sy begin het. Dat ons die passie kan deel en die tegnieke kan verfyn. ’n Oom het nou die dag vir my gesê dat die beste medisyne ’n verpleegster met ’n glimlag is.”

Sy benadruk dat daar weer ’n passie vir verpleging onder jong mense gekweek moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andrew ·

Meerderheid van SA verpleegsters kan maar die dag uitsit want hulle het glad nie die sorg kultuur van Florence Nightingale nie. Dit begin sommer met intrapslag as daar drie na vier keer gepoke word om die aar te tref vir jou drip.

Chantel ·

Ek het ‘n morele probleem met hierdie dag in geheel. Ja hulle is belangrik, net soos dokters, polisie, weermag en en en. Maar dis my eie opinie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.