UP ontvang reuseskenking van Covid-19-toerusting

(Foto: pixabay)

Outsurance het Dinsdag duisende persoonlike beskermingsitems aan die Universiteit van Pretoria (UP) se Fakulteit Gesondheidswetenskappe geskenk om die departement by te staan in die stryd teen Covid-19.

Die versekeringsmaatskappy se personeel het ʼn skenking van onder meer 20 000 chirurgiese maskers, 20 000 FFP2-maskers en saniteermiddel aan die universiteit se akademici en mediese personeel gemaak. Die skenking sal gebruik word om die fakulteit, die Tshwane-distrikshospitaal en Steve Biko-akademiese hospitaal in Pretoria te ondersteun.

“Hierdie skenking is belangrik omdat ons dokters nie sonder hierdie toerusting kan werk nie. Dit is die kern van alles, en sonder persoonlike beskermingstoerusting kan ons dokters nie in die voorste linies teen die virus staan nie, wat beteken ons sal nie lewens kan red nie,” het prof. Anton Stoltz, hoof van die Departement Aansteeklike Siektes by die UP, gesê.

“As Outsurance wou ons met ʼn instelling in ons omgewing saamwerk omdat ons besef hoe moeilik dit is om hierdie soort toerusting te kry. Ons sien uit daarna om ʼn verhouding met die Universiteit van Pretoria op te bou sodat ons kan help om die Covid-19-pandemie te beveg,” het Suren Naidoo van Outsurance gesê.

Dié universiteit se Fakulteit Gesondheidswetenskappe is betrokke by meer as 30 projekte om die Covid-19-pandemie te bekamp. Sommige projekte sluit kliniese toetse en toetsing in, asook gemeenskapgesondheid en berading, navorsing, kapasiteitsondersteuning en vrywilligerswerk.

“Hierdie pandemie het samewerkingsgeleenthede tussen die universiteit en verskillende instansies geskep. Ons is dankbaar vir die skenking van Outsurance en ons hoop dat dit ander organisasies sal inspireer om ook uit te reik en te help,” het prof. Tiaan de Jager, dekaan van die UP se Fakulteit Gesondheidswetenskappe, bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.