US-studente vaar puik in tawwe eksamen

Hanne Mertens. (Foto: Verskaf)

Hanne Mertens, ’n alumna van die Universiteit Stellenbosch (US), skryf haar sukses as die toppresteerder in die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) se eerste professionele eksamen, die Aanvanklike Toets van Bevoegdheid (ATB), van 2021 toe aan ’n gebalanseerde en koersvaste lewens- en studiebenadering.

Die ATB, wat in April vanjaar afgelê is, is die eerste van twee SAIGR-eksamens wat individue moet slaag om as geoktrooieerde rekenmeesters in Suid-Afrika te kwalifiseer.

“Balans het my gehelp om fisiek en emosioneel gesond te bly en om my alles in alle aspekte van die lewe te gee,” sê Mertens, wat in 2020 haar BRek-honneursgraad cum laude geslaag het.

“Balans is alles. Van die groter prentjie tot die detail – balans tussen ‘werk’ en ‘speel’, pouses en leertyd, tussen teorie en praktiese oefening, tussen die besteding van tyd aan afdelings wat jy geniet of goed in is en afdelings wat nie jou beste of gunsteling is nie.”

Mertens werk tans as ʼn kandidaat-ouditeur by Deloitte VK. Sy sien haarself in die toekoms steeds in die finansiële konsultasie- en raadgewende dienstesektor, aangesien sy baie lief is vir die finansiële ontleding en mens-gedrewe sy daarvan.

Sy oorweeg dit ook om vir ʼn meestersgraad te studeer. “Wanneer ek studeer, stel ek ’n konstante maatstaf vir myself – dit is om soveel van die werk as moontlik te verstaan, eerder as om net die inligting vir die volgende toets in te stop – en om van die begin af hierby te hou.

“Ek het op universiteit baie ure as tutor aan rekeningkundemodules bestee deur dit aan ander te verduidelik en ek het ’n waardering vir die werk gevind.”

Mertens is in Port Elizabeth gebore en getoë en het aan die Hoërskool Pearson gematrikuleer as die Oos-Kaap se beste graad 12-leerder.

Tydens haar grootwordjare het sy besef daar is baie veranderings wat sy graag in die sakewêreld wil sien.

“Deur hard te werk en sukses te behaal, kan ek op ’n plek kom waar ek ’n invloed op mense kan hê en hierdie veranderinge kan aanbring.”

Akademiese sukses

Nóg vier kandidate van die US het onder die top-10 landwyd geëindig en almal het die eksamen met lof (75% of meer) geslaag: Sadiyah Wahab (6de plek), Cameron Rencken (8), Cayley Tarr (9) and Stefano Filippi (10).

Altesaam 314 studente van die US se Skool vir Rekeningkunde (SvR) se 2020-HonsBRek-klas het in April die eerste eksamen afgelê. Dit is die meeste van al 16 residensiële universiteite en private instellings wat by die SAIGR geakkrediteer is om voornemende geoktrooieerde rekenmeesters op te lei en maak die SvR die grootste residensiële verskaffer landwyd wanneer dit op hierdie grondslag gemeet word.

Die SvR se 2020-HonsBRek-klas het ’n 96%-slaagsyfer in vanjaar se ABT-eksamen behaal, wat hoër is as die 81% in 2020. Die SvR is gesamentlik tweede op die ranglys saam met die Universiteit van Kaapstad (UK). Die Universiteit van Pretoria het heel bo geëindig met ’n 100%-slaagsyfer. Die algehele nasionale slaagsyfer vir eerste pogings was 70%.

Die US het ook die grootste algehele slaagsyfer landwyd behaal met 301 kandidate wat geslaag het. Die UK was tweede met 231 kandidate wat geslaag het.

“Die uitmuntende prestasie van ons HonsBRek-studente in die ATB beklemtoon nie net die gehalte van die onderrig van die SvR op ’n baie konkrete en sigbare wyse nie, maar ook die gehalte van die studente wat die skool lok,” sê prof. Pieter von Wielligh, direkteur en visedekaan: Skool vir Rekeningkunde aan die US.

“Die Skool is trots op die uitstekende prestasie van sy 2020-honneursklas wat nou die sakeleiers van die toekoms is – en dít te midde van al die uitdagings wat akademici, studente en alumni sedert Maart verlede jaar weens die pandemie ondervind het. Dit is werklik ’n merkwaardige prestasie.”

Prof. Ingrid Woolard, dekaan van die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe, voeg by dat sy trots is op die uitslae.

“Dit is wonderlik om hierdie eksterne bekragtiging te ontvang dat ons die top‑ residensiële universiteit vir rekeningkunde-onderrig is. Ons personeel werk ongelooflik hard om toe te sien dat ons studente die beste moontlike grondslag ontvang ten einde die professionele eksamens suksesvol te kan aflê.”

Die instituut het in ’n verklaring gesê baie studente het die uitdagings en negatiewe uitwerking van die Covid-19-pandemie in geleenthede omskep.

“Hierdie kandidate moes oneindig baie struikelblokke oorkom om te slaag, en het hulle uitstekend van hul taak gekwyt,” sê Freeman Nomvalo, die hoof- uitvoerende beampte van SAIGR.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.