UP-sakefakulteit vier eeufees met bundel

Die geboue van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika se sakewêreld het onlangs ʼn belangrike mylpaal gevier. Dit was tydens die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se 2020-eeufeesvieringe. Dié fakulteit het talle swaargewig sakeleiers en presteerders gekweek wat die plaaslike sakesektor gedien het en steeds dien.

Die vieringe is grootliks deur Covid-19 se gevolge in die wiele gery, maar die fakulteit stel in Augustus vanjaar sy eeufeesbundel bekend, waarin ʼn voëlvlug oor die afgelope 100 jaar gedoen word. Buiten die feite en gebeure verskyn daar ook ʼn paar kostelike staaltjies en verhale oor studente en personeel in dié bundel.

Pret met die proffies

Prof. Joop de Loor (Foto: Verskaf)

In 1938 was prof. Joop de Loor departementshoof van die Departement Statistiek en Kommersiële Wiskunde. ʼn Oudstudent van hom het geskryf dat De Loor elke week huiswerk in rente-rekeningkunde gegee het.

“Die rente en ander berekeninge het ons tot een-, tweeuur snags besig gehou. Studente het gou besluit dat De Loor hiervoor “gestraf” moet word. Dan het hulle hom in die vroeë oggendure gebel. Ek moet byvoeg dat daar in daardie jare ʼn bakkery in Pretoria met die naam De Loors Bakkery was. Ondeunde studente sou die proffie bel en sê: “Prof. De Loor, een van jou broodwaens het omgeval!” Hy sou dan skree: “Dis nie my broodwaentjie nie!” en die foon in sy oor neersit. Die student sou tipies ʼn rukkie wag voordat hy weer bel om te sê: “Skuus dat ons jou gepla het, Prof., maar ons het nou vasgestel dat dit nie jou broodwaentjie was nie!”

Dr. Fanus Gouws, alumnus, onthou dat, toe hy in 1987 ʼn student was, hulle nog “behoorlik” vir klas moes aantrek. Das en al. “Ek onthou asof dit gister was, hoe streng prof. Geert de Wet hierdie reël toegepas het. Hy sou jou maklik uit sy klas jaag as jy nie respektabel aangetrek was nie. Een oggend het ʼn vriend van my vergeet om ʼn das aan te sit. Hy het sy fout besef kort voordat hy klas toe moes gaan. In sy desperaatheid het hy sy kar se leer stuurwieloortreksel afgehaal en dit vir ʼn das om sy nek gebind. De Wet het hom op en af gekyk, en toe maar met sy lesing voortgegaan.”

Die legendariese professor Lombard

prof. Jan Lombard (Foto: Verskaf)

ʼn Gerekende kenner van ekonomiese beleid, prof. Jan Lombard, was vanaf 1961 vir 25 jaar aan die hoof van die Departement Ekonomie. Maar hy was verder ook as ʼn verstrooide man bekend. Nadat die manuskrip van hul gesaghebbende handboek Die Ekonomiese Stelsel van Suid-Afrika voltooi is, was hy en sy mede-outeur, prof. Koos Stadler, op pad na die drukkers toe. Lombard het die getikte manuskrip – die enigste kopie – op die kar se dak gesit om die deur oop te sluit. Sonder om te dink, trek hy toe weg. Bladsye van die manuskrip het die hele Lynnwoodweg in die rigting van Magnolia Dell gestrooi gelê. Hier het iemand gesien wat aangaan en hulle gestop. Gelukkig kon hulle daarin slaag om die meeste bladsye weer op te tel. Studente en dosente in ekonomie het die boek vir dekades daarna nog gebruik.

Lombard het vir nog opskudding gesorg. Hy moes op ʼn dag ʼn vergadering by die Suid-Afrikaanse Reserwebank in die middestad bywoon, maar toe hy in sy kar klim, was die battery heeltemal pap. Hy hardloop toe na Lynnwoodweg en keer ʼn man op ʼn fiets voor. Tot die man se verbasing vra hy toe vir ʼn saamrygeleentheid. Omdat hy egter bang was dat hy laat vir die vergadering sou wees, het hy daarop aangedring om self die fiets te trap, met die fiets se eienaar wat voor op die handvatsels saamgery het. Hy was blykbaar betyds vir die vergadering!

In die 1980’s het Lombard die Buthelezi-kommissie gelei, wat aanbeveel het dat Natal ʼn onafhanklike, multirasstaat binne ʼn konfederale Suid-Afrika moet word. Hoewel die aanbeveling ʼn mate van steun in Natal geniet het, het die nasionalistiese regering van die tyd dit nie gesteun nie. Daar was ook heelwat regse opposisie wat daartoe gelei het dat Lombard se kantoor in die geesteswetenskappegebou een Saterdagnag gebombardeer is.

Lombard se idees het tog tot die herstrukturering van die land in die volgende paar dekades bygedra.

ʼn Eeu se wel en weë

Die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se geboue. (Foto: Verskaf)

In die fakulteit se eerste dekade is die een na die ander nuwe graad bekendgestel en teen 1928 was daar ʼn volle 215 ingeskrewe studente. Die Groot Depressie van die 1930’s het onderrig egter hard getref, sodat die rekordtal van 215 studente eers weer 15 jaar later, in 1943, bereik kon word.

