Uitgestorwe spesie blom weer ná 200 jaar in Winterhoekberge

Nadat Psoralea cataracta in 1804 laas gesien is, is dit deur Brian du Preez, ’n PhD-student in plantkunde aan die Universiteit Kaapstad herontdek toe hy per ongeluk op ’n groep plante langs ’n voetpaadjie naby ’n rivier op ’n plaas in Tulbagh in die Wes-Kaap, afgekom het . Foto: Wiida Fourie

Een van die eerste bekende blomspesies wat in die 1800’s weens bosbou- en landboubedrywighede in die Wes-Kaap uitgesterf het – ’n soort fonteinbos van die ertjiefamilie wat langs bergstrome in die Tulbagh-omgewing voorgekom het, is weer gevind.

Brian du Preez, ’n PhD-student in plantkunde aan die Universiteit van Kaapstad, het die Psoralea cataracta ontdek toe hy onlangs per ongeluk op ’n groep van die plante langs ’n voetpaadjie naby ’n rivier op ’n plaas in Tulbagh-distrik afgekom het.

Tot dusver was Psoralea cataracta slegs bekend as gevolg van ’n enkele spesimen wat in 1804 by Tulbagh-waterval gevind is. Die plantjie is in 2008, ná vele vrugtelose soektogte, amptelik in die rooi datalys van Suid-Afrikaanse plante as uitgestorwe verklaar.

Hy het onmiddellik geweet watter vonds dit was, aangesien hy as vrywilliger reeds lid was van vorige soekpogings in die omgewing van Tulbagh-waterval saam met Custodians of Rare and Endangered Wildflowers. Dié organisasie, wat ook beter bekend staan as CREW beywer hulself vir die bewaring van skaars en bedreigde veldblomme.

“Toe ek daardie delikate garingagtige blomstele sien, het ek gewéét dis Psoralea cataracta,” vertel hy opgewonde.

Prof. Charles Stirton van die Verenigde Koninkryk, Du Preez se medepromotor en ’n internasionaal erkende spesialis van die genus Psoralea, het sedertdien bevestig dat hy inderdaad die lang verlore spesie wat in 1804 laas gesien is, herontdek het.

“Vir my is die uitstaande kenmerke die merkwaardige steunblaartjies, baie lang draadvormige steeltjies, en die unieke blomkleur. Dit is ’n baie belangrike vonds aangesien dit wys hoe die Kaap se bergagtige gebiede nog steeds relatief min nagevors is. Talle van die Kaapse flora kom slegs ná brande op en het ’n kort leeftyd. Hierdie brande kom soms ongereeld voor, en dit maak die kans om op die regte tyd in die regte omgewing te wees, redelik skraal.

“Welgedaan met ’n wonderlike vonds, Brian,” skryf hy in ’n e-pos uit die VK.

Ismail Ebrahim, projekbestuurder van CREW, beaam dat dit ’n uitsonderlike vonds is.

“Dit is werklik ongewoon om ’n spesie te vind wat al vir só lank as uitgesterf beskou is – iets wat vir donkiejare nie gesien is nie. En met Kaapse flora is dit self moeiliker, aangesien die meeste spesies beperk is tot ’n uiters klein gebied en jy dit maklik kan mis as jy nie soms die spoor byster raak nie. Dit bewys net weer die waarde van regte, outydse veldekskursie-plantkunde,” voeg hy by.

Hierdie 26-jarige student het tot dusver reeds ’n reputasie opgebou as ontdekker van lank verlore spesies. In 2016 as honneursstudent in plantkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), het hy twee spesies van die ertjiefamilie – Polhillia ignota en Aspalathus cordicarpa – herontdek wat as uitgesterf beskou is en laas onderskeidelik in 1928 en die 1950’s gesien is. Hierna het hy ook in 2017 sy MSc-graad aan die US behaal met navorsing oor Polhillia.

Vanjaar het hy reeds nuwe spesies van Aspalathus ingesamel wat op sandduine op die walle van die Rietrivier in die Swartruggensberg, noord van Ceres, groei. Hy is tans haastig om die spesie te beskryf, aangesien hierdie gebied van die Rietrivier vir boorduitbreiding uitgewys is.

“Ons kan slegs beskerm wat ons reeds beskryf het. Slegs spesies wat formeel beskryf is, kan rooidatalysstatus verkry, wat dit dan wetlik beskerm teen ontwikkeling, afhangend van die bewaringstatus,” verduidelik hy.

Dit het Du Preez laat besluit om vir sy PhD-studies ’n hersiening van die genus Indigofera in die groter Kaapse Blommeryk, aan te pak. Hierdie diverse genus bestaan uit meer as 100 spesies in die streek, met ten minste 30 nuwe spesies wat wag om formeel beskryf te word.

Hierdie boorling van George het die afgelope ses maande reeds duisende kilometers in sy Nissan-bakkie afgelê. Die gebied wat hy gedek het, strek vanaf die Richtersveld, reg deur tot by die Oos-Kaap en alles tussenin. In hierdie gebied het hy alreeds oor die 60 Indigofera-spesies versamel.

Volgende week gaan hy weer op ’n ekspedisie na die Tuinroete en die Oos-Kaap. September tot November is immers die hoogblomseisoen van Suid-Afrikaanse plante en Du Preez is ’n plantkundige in murg en been.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wonderwerk ·

Dit is wonderlike nuus! Ons gaan nog baie van jou hoor en lees, Brian.

Seeskulp ·

Welgedaan Brian en by voorbaat geluk met jou welverdiende PhD. Mag jou bydrae en kennis nog vele goeie vrugte(blomme) afwerp.

FM ·

Wonderlik
God hou Sy skepping in stand en wag vir jou om dit te ontdek

MAGGIE PRINGLE ·

So trots op jong mense soos jy Brian. So oplettend. Dankie vir jou harde werk om die natuur te bewaar. God wys ons deur hierdie klein plantjies dat hy nog steeds daar is en in beheer is.

Hagar ·

Sal nou graag wil weet wat nou gedoen gaan word om die ontdekte spesie te beskerm en weer te laat floreer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.