Unesco-status wink vir dié SA dorp

Stellenbosch-stadsaal (Foto: Google Maps)

Die Demokratiese Alliansie (DA) is opgewonde oor dr. Darryl David van die Universiteit van Wes‑Kaapland se aansoek om Stellenbosch deur die Verenigde Nasies (VN) se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur (Unesco) as ʼn Afrikaanse dorp van letterkunde te laat verklaar.

Dr. Leon Schreiber, DA-LP en die party se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, sê gegewe die Stellenbosch-streek se trotse geskiedenis as ʼn wieg van Afrikaanse literatuur, moedig sy party Unesco aan om David se bod te aanvaar en aan Stellenbosch die wêreldwye erkenning te gee wat hom toekom.

Indien die bod suksesvol is, sal die Stellenbosch-munisipaliteit amptelik deur Unesco erken word as een van slegs 39 literatuurstede wêreldwyd. Die status as amptelike dorp van Afrikaanse literatuur sal Stellenbosch in uitgelese internasionale geselskap plaas naas ander literatuurstede soos Utrecht, Dublin, Praag, Seattle en Edinburgh.

“Hierdie erkenning sal aan die Afrikaanse letterkunde ʼn amptelike en vaste tuisadres in Stellenbosch gee, en aan toeriste en besoekers net nóg ʼn goeie rede gee om ons pragtige landstreek te besoek,” sê Schreiber.

Hy wys verder daarop dat die DA-beheerde Stellenbosch ʼn trotse vriend van Afrikaanse literatuur en kuns is.

“Die dorp bied elke jaar ʼn reeks feeste en uitstallings aan, en maak ook beduidende beleggings in die beskerming en bevordering van Stellenbosch se unieke kultuurerfenis.”

Die DA se verbintenis tot die beskerming van Suid-Afrika se diverse taalskatte, waaronder Afrikaans, is ook die beweegrede agter die party se voortgesette veldtog om aan Afrikaans gelyke status te gee aan die Universiteit Stellenbosch.

“Dit is slegs deur die grondwetlike reg tot moedertaalonderrig in Afrikaans te beskerm dat ons sal verseker dat Stellenbosch aanhou om die skrywers en kunstenaars te produseer wat die dorp so waardig maak om as die wêreldwye tuiste van Afrikaanse literatuur erken te word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaada ·

Stem nie saam, die Stellenbosch universiteit se houding teenoor Afrikaans versuur die opsie!

Nici ·

Bietjie van ‘n klug. Stellenbosch het dan die enigste Afrikaans universiteit verloor in ‘n provinsie waar die meeste mense Afrikaans praat. Verskoning daarvoor: Ons moet die meerderheid (Afrikaanses) uitsluit om vir die minderheid 3 Engelse universiteite te gee in die Wes-Kaap. Stellenbosch diskrimineer, hulle verdien nie spesiale status nie. As US tweetalig moet wees dan moet UCT en UWK ook tweetalig wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.