Die uitwerking van die depressie en die Eerste Wêreldoorlog is steeds in die 1940’s gevoel. Vanaf 1943 is ʼn intensiewe ondersoek na die toepaslikheid van die graadprogramme gedoen, waarna die kurrikulum aangepas is en ʼn aantal nuwe programme, insluitend die eerste BCom honneursgraad, ingestel is.

Gedurende die 1950’s het die studentegetalle toegeneem, wat ʼn duidelike teken was dat daar ʼn aanvraag vir handelgraduandi was. Die BCom Rekeningkunde-graad is ook in hierdie jare bekendgestel en dit bly tot vandag toe ʼn vlagskipprogram aan UP.

Die 1960’s is aan die vinnige pas waarteen die Suid-Afrikaanse ekonomie gegroei het gekenmerk. Die fakulteit het op hierdie ontwikkeling gereageer deur nuwe grade vanuit sewe departemente aan te bied. ʼn Nuwe naam het saam met die nuwe groeifase gekom en die Fakulteit Handel en Publieke Administrasie het in 1968 na die Fakulteit Ekonomiese en Politieke Wetenskappe verander.

In die 1970’s is ʼn klomp nuwe spesialiteitsvelde by die fakulteit bekendgestel, soos bemarking, met die eerste Afrikaanse handboek oor bemarking in Suid-Afrika wat uit hierdie fakulteit gebore is. Daar was merkwaardige groei tydens die 1980’s, met meer as 5 000 studente teen die einde van die dekade.

Die fakulteit het nog altyd sy rol in die gemeenskap ernstig opgeneem. Hy wou gefokusde opleiding bied, maar ook ʼn balans tussen teorie en praktyk handhaaf. In hierdie tyd reeds is al die programme wat aangebied is met die behoeftes van die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap in gedagte, ontwikkel.

In die 1990’s het die politieke woelinge die poorte na die res van die wêreld weer oopgegooi. Dit het ook tot groot veranderinge in onderrig en opleiding gelei, soos nuwe graadprogramme in toerismebestuur, statistiek en forensiese ouditkunde. Die fakulteit het ook toenemend op die internasionale bemarkbaarheid van sy studente gefokus en vennootskappe is met internasionale instellings gevorm.

ʼn Hoogtepunt van die 1990’s was die inwyding van die fakulteit se nuwe gebou in 1991 deur die voormalige president FW de Klerk. “’n Nuwe uitdaging lê voor ons: die uitdaging om by die veranderende realiteite van ons land aan te pas, as individue, instellings en gemeenskappe,” het hy tydens sy inwydingstoespraak gesê. Hy het die fakulteit ook vir die bydrae wat dit tot die samelewing maak, die uitstekende publikasies wat dit voortbring en die gehalte van graduandi wat jaarliks opgelewer word, geprys.

Gedurende die 2000’s het die fakulteit veral in tegnologie belê om aan studente toegang tot aanlyn studiemateriaal te bied. Onderrig het daarop gefokus om onafhanklike, kritiese denkers te vorm, asook verantwoordelike leiers en landsburgers. Terselfdertyd het die fakulteit daarop gefokus om die uitdagings van globalisasie en internasionale erkenning die hoof te bied, en om studente voor te berei om op internasionale vlak mee te ding.

Sedert 2000 is talle van die fakulteit se grade deur nasionale en internasionale professionele liggame geakkrediteer. Die fakulteit het ook nou sy aandag daarop begin vestig om ʼn toonaangewende sentrum te word vir nagraadse studies in ekonomie, finansiële en bestuurswetenskappe, asook publieke bestuur en administrasie.

Uitnemende onderrig toe en nou

Een so ʼn groot gees wat by die fakulteit betrokke was, is dr. Anton Rupert, wat die eerste ereprofessor in die Departement Ondernemingsbestuur was totdat hy as kanselier van UP aangestel is. (Foto: Verskaf)

Te midde van al die veranderinge wat die fakulteit oor die afgelope eeu ondergaan het, het hy getrou gebly aan uitstekende navorsing, onderrig, professionele opleiding en entrepreneurskap. Die lang lys van gesiene alumni en personeel wat die fakulteit voortgebring het getuig daarvan, asook die goeie prestasies van sy studente.

Een so ʼn groot gees wat by die fakulteit betrokke was, is dr. Anton Rupert, wat die eerste ereprofessor in die Departement Ondernemingsbestuur was totdat hy as kanselier van UP aangestel is.

Tydens een van sy lesings het hy die volgende opmerking gemaak: “Besigheid is baie soos oorlog. Jou planne moet agtermekaar en in besonderhede uitgelê wees, inligting moet bymekaargemaak en geassimileer word, voor taktiese aksie moet strategiese besluite geneem word, en selfs dán moet die verwagting wees dat die werklike stryd ongeorden, onseker, onvoorspelbaar en onduidelik sal wees. Dit is in hierdie domein wat die werklike sakeleier sy krag bewys.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.